Joseph Matheatau vat ráák. Sy hande beweeg sekuur oor die koffiemasjien van knoppie na tuit na hefboom – ’n mens sou nie sê hy’s blind nie. 


Maar dié man wat hier in Kaleidoscope (voorheen die Instituut vir Blindes genoem) se restaurant diens doen, dwing op sy stil, vriendelike manier soveel respek af dat ek sommer dadelik nóg ’n cappuccino bestel sodra my eerste een klaar is.


Ek is vroeg vir ’n ontbytafspraak met ’n vriend en sit in die Blindiana Barista op Kaleidoscope se perseel vir Joseph en dophou. Ander gesiggestremdes kom ook deurgestap en daar word luidrugtig op voornaamterme gegroet. Dis ’n besonderse plek, dié. Jy kry ’n blik op ’n wêreld waarvan ons siende mense min weet, maar terselfdertyd sit jy ook gemaklik agteroor, omring deur die bekende geure en geluide van ’n koffiewinkel waar dinge glad loop, die dekor mooi is (haai, maar dis mos Braille-tikmasjiene teen daardie muur!) en die spyskaart se verskeidenheid tevrede klante verseker. 


Blindiana sit van ontbyte en roosterbroodjies tot burgers, slaaie, wraps en ook ’n verskeidenheid koek voor. En die pryse is verbasend billik: sowat R45 vir ’n stewige ontbyt, R35 vir ’n ham-kaas-en-tamatie-roosterbroodjie, R25 vir ’n gróót sny koek en slegs R15 ’n koffie. En saam met elke koppie kry jy ’n broskoekie waarop die versiersuikerklontjies in Braille lees “EAT”. 







Joseph, hoe lyk dit met nog ’n cappuccino, ’seblief?


Wat nog? In die restaurant se agterplaas is ’n opelug-fossieluitstalling (kompleet met die naamplaatjies in gewone letters sowel as Braille geskryf!), sowel as ’n lokaal met ’n groot versameling gesteentes en langaan ’n kunsgallery waar jy in werke van plaaslike kunstenaars sowel as die Kaleidoscope-inwoners kan belê. Maak ook ’n draai by die winkel net ’n hanetree op in Kerkstraat waar houtbanke, geweefde matte, matrasse en rottangwerk wat alles hier op die perseel vervaardig word, te koop is.


Waar? Kerkstraat 134, Worcester


Oop? Maandae -Vrydae: 8 vm.-5 nm. Gesluit op Saterdae, Sondae en vakansiedae.


Kontak 023 342 1130 (Blindiana Barista)