Appie en Marietjie Viviers se Boeteka-padstal is die soort plek waar jy vir ’n koffie inloer en dan met ’n vrag inkopies wegry. Want wie kan dan nou “nee” sê vir wildspastei, tuisgemaakte blatjang, ’n pakkie mosbeskuit, outydse loslekkers of biltong?

Marietjie se kisvrieskaste het soveel verskeidenheid dat ’n mens nie weet wat om te vat en wat om te los nie... op die ou einde stap ’n mens dus maklik hier uit met ’n halwe lam én ’n paar pakke skilpadjies. Noem die snit, dis hier. En as dit nie in voorraad is nie, kan die personeel dit voor jou aankoms regkry – gee hulle net so twee dae voor die tyd ’n luitjie om seker te maak of ’n spesiale bestelling te plaas.

Buiten vleis het Boeteka ook rakke vol snuistery. Hier’s velle en geweersakke, geskenkies, tweedehandse boeke... dis so ’n lekker iets-van-alles plaaswinkel. En by die restaurantjie kan jy ook aansit vir iets te ete.

Oop Daagliks van 7 vm.-6 nm. oop in die vakansie (hulle keer middel Januarie terug na die gewone ure: 8 vm.-5 nm.)

Waar? Langs die N12,  sowat 14 km van die T-aansluiting met die N1.

Kontak 072 739 5311; www.facebook.com/boetekaPadstal