Rek eers jou bene in die geskenke-afdeling. Hier kan jy rustig  ronddrentel en loer na kussingslope, tuigesmaakte rissiesouse, blatjang en konfyt. Koop wyn uit die omgewing en ondersteun die plaaslike gemeenskap van Eersterivier wat ook hier geborduurde items verkoop.

As jy klaar deur al die snuisterye, bottels inmaakgoed en geskenke geloop het, kan jy na die restaurantgedeelte beweeg. Hier brand ’n vuurtjie in die wintermaande en koeke en terte staan net reg om geëet te word. 

Die restaurant is ruim en jy kan binne of buite op die stoep sit. Ruim gerus tyd in om hier aan te sit en moenie wegry voor jy nie die roosterkoeke probeer het nie, koop sommer ekstra vir die pad ook. Roosterkoeke word saam met die meeste disse op die spyskaart bedien, maar dis ook lekker met kaas en konfyt saam met koffie voordat jy verder ry.

Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke

Die ontbyte is heerlik, die Tsitsiakmma special (R80) is gewis ’n winskopie met spek, eiers, kaaswors en roosterkoek. Die roosterkoek met spek, feta en avokadopeer (R40) saam met ’n cappuccino (R25) sal genoeg wees vir middagete en vir die jongspan is daar ook ’n spyskaart met onder meer gekrummelde hoenderstukkies en skyfies (R36).

Terwyl julle wag vir die kos, stop vir elke kind ’n R5 in die hand vir voer en laat hulle los in die tuin waar hasies, eende en hoenders gretig op kos wag.

As julle klaar geëet het, kan jy op pad uit ook ’n paar items op jou daaglikse inkopielys afmerk, want die padstal verkoop basiese items soos olie, suiker, koffie, tee, vars melk, kaas en lekkergoed in die winkelgedeelte van die padstal.

Waar? Op die hoek van die R102 en die Eersterivierpad. Neem die Eersterivier- (Kareedouw) afdraai van die N2 af en draai dan in die rigting van Eersterivier.

Kontak: 042 285 0562; 082 307 2789; oudeboschfarmstall@igen.co.za; oudeboschfarmstall.co.za

GPS: S24.234761; E34.005589

Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke