Maak seker jy hou by die Canyon Roadhouse (ook bekend as die Canon Roadhouse) stil wanneer jy die Visriviercanyon in Namibië besoek. 

Dié restaurant is net 20 km van die Visriviercanyon se uitkykpunt af en beslis die moeite werd om by af te trek voor of ná ’n uitstappie aan die canyon. 

Loop rond en neem ’n paar interessante foto’s van al die ou motors soos Fords, Chevy’s en DKW’s wat buite in die voortuin van die Roadhouse staan. Die kleinspan sal van die modelle wat hier hulle laaste rusplek gevind het herken as van die karakters uit Disney se animasieprent, Cars. 

Hier is ook ’n paar kokerbome, ’n visdam en ’n groen grasperk wat dié plek ’n oase maak in die dorre landskap. 

Die Canyon Roadhouse het net so baie skatte binne as wat daar buite in die tuin rondstaan. Jy kan lank hier ronddrentel en jou verkyk aan al die interessante nommerplate, padtekens en naamborde wat teen die mure opgesit is. Maak jou reg om lekker te lag vir die lawwighede en tong-in-die-kies sêgoed wat van dié bordjies vertoon. Moet dus nie haastig wees nie en teug rustig aan die Pompstasie-kroeg se bier.  

Die kos is heerlik. Probeer gerus die hamburgers (R100), maar wees gewaarsku: Porsies is groot en die patties is lekker dik! 

Hier is gratis Wi-Fi en geskenke, klere, speelgoed, juweliersware en vele ander snuisterye te koop. 

Maak ’n draai by kennisgewingbord by die restaurant se ingang om te kyk hoe ver jy moet ry tot by jou volgende bestemming (Ai Ais: 80 km; Kaapstad: 980 km; Windhoek: 650 km). En maak jou motortenk vol vir die volgende been – die vulstasie is oop tussen 7 vm. en 5 nm.

Op die kennisgewingbord is daar ook inligting oor staproetes, verblyfopsies en aktiwiteite. 

Oop Elke dag van die week.  

Kontak +264 63 683 111; roadhouseadmin@gondwana-collection.com; https://store.gondwana-collection.com/accommodation/canyon-roadhouse

GPS 27°52’43.48”S  17°81’47.92” E