Die een ding wat nog nie verander het nie (en dalk Nanaga se lang lewe verduidelik), is hoe gewild hulle pasteie en roosterkoeke is – al twee is legendaries. Pasteie kos R20-22 (of vanaf R100 vir ’n gesinsgrootte pastei) en sluit ongewone vulsels soos lamsvleis-en-kruisement en wildevark in. Die roosterkoeke begin by R6 vir ’n gewone een tot R11 vir een met botter en konfyt, R27,50 vir ’n maalvleisroosterkoek en R53 vir een met ’n eksotiese vulsel soos kroningshoender – alles in die kindervriendelike restaurant.

foto
Foto: Dave Buchanan

Die roosterkoeke vind trouens hulle weg tot in baie van die goed op die restaurant se spyskaart; en jy kan selfs deeg koop om huis toe te vat sodat jy jou eie roosterkoek oor die kole te bak.

Buiten dié staatmakers is hier ’n eindelose versameling van brood, koekies, konfyt, sap, koek, koeksisters – elke padstal-lekkerny waaraan jy kan dink. Die geskenkwinkel het kombuisware, snuisterye (sommige bruikbaar en ander net vermaaklik) en verjaardaggeskenke.

Nanaga bied ook nou en dan veldwedlope en bergfietsrenne aan; en as jy ’n plattelandse trou- of konferensieplek soek, kan hulle ook help. Hoe lank nog voor hierdie bekende padstal ’n vakansiebestemming in eie reg word?

foto
Foto: Dave Buchanan

Waar? N2-R72-N10-kruising, Alexandria, Oos-Kaap, 55 km van Port Elizabeth af (GPS S33.607631 E25.919806).

Oop: Maandag tot Sondag: 8 vm.-5.30 nm.; openbare vakansiedae, buiten Kers- en Nuwejaarsdag

Kontak: 041 468 0353; nanaga.co.za