Ja, in die winter is dit jagwêreld, en by die Vivo-vleismark kan jy wildsbiltong (R167/kg) koop om jou spenskas vol te pak vir die maer maande. Beesbiltong kos R290/kg, beesdroëwors R230/kg en die gewilde

babelasdroëwors (cabanossi met ’n rissiegeursel – koop meer as wat jy dink jy nodig het!) R210/kg. ’n T-beenskyf kos R129,90/kg.

Hier is ook ’n verskeidenheid varkvleisprodukte en dis veral lekkernye soos die oepsies en die gevlegte varkspeksosaties wat as braaivoorgereg jou buurman gaan jaloers maak.

Hout, houtskool en braaitange is te koop, asook Bergh-souse (jy sal dit ken as jy in Limpopop bly) soos Kranskop-rooipepersous en Wolkberg- en Ysterberg-blatjang (laasgenoemde is vir die ouens wat nie bang is vir tongbrand nie).

Op die rakke sal jy ook ongewone goed soos okkerneutolie.

Plaaslike gebak soos beskuit, koekies en fudge is ook te koop.

Indien jy self ’n jagter is en iets in die omgewing kom skiet het, kan jy die bok by Vivo-vleismark aflaai om bewerk te word. Jy kan ook vooraf vleis bestel en dit laat opsny in die snitte wat jy verlang.

Waar? Op Vivo, langs die Viva-vulstasie.

Oop: Ma.-Do. 7.00 vm.-5 nm. ; Vrydae tot 6 nm. en Saterdae 8 vm.-1 nm.

Kontak: 015 593 0054/96, 073 898 5820 of stuur ’n e-pos na navrae@vivovleismark.co.za