Die Woestynkombuis in Maltahoë se hoofstraat gaan jou verras. Stop gerus hier op pad of van Keetmanshoop af (jy ry met die C19 deur die dorpie) en maak seker jy het genoeg tyd om deur hierdie skatkis rond te dwaal. 


Hier is genoeg in die winkel om te sien, lees en doen terwyl jy wag vir jou kos. Begin lees aan die honderde boodskappe wat vorige reisigers en besoekers hier teen die mure geskryf het. Jy gaan ook staar na oudhede uit dae toe tikmasjiene, langspeelplate en kassette nog die norm was. Hier is selfs ’n stokou golfstel en ’n besem op pad badkamer toe. Die winkeltjie se badkamermure is net so vol leesstof, beplak met bladsye uit ou tydskrifte, geldnote van oor die wêreld heen en koerantuitknipsels. 

Heerlike ligte etes word bedien en besoekers help hulleself aan tee, koffie en warmsjokolade. Dié drankies is R17 elk. Geroosterde broodjies kos R40 en jy betaal R5 ekstra as jy ’n eier by soek. Ontbyte kos R80 waarvan die omelette lekker groot en vol lê van die vulsel. (Jy kan kies uit ’n paar vulsels). Vir die soettande is daar appelkoek (R30 ’n sny), fudgeblokkies en allerhande lekkergoed. En soms, sê die eienaar, Joryn Niemand, bak haar man Boetie, jaffels, pasteie en pannekoek. 





Waar In Maltahöhe se hoofstraat by die Total-vulstasie. (Die hoofstraat is die C19 wat deur die dorpie loop op pad/van Keetmanshoop af).

Oop Elke dag van die week, die heel jaar behalwe op Kersdag; 7 vm.- 5 nm.

Kontak +26 4 63 293 154

Facebook: Woestynkombuis