’n Paar dinge is noodsaaklik vir ’n Sondagbraai wanneer ons gesin saamtrek: Warm kole, goeie weer en kerriesosaties van The Boer & Butcher. En as ons die slag die spyskaart ’n bietjie wil opkikker, gaan draai ons ook eerste by The Boer & Butcher. Hoe klink ’n rol perskewors? 

Edu Hanekom, die stigter, het in 2013 die eerste slaghuis in Durbanville oopgemaak. “Ek het ’n 60 m²-haarsalon in ’n slaghuis omskep; ek het geen ervaring gehad as kleinhandelaar nie,” sê hy. “Ek wou net my huur betaal en het twee personeellede gehad – hulle werk nou nog saam met my.” Die vleis het oorspronklik net van Edu-hulle se familieplaas op Darling gekom.

Vandag is daar takke op Stellenbosch, Durbanville, Boston (Bellville), en verskaffers reg oor Suid-Afrika. Terwyl jy met die R44 verby die Stellenbosch Square-sentrum ry net buite die dorp, is die kenmerkende swart bulhorings van ver af sigbaar teen die kant van The Boer & Butcher se gebou.

Die versoeking is groot om vinnig in te loer. Maar jy sal dalk moet toustaan, veral oor ’n naweek net voor middagete: Hier is vleiskoop ’n saak van erns. 

Sit tyd opsy om die yskaste te fynkam: Van perskewors (R99/kg) en kerriesosaties (R150/kg), verouderde rumpsteak (R145/kg) en lamsnitte (R150/kg vir kerrielamstjops), dik burgerpatties (R110/kg) en groot plaashoenders (R163 vir 2,33 kg), tot skaapstertjies (R43) of -tong (R70) vir die meer waaghalsiges. ’n Mens kan vleis in grootmaat bestel; dis goedkoper.

Stop dan by die biltongtoonbank en koop ’n sakkie biltong (of twee, óf drie – dit kos R44 vir ’n pakkie, R290/kg). 

Die rakke staan ook vol speserye (R39 vir die huisreeks), souse (R38 vir die Boer & Butcher-rissiesous); of probeer ’n Sweet Baby Ray-braaisous (R75), olyfolie (R80/500 ml) en bevrore maaltye (R120 vir Indiese botterhoender).

Teen druktyd was die Bistro-afdeling van die winkel steeds gesluit volgens die regulasies van die nasionale inperking. Hopelik word die tafels in die oop binnehof van Stellenbosch Square weer uitgepak láter die jaar. Bestel dan gerus die Boer & Butcher-biefburger (R90). Daar’s selfs opsies vir ’n verdwaalde vegetariër (probeer die ontbyt, R70). 

The Boer & Butcher se vierde tak maak later die jaar oop in die Paarl. “Ons wil beslis werkgeleenthede vir meer mense skep en onsself mettertyd as ’n nasionale handelaar vestig,” sê Edu. 

Meer inligting: boerandbutcher.co.za  

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.