Een vakansie het ons op die N1 teruggery huis toe uit die Kaap. Hier rondom Colesberg wou ons stilhou om iets te eet, maar die Shell Ultra en die Engen is toegeparkeer – dit was 30 Desember. Ek loer op Google en die Waterwiel Bakhuis op Trompsburg in die Vrystaat klink belowend. 

Daar gekom, draai ’n waterwiel waar die water elke keer saggies terugplons in ’n poeletjie. Die kleurryke winkeltjie lyk soos die huisie waarop Hansie en Grietjie moet afgekom het. 

Hier bak die eienaar alles self – van die beste pasteie, kerrie-en-rys, vetkoek en maalvleis... Hy is ook ’n melktertmeester van formaat; hy bak nie die terte wat mense vandag aan jou verkoop wat so styf soos tennisballe is nie, maar daardie wat Ouma en Oumagrootjie nog gebak het.

Die koeksisters is só vars, die stroop loop weerskante van jou mond af, maar hou plek vir die jêmtertjies, nè. Sorg dat die Waterwiel Bakhuis op jou toerplan is as jy weer op die N1 ry.

Kontak: 082 622 8600; www.waterwielbakhuis.co.za

Oop: Elke dag van die week 6 vm.-9 nm.