Die gebou waarin Columbine Co. is, is oorspronklik ’n bokkomhuis wat al dekades aan Danté se familie behoort. Vir jare is bokkoms hier gedroog, maar in 2017 het hy begin om die plek op te knap en reg te kry vir sy koffiewinkel wat in Maart 2018 oopgemaak het.

Jy kan binne op die spartaanse houtmeubels sit, jou tuismaak in die leeshoekie en selfs die kitaar nader trek en tokkel as jy sou wou. Buite op die stoepie is ook sitplek as jy oor die Bergrivier wil tuur en voëls kyk, want hier op die oewer sal jy pienk flaminke, visvangers, reiers, eende en selfs ’n pelikaan of twee te siene kry.

Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke

Danté glimlag vriendelik van agter die toonbank terwyl hy jou bestelling neem en jou koffie of tee maak.

Die Americano (R20) is heerlik en jy kan gerus ook die warmsjokolade (R25) of organiese rooibos bestel as jy nie lus is vir koffie nie.

Danté sê hy wou ook aan teedrinkers meer opsies gee en daarom is daar ’n verskeidenheid tee op die spyskaart.  Jy kan kies uit verskeie soorte, soos die cocoa chai en pinotage-rooibos en tee word afgeweeg en in ’n pot bedien. ’n Pot tee kos net R37 en jy kan 2 koppies daaruit skink!

En as jy lus is vir iets koels nadat die Weskusson jou so ’n bietjie op die rivier beetgekry het, bestel een van die koue vrugtesappe of alkoholvrye drankies, onder meer ’n alkoholvrye jenewer.

Danté bedien ook broodjies waaraan jy kan knibbel, maar wees gewaarsku: Hier word elke dag slegs ’n beperkte aantal toebroodjies van suurdeegbroode gemaak en as dit op is, is dit op. Met ons besoek kon jy kies tussen een met geroosterde groente en pesto, of ’n broodjie met tradisionele Israeliese shakshuka (gekookte eiers, speserye en tamaties) en tahini-sous.

Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke

Jy kan ook suurdeegbroode (R45) bestel om huis toe te neem en daar jou eie toebie aanmekaar slaan. Danté verkoop ook bokkoms, heuning, granola, ingelegede vrugte, kombucha, beskuit, koekies en koffiebone. 

Oop: Woensdag-Sondag: 9 vm.- 4 nm.

Waar? Bokkomlaan 9, Velddrif

Kontak:  061 771 7518; www.facebook.com/TheColumbineCo/; www.instagram.com/columbine_c

Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke