Is jou maag skraal? Trek af op Himeville en bestel die pastei van die dag... of hoe klink ’n skon met room en tuisgemaakte konfyt? 

Himeville se hoofstraat – die sogenaamde Sanipad wat Underberg met die Sanipas verbind – is mooi van die een punt tot die ander, maar dis moeilik om net by die Stonehouse Café verby te ry.

Die klipgebou, die tuin, die yslike boom wat ’n groot skadukol gooi – enige reisiger sal hier wil stilhou. Hier is ook ’n klimraam vir die kinders sodat hulle al daai in-die-kar-sit-frustrasies kan wegspeel.

Kom span uit in die tuin en stil jou grommende maag met Franse roosterbrood en spek, of die pastei van die dag.

Maar as jy net vinnig wil stilhou, bestel ’n skon met room en tuisgemaakte konfyt of ’n ekstra-dik melkskommel. Jy kan ’n wegneempastei kry of ’n ordentlike poeding koop vir later: ’n brandewyn- of pekanneuttert. Hier is ook bevrore tuisgemaakte maaltye, sodat jy nie vanaand voor die stoof hoef te staan.

Jy kan ook antiekware koop, en hier’s ’n spin-en-weefplek wat alles van musse tot matte verkoop.

Oop 8 vm.- 3 nm., elke dag
Waar? Arbucklestraat (die hoofstraat), Himeville

Kontak 033 702 1154