Die Katriviervallei is bekend vir sy geurige sitrusreuke en ook die Robertsstamnaam. Die eerste Roberts het in 1820 aan wal gestap as deel van die Britse setlaars en van sy afstammelinge het hulle in 1903 tuisgemaak op die plaas Baddaford.

By die plaasstal se deur staan kratte vol lemoene, nartjies, pomelo’s en suurlemoene. Van Mei tot September sal jy ook avokado’s en pekanneute hier kry. Die eetkamer is heerlik koel, maar dis buite op die stoep met sy rietdak waar jy die lekkerste kuier. Lê weg aan tuisgemaakte pasteie en souttertjies of ’n hamburger en vra uit oor die akteur Ian Roberts van die Kalahari Boere-Orkes – hy kom uit dié geweste.

Koop voor jy padvat konfyt of ingelegde lekkernye vir die mense by die huis.

Waar? Sowat 7 km noordwes van Fort Beaufort op die R67.
Kontak: 046 645 1215