As jy weer op die R43 van Worcester af na Ceres, Wolseley of Tulbagh ry, hou jou oë oop vir die Hillbilly-padstal – jy kan nie die helder metaalwindpompe op die sinkdak en grasperk maklik miskyk nie! Die padstal lyk soos ’n Wendyhuisie op die hoek van Hillbilly Farm, ’n lappie groen duskant Ceres waar Tanith en Steven Matthews boer.

Buk by die deur in en gaan loer wat als binne is – van miniatuurwindpompe van metaal (Steven doen die metaalwerk self) tot houtspeelgoed, ingelegde vrugte, kaas en braaipakke (R55). Koop gerus ook ’n brandrissiesous: Tanith-hulle kweek 20 verskillende soorte brandrissies hier – onder meer die berugte Carolina Reaper, een van die sterkste brandrissies ter wêreld wat die sweet behóórlik sal laat aftap.

Strek buite jou bene, kyk hoe skrop die hoenders, en tel hoeveel ngunibeeste jy sien. Jy kan ook ngunibeesvelle koop (R3 800 elk), maar dié kom nie van die plaas se eie beeste nie (die eienaars is glo veels te lief vir hulle)!

Jy kan piekniek hou by een van die tafels in die skaduwee of ’n ligte middagete bestel (’n hoender- of wildspastei kos R25, en ’n Dagwood-broodjie R65). Koffie-en-koek is R35.

Hillbilly Farm het ’n paar basiese gesinskamers met slaapplek vir vier of ses mense indien jy hunker na nog ’n stukkie plaaslewe: Kies tussen “The Roost”, “The Bunker” en “The Cowshed” (R800 per nag vir vier mense buite seisoen; R1 000 per nag in die spitsseisoen). Hier is ’n gemeenskaplike kombuis en braaiplek.

Waar? Draai net voor Worcester van die N1 af op die R43 in die rigting van Ceres. Draai ná 37 km regs op die Wolwekloofpad – die padstal is op die hoek van die R43 en dié pad.

Oop: Ma.-Sa.: 9 vm.-5nm.; So.: 9 vm.-4nm.

Kontak: 0618193577; hillbillyfarm.co.za. Soek vir “Hillbilly Farm” op Facebook.