Die eienaars, Charmaine en Alexander Pieters, is al ou hande in die bedryf en ook bekendes in die Paternoster-omgewing. Hulle besit al sedert 2012 die Mondvol-padstal op ’n plasie sowat 15 km buite die dorp, maar die laaste paar jaar hoef besoekers nie meer ver te ry vir lekker koffie nie: Die padstal het gegroei tot ’n volwaardige koffiewinkel in die Pelgrimsrust-ontwikkeling (soos jy die dorp nader op linkerhand).

Alexander doen self diens as barista terwyl Charmaine saam met die personeel in die kombuis woeker.

Etes wissel van iets ligs soos ’n geroosterde broodjie met pesto, spinasie, feta, cheddar en ’n slaai (R42) of ’n croissant met roomkaas en vye (R65) tot iets lywigers soos die quiche van die dag (R48, met slaai), wraps (R52) of slaaie (sowat R70 per porsie). Maar dis veral die ontbyte wat mense hierheen lok.

Die spyskaart bied van geposjeerde eiers met avokadopeer, spek, vars koljander en ’n strooisel rissievlokkies (R86) tot omelette met vars kruie (sowat R80), Franse roosterbrood met spek en skeppies vye, brie en geroosterde amandel (R85) en sommer net ’n goeie ou toastie met konfyt (R28).

Mondvol bedien ook wafels, skons en ’n verskeidenheid tuisgebakte koek. Én daar is glutenvrye brood (R18) op die spyskaart.

Wat nog? Charmaine maak ook speelgoed en kinderklere vir spruite van geboorte tot ses jaar oud. Die oulike produkreeks Likalief is genoem na hulle dogtertjie, Lika. Toe, kry ’n gehekelde skapie vir jou kleinkind.

Waar? Seemeeusingel 15, Pelgrimsrust, Paternoster

Oop: Di.-Sa. van 9 vm.-5 nm.; So. en Ma. tot 3 nm.

Kontak: 073 939 0186; info@mondvol.co.za