Mosaïektrappies lei jou na ’n kuierstoep en groen grasperk waar jy vir ’n oomblik kan asem skep en vergeet van padvarke en slaggate. Sit op die rusbank op die stoep of by ’n piekniektafel op die gras en tuur oor die Langeberg in die verte terwyl jy wag vir jou Oreo-melkskommel.

Die padstalkombuis maak heerlike ligte etes soos ’n geroosterde toebroodjie met spek, eier en kaas of quiche met slaai. Loer na die swartbord op die stoep vir die spyskaart – jy kan ook ’n wegneemete bestel.

As die kinders rooimiere het ná die lang pad, laat hulle op die klimraam klouter en aan-aan op die gras speel.

Spanspek se plek

Binne kan jy jou beursie uithaal vir spensgoed soos vars vrugte en groente, biltong, beskuit, koekies, loslekkers, ingelegde lekkernye soos geelperskes en olywe, en vleisprodukte soos kaaswors en skilpadjies. Jy kan ook ietsie moois soos ’n gebreide mus of keramiekware vir jou geskenkelaai by die huis koop.

Waar? Sowat 31 km noordwes van Swellendam op die R60.

Oop Weeksdae 9 vm.-4.30 nm. (gesluit op Dinsdae). Saterdae 9 vm.-1 nm. en Sondae 9 vm.-4.30 nm.

Kontak 083 236 9216; spanspekseplek.co.za