As jy tussen Klerksdorp en Kimberley reis op die N12 kruis jou pad  genadiglik met die Biltong Den, ’n groot gebou met ’n groen dak in die dorpie Wolmaransstad. 

Rolene Potgieter het die Biltong Den in 1987 in ’n beskeie geboutjie begin, maar moes vinnig aanbou soos die plek begin naam maak het. 

Wanneer jy hier instap, is jy sonder twyfel in ’n biltongparadys: hompe biltong (nat en droog) hang aan hake en jy kan kies tussen beesbiltong, wildsbiltong (meestal koedoe en gembok), droëwors (bees en wild, dik en dun, met of sonder brandrissie) en cabanossi. Jy kan groot stukke koop en huis toe neem of dit laat kerf.

Buite die winkel beloof die reklame “It’s Mouth Watering”. Inderdaad so, die N12 raak gou-gou korter met ’n stukkie biltong in jou kies. En jy sal wil ekstra koop vir jou mense by die huis. Koeriers van heinde en ver stop dikwels hier om gereelde kliënte se biltong op te tel.

Waar? Broadbentstraat 16, Wolmaransstad
Kontak: 018 596 1938