Die Overberg het g’n tekort aan padstalle nie, maar die Rolandale Restaurant & Farmstall staan letterlik uit – dié gebou is heldergeel geverf. Ek was op pad van Suurbraak na Swellendam op die N2 toe dié heldergeel letters my oog vang: Roosterkoek.

Dít kan ’n mens nie ignoreer nie.

Rolandale is nou wel ’n plaasstal, maar Swellendammers kom ook hierheen vir gesinsetes en om van al die Europese toeriste te ontsnap.

’n Mens sou nie dink dat ’n plek wat langs die N2 geleë is, juis ’n vredige kol kan wees nie. Maar as jy hier sit met die groen grasperke en die Langeberg wat voor jou uitgestrek lê, vergeet jy gou van die lorries op die N2.

Hier is klimrame vir die kleintjies (een lyk soos ’n skip), en tafels onder die bome vir Ma en Pa. Troeteldiere is ook welkom. Binne wys ’n TV in die hoek die dag se belangrikste sportwedstryde.

As jy hier sit met die groen grasperke en die Langeberg wat voor jou uitgestrek lê, vergeet jy gou van die lorries op die N2.

Vars lemoensap kos R20 en filterkoffie slegs R12! Op die spyskaart is staatmakers soos hamburgers (R40-R45), hoenderstukkies en slaptjips (R35), pasteie (R25) en roosterkoek met verskeie vulsels soos eier en spek (R40) en Nutella (R30).

’n Groot bord slaptjips kos R30. Die proviand binne het ook heel billike pryse en ek kan nie anders nie as om ’n sakkie gemaalde koffiebone (R77) te koop. Die rakke is vol tee, konfyt, juweliersware en breekgoed in verskeie kleure en style. ’n Sepie met ’n koei op die papier lees “Moo’se lekker seep”.

Moo’se lekker padstal, sou ek sê.

Waar? 8 km oos van Swellendam, langs die N2

Oop: Elke dag van 8 vm. tot 5 nm.

Kontak: 028 512 338