In die suide van Namibië is alles vrekver uitmekaar, en elke plekkie langs die pad is ’n moontlike oase waar jy kan bene rek en hopelik iets kry om die honger kol op jou maag te vul wat al sedert Vioolsdrift knaag. 


Jy gaan nie by die Lisbon Roadhouse in die Maltahöhe-omgewing langs die C14 aftrek omdat dit interessant lyk nie, maar bloot omdat dit daar is. Moenie enige tierlantyntjies verwag nie; is netjies en jy kan wegneemetes bestel of aansit vir iets te ete. 

As die donker jou inhaal, kan jy selfs jou tent hier opslaan. Hier is ook ’n winkeltjie as jou tandepasta op sy einde is.

Waar? 39 km suid van Maltahöhe op die C14 (jy ry hier verby as jy na Helmeringhausen of die Duwiseb-kasteel toe ry). 

Kontak *00 264 63 293 107