Panama Jacks het in 1989 oopgemaak as ’n bootwerf vir die Royal Cape-seiljagklub in die Kaapstadhawe, maar deesdae is dit een van die beste seekosrestaurante in die stad. Die restaurant se blou dak staan uit bo die grys industriële geboue van die bedrywige hawe. 


Sodra jy instap, neem ’n kelner jou na een van die houttafels. Vra om by die venster te sit – op ’n mooi dag sien jy Tafelberg tussen die geboue en skeepvaarthouers deur.

Die landsvlae wat van die dak af hang, die vistenks (met krewe en perlemoen) en die nette teen die mure skep ’n soort seerower-atmosfeer, maar die donker beligting en die kerse wat op die tafels brand maak dit heel romanties. 

Die kos- en sushi-spyskaarte bied ’n groot verskeidenheid en by die kroeg kan jy enige iets van ’n Black Label-quart tot Franse sjampanje bestel. Moenie ry voordat jy hulle romerige mosselsop probeer het nie of bestel die Beijing-eend en ’n Sangrita met tequila en oester-skemerkelkie! Hier weet jy die seekos is várs – jy kies byvoorbeeld jou kreef terwyl dit nog lewendig is!

Nou en dan raas ’n sirene in die hawe. En as jy mooi luister, hoor jy hoe ’n toeris by ’n ander tafel met sy Suid-Afrikaanse vriend in ’n Russiese aksent praat – ja-nee, hier kry die toeriste en die locals hulle seekos.

Waar? Draai links by die Christiaan Barnard-kruising en teken in by die sekuriteitshek om die hawe binne te kom. Draai regs en ry vir sowat 2 km to by die Panama Jacks-bordjie, draai links. (GPS S33.91989 E18.45091)

Oop Daagliks van 12 vm. tot 2.30 nm. en 6.30 nm. tot 10.30 nm.

Kontak *021 448 1080; *panamajacks.net