Maar jy hoef nie dorp-in te ry nie: Al hierdie dinge is mooitjies te vinde by die Zeederberg-sentrum op die noordelike rand van Vaalwater. Dis pure Bosveld met ’n paar bokkoppe teen die Total-vulstasie se muur, ’n winkel van die Kamatsogo-projek waar jy tafeldoeke, kussingslope, voorskote en juweliersware kan koop wat deur plaaslike vroue vervaardig is.

Hier is ook ’n Spar, ’n buiteleweklerewinkel, ’n kunsgalery én die Seringa Café. Laasgenoemde het tafels binne en buite onder ’n paar koeltebome en bedien enigiets van klapper-hoenderkerrie met rys tot wildsburgers. Die restaurantjie het ook ’n rakkie vol tweedehandse boeke by die deur waar jy teen ’n klein skenking vir jou leesstof kan kies.

Hier raak ’n mens só lekker aan die kuier jy vergeet skoon jy moet nog huis toe ry!

Waar? By die R517 se aansluiting met die R33.

GPS: S24.28571 E28.10170

Kontak: 082 332 7088