Dié massiewe skuur is in ’n L-vorm, met die restaurant en kroeg aan weerskante. In die somermaande kan julle op die lang stoep uitspan met ’n koue boetiekbier of -jenewer in die hand, en in die winter knetter ’n vuurtjie in die groot kaggel binne die restaurant.

In die gesellige restaurant hang plaaslike kunstenaars se skilderye – van blomme tot plaastonele en natuurlik kleurryke visserbootjies. Hier en daar staan rakke met ou koppies en ander breekbare goedjies wat aan Ouma se woonstel herinner.

Terwyl julle vir julle kos – ribbetjies met skyfies (R105), Franse slaai (R75), vis-en-tjips (R85) of pizza – wag, kan die kleuters op die klimraam klouter terwyl die gratis Wi-Fi die tieners gelukkig hou. Sluit die ete af met malvapoeding (R45), pannekoek (R24) of roomys met sjokolade-en-neutsous (R45) of ’n koppie boeretroos.

Of julle kan verder kuier in die Iron Pig Pub langsaan. Dommel weg op een van die diep rusbanke binne of buite op die stoep terwyl jy teug aan ’n plaaslike Darling Brew-boetiekbier.

Die restaurant hou gereeld potjiekosaande, musiekuitvoerings, markdae en selfs dansaande – hou die Facebook-blad dop.

Oop: Maandag 11 vm.-10 nm.; Dinsdag-Donderdag; Sondag 11 vm.-middernag, Vrydag en Saterdag 11 vm.-laat

Kontak: 084 725 0166; yzervarkbistro.bar@gmail.com. Soek “Yzervark Bistro and Bar” op Facebook.

Waar? Draai van die R27 af op die R315 na Yzerfontein. Yzervark is 2 km verder op linkerhand.

/
/