Stof en sterre in die Moordenaarskaroo Moenie dat die naam jou afskrik nie: Die Moordenaarskaroo, rofweg tussen Merweville, Sutherland en Laingsburg, is ’n plek waar jy die lewe opnuut waardeer, sê Leon-Ben Lamprecht. Foto's RUVAN BOSHOFF Geen mens beland per ongeluk in die Moordenaarskaroo se omtes of ry sommer daar deur op pad iewers heen nie – jy moet doelbewus van die N1 afdraai om in dié stuk hinterland te kom. Hoe lyk dit daar? Voel dit so onheilspellend soos die naam aandui? Is dit die soort plek waar ’n afkop-skaapskeerder jou met volmaanom die lewe gaan bring as jy ’n band omruil? Ek en Ruvan, die fotograaf, is op die punt om uit te vind. Ons gooi petrol in op Prins Albertweg langs die N1 voordat ons die grondpaaie na Merweville en Sutherland vat. As daai afkop-skaapskeerder ons uitlos, behoort ons sowat 280 km en drie dae van nou af weer by Laingsburg op die N1 uit te kom. Buiten ’n vulstasie is hier op Prins Albertweg net ’n kafeetjie, ’n vervalle treinstasie en ’n plek vir dop – die North & South Ladies Bar, tans “onder nuwe bestuur”. Voor die North & South Ladies Bar sit Bongile Toto met sy konsertina. Hy het homself die laaste drie maande leer donkielong speel en pomp maar dieselfde deuntjie oor en oor. Dis ’n treurige een. Ruvan neem ’n paar foto’s, en dan los ons die N1 in die truspieëltjie. [caption id="attachment_40244" align="alignnone" width="800"] Merweville is in 1904 gestig, en bouwerk aan die sandsteen- NG Kerk (in die middel) is in 1914 begin. Die kerk is in 1916 voltooi.[/caption] Waar kyk ons rugby? Volgens my kaartboek is die 43 km van Prins Albertweg na Merweville grondpad, maar ná net sowat 6 km se stof beland ons op ’n teerpad, wat ons al die pad tot in Merweville vat. Óf my kaartboek is verouderd óf die pad is baie onlangs eers geteer. By ’n konstruksiekamp 10 km duskant Merweville besef ons die kaartboek is nie op datum nie. “Die pad is in 2006 al geteer,” help Niklaas Voster ons reg. “Ek weet, want ek het hom help bou, Meneer.” Niklaas is ’n sekerheidswag by Eskom se kamp – dié is hier om kraglyne op te rig. Hy ry elke oggend van Merweville af tot hier met ’n leenfiets (drie ratte, ’n klokkie en ’n DairyBelle-krat agter die saal).

[caption id="attachment_40257" align="alignnone" width="800"] Niklaas Voster, 'n sekerheidswag by Eskom se konstuksiekamp, trap elke dag die ongeveer 10 km van Merweville af werk toe en terug.[/caption]

“Dis maar ’n harde wêreld,” vertel Niklaas. “Sommige oggende dan is dit spierwit van die ryp. Maar hier werk ons van Maandag tot Maandag." Die eerste dinge wat jy sien as jy Merweville binnery, is die laerskool en die imposante NG kerk van sandsteen. Maar hier is ook ’n drankwinkel wat (per fiets) aflewer, en ’n vulstasie wat oor naweke gesluit is, maar teen ’n tarief van R20 wel oopmaak vir noodgevalle. Hier ry die kinders nog met hulle fiets kafee toe, eet roomys op die stoep en trap dan in die donker terug huis toe (want hier’s nie straatligte nie). Toerisme-attraksies is hier nie ’n ooraanbod van nie. Die naaste daaraan is seker die Engelsman se graf net buite die dorp waar Walter Oliphant Arnot begrawe lê. Dié Australiër het in die Anglo-Boereoorlog vir die Britte baklei. Hy het in 1902 in die ouderdom van 42 selfmoord gepleeg, en dié boodskap vir sy vrou gelos: “I swear before God, whom I am going to meet, that I am innocent”. Wat sou ’n man tot so ’n drastiese stap dryf? Die mense hier vertel hulle het wel in sy gebedeboek dié leidraad gekry: “I was never in any concern with a Boer or Boer Agent...” Die Stormers speel vanaand teen die Bulle, en ons gaan soek ’n plek om die rugby te kyk. Hier is nie ’n sportkroeg of daai soort kuierplek op Merweville nie. Johan en Mary- Ann van Heerden, wat die Springbok-lodge op die dorp bestuur, ontferm hulle oor ons en laat spesiaal die DStv aktiveer vir die aand. Iewers tussen die Stormers wat wen (20-17) en fietswiele wat op die stofstrate sing, begin ek my hart verloor op Merweville. Teen die tyd dat die kerkklok die volgende oggend se nagmaaldiens aankondig, is ek gereed om in eiendom te belê, maar die eiendomsagent sit waarskynlik in die kerk. Terwyl uit die kerk opklink, mik ons Sutherland toe met ’n skoon blou lug bo ons. Is daar enigeen daarbuite? Ongeveer 40 km van Merweville af kronkel die pad teen die Nuweveldberge uit. Dis ’n wilde rit, maar van bo af is die uitsig pure saligheid: koppies, vlaktes, enkele plaasopstalle en die Swartberg doer ver na die suide. Miskien moet ek eerder hier ’n huis laat bou. [caption id="attachment_40248" align="alignnone" width="800"] Hou jou oë oop langs die pad, want netnou mis jy dinge soos die korbeelhuisie op 'n plaas sowat 52km buite Merweville.[/caption]

Oor die volgende 28 km maak ek agt plaashekke oop en toe. Eers ná die agste hek draai ons weg Sutherland toe. Op die dorp verklap ’n paar ondernemings se naam dat hier iets anders aan die gang is buiten die dorp se alombekende ysige temperature: die Andromedagastehuis, Halley sê kom eet-restaurant, The Galaxygastehuis... Ja, Sidderland is ook die tuiste van die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond (SALT). “Net Dinsdag was dit amper -8 °C. En môre gaan dit glo -6 °C wees!” sê die vrou agter die toonbank in die Sutherland Hotel se Rooikatkroeg. Ek en Ruvan trek maar elkeen nog ’n baadjie aan voor ons koers kies na die Sterland-woonwapark vir ’n sterrekykaand. Heel eerste draai ons die teleskoop in die rigting van Saturnus. Eers sukkel ek om te glo wat ek sien, al het ek dié prentjie al baie in boeke of op TV gesien. Dit lyk bekend, maar tog onwerklik. Die planeet se ringe lyk soos helder neonarmbandjies – maar hierdie is nie op TV nie, hierdie is régtig. [caption id="attachment_40249" align="alignnone" width="547"] Op Sutherland, ook bekend as Sidderland, móét jy gaan sterrekyk.[/caption]

Jurg Wagener, ons gids, wys ons ook die maan (met hom is ek darem vertroud), Alpha Centauri en die Juwelekissie-sterrehoop. Dis einakoud toe ons die teleskope toedraai. Ek kyk vir oulaas op na die sterre en dink aan Jody Foster se laaste woorde in die fliek : “The universe is a pretty big place... So if it’s just us... it seems like an awful waste of space.” Wat het hier gebeur? Dis eers sowat 16 km buite Sutherland, as jy links draai by die Klein-Roggeveld-afrit, dat jy glo amptelik in die Moordenaarskaroo is. Vir kilometers aaneen styg en daal die stofpad deur die vaal bossielandskap. Nou en dan sien ons ’n springbok of oorblufte skaap. Verder nie veel nie. G’n mens, g’n ooglopende moordenaar nie. [caption id="attachment_40253" align="alignnone" width="800"] Wees op die uitkyk vir Karoo-knoppiesdopskilpaaie in die pad![/caption]

Daar is ’n paar teorieë oor waar die streek se naam vandaan kom. Die klimaat van uiterstes is een – dit kán jou dood veroorsaak. ’n Ander een is glo moordenaars wat uit dietronk by Worcester ontsnap en jare lank hier weggekruip het. Dan is daar die storie van ’n polisieman met die naam Van der Colf, wat dié geweste gepatrolleer het op soek na veediewe. Hy het glo die diewe agter sy perd vasgemaak en hulle tronk toe laat stap. In sy boek skryf Jonathan Deal: “When Van der Colf became bored, and perhaps a little drunk, he would release the prisoners to run away up a hill – and take potshots at them with his rifle, sometimes with deadly consequences.” Ons is nou op die kruin van die Komsbergpas (1 721 m). Dis asof my reuksintuig beter werk hier bo – ek rúík die veld, die stof. Ek sweer ek het nou net ’n bakoorjakkals geruik voor ek hom gesien het! (Het jy en Ruvan nie dalk vergeet om julle oksels te was nie? – Red.) [caption id="attachment_40252" align="alignnone" width="800"] Die Kombergspas is sowat 39 km uit Sutherland op pad na Laingsburg. Op sy hoogste punt is hy 1 721m bo seespieël. Hier is wildsplase in die omgewing; dus kan jy onder meer rib- en springbokke langs die pad sien.[/caption]

Deal beskryf ook ’n ander gewelddadige reeks gebeure wat die Moordenaarskaroo sy naam kon gegee het: Langs die Sakrivier, naby Williston, was daar ’n plaasvoorman wat rondom 1770 blykbaar Boesmans voor die voet geskiet het. Toe die Boesmans dié voorman later vermoor, is ’n kommando uit die Kaap gestuur om die Boesmans te gaan straf. In die daaropvolgende wraaktog het baie onskuldige Boesmans omgekom. Nadat die kommando terug is, het die Boesmans reg oor die Groot-Karoo plase begin plunder en boere vermoor. Wéér is ’n strafkommando uitgestuur. Dit was wraak op wraak op wraak. Dié slag is nóg meer Boesmans geskiet in die gebied wat vandag die Moordenaarskaroo genoem word. (Elke pad het musiek wat by dit pas, en vir dié agterpad luister ons na Nick Cave and the Bad Seeds se album , vir ekstra drama.) Die waters wat gee en neem Grondpadry hipnotiseer ’n mens. Dis soos toetskrieket kyk, of serpbrei. Voor jy kan sê “laatkaphou”, is ons langs die Buffelsrivier. Hierdie rivier het op 25 Januarie 1981 afgekom ná swaar reëns (dis gestu deur die Baviaansrivier, wat ook afgekom het) en het groot dele van Laingsburg verswelg. Die getalle vertel net ’n deel van die vloed se verwoesting: Meer as 100 mense is dood en meer as 180 huise (waaronder die ouetehuis) het weggespoel. Die water het glo teen 25 km/h gevloei, wat dalk nie vinnig klink nie, maar dis vinnig genoeg om jou in te haal as jy dink jy kan weghardloop... Ons ry Laingsburg in ’n byna gewyde stilte binne. Die omvang van wat daai dag gebeur het, kry eers tot ’n mate gestalte in die Vloedmuseum en die fotouitstalling wat daar te sien is. Francis van Wyk, die kurator, was destyds die bibliotekaris op Laingsburg. Sy was 42 toe sy daardie angswekkende dag op die pastorie se dak deurgebring het saam met haar 14-jarige dogter en die predikant se gesin. [caption id="attachment_40255" align="alignnone" width="800"] Francis van Wyk is kurator van die vloedmuseum op Laingsburg. Sy het self die vloed op 25 Januarie 1981 oorleef waarin meer as 100 mense van die dorp hulle lewe verloor het.[/caption]

Ds. Malan Jacobs het weggespoel toe hy en ander die bejaardes in die ouetehuis probeer red het. “Jy’s nie by nie, maar jy registreer alles,” vertel Francis. “Jy is nie regtig emosioneel nie. Ons het daardie dag nooit gepraat oor ons mense wat nie by ons op die dak is nie. Jy sluit af. Ons het darem nooit mense by ons sien verbydryf nie, maar wel meubels. “Maar jy kan nie dat die tragedie aan jou vat nie. En dis hoekom hierdie museum hier is: nie om te treur nie, maar om te onthou.” Toe ek buite kom, lyk dit of dit wil-wil begin reën. Ek trek my serp stywer om my nek voor ek in die kar klim. Hoe het Francis vroeër gesê? “Reën in die Karoo is steeds vir my wonderlik. Jy’s nie bang vir water nie. Wel, ek is nie.” Die Roete 1 Prins Albertweg: Hier is ’n vulstasie (en ’n kafeetjie) as jy tenk (en maag) moet volmaak. 2 Merweville: . Neffens die kerk. Vanaf R150 p.p.p.n. Aandete R70. Engelse ontbyt R50. 083 255 6931 (Kallie) of 083 718 2343 (Adri) [caption id="attachment_40246" align="alignnone" width="563"] Johan en Mary-Ann van Wyk, bestuurders van die Springbok-lodge.[/caption]

3 Die Engelsman se Graf: Sowat ’n kilometer voor die dorp aan die linkerkant. Wees op die uitkyk vir die bordjie (hy’s maar klein). 4 Sutherland: [caption id="attachment_40250" align="alignnone" width="569"] Jurg Wagener[/caption]

  • . Vanaf R60 p.p. 082 556 9589 (Jurg) of 023 571 1405. Ons het ook by Jurg se Skrywershuisie oornag. R350 p.p.p.n. (ontbyt ingesluit); halfprys vir o.12’s.
  • Louw-huis. Die digters N.P. Van Wyk en W.E.G. Louw is in dié huis, deesdae ’n museum, gebore. Reël vooraf (dit was gesluit met ons besoek). R20 p.p. 023 571 1131
5 : Sowat 10 km noord van die dorp met die Willistonpad. R30 p.p. vir dagtoere, R50 p.p. vir nagtoere (waarop jy ook sterre kyk). Bespreek vooraf. 023 571 1205 6 Laingsburg: 
  • Vloedmuseum. Oorkant die Shell-garage. Gratis (skenkings welkom). 023 551 1868
  • . Vanaf R480 p.n. per kamer (plek vir 2). 023 551 1038
* Pryse en kontakbesonderhede korrek in N.  ** Nog nie uitge-Karoo nie? Lees oor die, 'n , puik in die Klein-Karoo, 'n naweekplan vir die , die ,  die deur die Karoo en les bes hoe om reg gaar te maak en hoe om te bak.