Daar’s ’n legio redes om die Baviaanskloof (of die Kloof, soos die inwoners daarna verwys) te besoek. Hier’s Barnie Louw se 14 redes. Iemand het op ’n keer gesê die beste manier om die Baviaanskloof tussen Willowmore en Patensie te beskryf, is om die Sani- en Bloukranspas saam te voeg, ’n stewige dosis van die Tsitsikamma en Krugerpark se natuurskoon by te roer, en ’n paar Herman Charles Bosman-karakters oor te strooi. Dis waar, ja, maar moenie vergeet van die bobbejane, die “tiere” (die Kaapse bergluiperd), donkies, driffies, vloede, die ruimtes en rustigheid nie. Of die gevoel van afsondering, die gevoel dat dinge hier in die Kloof anders gedoen word nie. Maar hoe jy ook al die Kloof wil beskryf, dis ’n vrek lekker plek – die vraag is nie óf jy moet gaan nie, maar wanneer. Jou blitsgids tot die Kloof (van wes na oos) Nuwekloofpas.  Dié skielike, diep skeur in rooi sandsteenkranse is die westelike ingang na die Kloof. Die destydse Model T-Fords moes glo in trurat hier uitgaan. Uitspan. Die enigste bandherstelplek in die Kloof is op dié plaas. Nico Smith is die man in beheer. Rietrivier. Boetie en Henriëtte Terblanche van Rietrivier Info kan jou alles oor die Kloof vertel. Studtis. Die geboorteplek van die Afrikaanse skrywer P.H. Nortjé. Sy boeke Voetpad se kloof en Die wildedruif val handel oor die lief en leed van die Klowers. Sy geboortehuis is nog daar: groot, leeg en verlate. Kleinpoort. Oom Lukas en tannie Aletta Smit se Kleinpoort Handelaar is die enigste winkel in die Kloof om van te praat. Daar’s ook ’n drankwinkel en petrolpompe (onthou, hulle verkoop net gelode petrol). Zandvlakte. Op dié plaas – min of meer in die middel van die Kloof – het adv. J.G. Strijdom, destydse eerste minister, grootgeword. Eerw. Alan Hendrickse se pa het in 1935 ’n Kongregasionalistiese kerk daar gestig. Die bewaringsgebied begin net hierna. Geelhoutbos. Dié gewilde kampplek tussen witstinkhoutbome, wildevye en outenikwageelhoute is tans gesluit vir opknappingswerk. Hiervandaan word die pad al slegter. Grasnekpas. As jy bo-op dié makke-rige pas staan, kry jy ’n goeie aan-duiding van die wildheid en ongereptheid van die Kloof. Smitskraal. Dié piekniekplek het nie werklik geriewe om van te praat nie. Net hierna is gewoonlik ’n lang rivierkruising – pasop vir die gate in die sementspore onder die water. Rooihoek. Waarskynlik een van die indrukwekkendste kampplekke in Suid-Afrika; nie weens die geriewe nie (daar is nie), maar die ligging. Doodsklip. Die kort stukkie van Rooihoek na die Doodsklip-kampplek is goed stamperig. Die stuk anderkant Doodsklip tot by die Holgatpas is van die mooiste dele in die Kloof. Holgatpas. Die Holgatpas is lank, steil, nou en ongelyk, met erosieslote en klipbanke wat jou op jou tande laat kners – die Kloof se Sanipas. Maar van bo af het jy minstens ’n goeie uitsig. Kabelspoor. Bo-op die pas is daar ’n kabelspoor wat ’n boer in 1965 gebou het om voorraad oor ’n diep poort te kry in plaas daarvan om die Holgatpas te gebruik. Pisgoedvlakte/Bergplaas. Op die Holgatpas is Pisgoedvlakte/Berg- plaas se gras- en fynbosplato so plat dat jy amper dink jy’s deur die Kloof. Terloops, “pisgoed” verwys na die bossie Euphorbia epicyparissias omdat dit glo blaasprobleme by vee veroorsaak. Combrinkspas. Dié senutergende pas wat jou in die Gamtoosvallei uitspoeg, is lank, kronkelrig en plek-plek sleg verspoel (die laaste stuk na Patensie is darem herstel). Die uitsig van bo af is oor drie bergreekse heen. Kyk hier veral na die droë messelwerk en broodbome in die diep ravyne. Poortjies. Die Combrinkspas daal af tot in dié Knysna-agtige poort met sy baie geelhoutbome en oumansbaard waar jy die Witrivier 12 keer oorsteek. Die pad raak nou weer al beter. Grootrivierpoort. Deur dié poort volg jy die loop van die Grootrivier. Dis indrukwekkend, maar nie soos in die Kloof self nie. Komdomo. Baie geluk! Jy is deur die Kloof. Bl 2 | 1 - 5 1. Ry die pad wat Bain gebou het As die meesterpad- en pasbouer Thomas Bain vandag nog gelewe het, sou hy hom waarskynlik saans aan die slaap gehuil het oor die toestand van sy pad deur die Kloof, die R332. Hy het dié pad tussen twee parallelle bergreekse (die Kouga in die suide en die Baviaanskloof in die noorde) kort voor sy dood in 1893 voltooi. En hoewel dit nie so indrukwekkend is soos sy passe oor die Swart- of Outeniquaberge nie, is dit sy langste pad. En ongetwyfeld een van sy mooistes. In die 1940’s het die provinsiale owerheid die pad verbeter en in die 1960’s kon jy nog sonder stamp of stoot met jou gesinsmotor deur die Kloof ry (mits daar nie te veel water in die driffies was nie – jy steek minstens 40 keer ’n rivier oor). Maar dinge het verander, veral in die Baviaanskloof-natuurreservaat in die ooste. Vandag nog kan jy met jou 1984 Skyline sonder veel kommer van Willowmore se kant af deur die Kloof se boerderygebied ry tot by Geelhoutbos, omtrent in die middel van die Kloof. Daarvandaan tot by Komdomo is dit bakkie- of 4x4-wêreld, want die pad verander dan van ’n Sondagskool-piekniek na Kamp Staaldraad: hard, rof, ongenaakbaar. En moet jy ’n 4x4 hê? Ja en nee. As dit droog is, jy weet wat jy doen, jy dit rustig vat, en jou bakkie staan hoog op sy tekkies, gaan jy waar-skynlik nie ’n probleem hê nie. Die grootste uitdaging is die verspoelde en uitgeryde dele op en af teen Grasnek-, Holgat- en Combrinkspas, en die driffies. My raad? As jy twyfel oor jou bakkie se vermoëns (of joune), leen eerder jou buurman se 4x4. En bel vooraf en vra uit oor die padtoestand en of dit gereën het. Ongelukkig gaan die pad nie binnekort herstel word nie. Die mense by Eastern Cape Parks (ECP), wat die wildernisgebied bestuur, sê die R332 is ’n provinsiale pad en dus die provinsie se plig om dit in stand te hou. Maar die provinsie sê hy het nie geld om dit te doen nie, en die ECP ook nie. Ja, as jy eers die pad gery het, gaan jy moeilik glo dis Psalm 23-wêreld dié. Dan is dit eerder Lukas 3:5-wêreld: “Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.” 2. Vóél die Kloof Waarmee jy ook al die R332 aanpak, jou sintuie gaan oortyd werk: Roesrooi rotsforma-sies, landerye, klowe, aalwyne en spekbosse wat mekaar afwissel, verwelkom jou in die weste. < br /> Dan begin die berge al meer op jou indruk. Om elke draai ’n vervalle maar fotogeniese plaasopstal wat onder soetdorings wegkruip, witkruisarende draai doer bo op soek na middagete, ’n koedoe of bosbok huppel onverwags oor die pad. Hoe dieper jy in die Kloof inry, hoe mooier en meer onherbergsaam word dit. Die wildernisgebied oorweldig jou eenvoudig – daar ry jy deur vol driffies in lowergroen klofies waar geelhout en doringboom sy aan sy staan. Die pad word al nouer, steiler, klipperiger, die afgronde al meer angswekkend, die afgesonderdheid amper tasbaar. Die klowe dreig om hulle op jou toe te vou. Jy ry verby geelhout-, witstinkhout- en witgatbome, en broodbome teen onbereikbare hange. Jy drink bakhand neutvars water uit ’n stroompie. En jy glimlag – onophoudelik. Ja, ’n pad op ’n kaart is ’n ander ding as jy dit ry. 3. Boer vir ’n dag As jy in die Kloof afdaal van Willowmore se kant af (die westekant) deur die Nuwekloofpas, lyk die wit spikkels angorabokke op voerlande, spilpunte, vierkantige lappieslande en satelliet-skottels op plaashuise nie soos die wilde, ongerepte Baviaanskloof in jou kop nie. Dis omdat jy die Kloof in twee duidelike en amper gelyke dele kan verdeel: die westelike of boerderydeel (die Kloof light), en die oostelike bewaringsgebied, die werklik wilde deel van die Kloof (soos die prentjie in jou kop). Die eerste boere in die Kloof het hulle rondom die 1820’s daar gevestig, en in die middel 1900’s was daar ’n paar duisend Klowers (en agt laerskole). Maar die getalle van die florerende boerderygemeenskap het stelselmatig afgeneem tot die handjie vol boere vandag. Dit beteken egter nie die Kloof is besig om agteruit te gaan nie. Nee, die klem verskuif nou net al meer van boerdery na toerisme en bewaring – gooi ’n klip in enige rigting en jy sal ’n bordjie raakgooi na een van die tientalle blyplekke of toerisme-aktiwiteite. 4. Soek ’n seder Die Nuwekloofpas aan die westekant van die Kloof is ’n goeie plek om die endemiese en bedreigde Willowmore-seder (Widdringtonia schwarzii) te sien. Soos met sy meer bekende neef, die Clanwilliam-seder, is dit vroeër wild en woes geoes. Al wat nou oor is, is ’n paar versteek in ravyne en op die hoër dele van die berge, soos in Doringkloof, ’n sykloof naby Zandvlakte. En een wat sommer op Uit-span se plaaswerf groei. 5. Besoek ’n monument Jy gaan nie sommer ’n foto van jouself voor die Campbell-monument laat neem nie, maar stop gerus hier en word ’n oomblik stil. Dié monument kort duskant Kleinpoort gedenk die slagoffers van die Groot Vloed van 1916 toe tonne landbougrond saam met boorde, oeste, huise en die kerk weggespoel het. Van die Campbell-gesin het net Robert Campbell oorleef na-dat hy aan ’n drywende belhambraboom (wildedruif) vasgeklou het. Dié boom het later laer af in die rivierloop weer begin groei. Bl 3 | 6 - 7 6. Voel klein Soms “ontdek” jy ’n plek wat so indrukwekkend is dat jy niemand daarvan wil vertel nie – jy wil dit vir jouself hou. Die Waterkloof-staproete op Bo-Kloof is só ’n plek. Dié maklike staproete van sowat 3 km is op in ’n ravyn van tot 80 m diep wat water oor eeue heen uit rots gekerf het. Op party plekke is die ravyn só nou dat jy met uitgestrekte arms aan die kante kan raak. Hoe dieper jy die ravyn instap, hoe nouer word dit. Jy spring van klip tot klip oor die klein stroompie wat gewoonlik daar vloei, hoor hoe die bobbejane bo-op die kranse rumoer, en verkyk jou aan die inheemse plantegroei wat plek-plek uit die rotsskeure groei. Jy kan gerus vir Quintis Bezuidenhout, die baas van die plaas op Bo-Kloof, vra om saam te stap. Hy ken elke klip, boom en plantsoort op sy plaas. Of Quintis saamstap of nie, die kans is goed dat Skollie die werfhond sal saamstap – en hy ken die kloof amper so goed soos sy baas. As jy anderhalf uur later na die plaasopstal terugstap, is jy ’n ander mens. Terloops, Quintis maak die vingerlek-lekkerste braaisous. Dalk kan jy sy arm draai om vir jou die geheime resep te gee. 7. Pak die passe ... As mense jou vertel van “die slegte pad” deur die Baviaanskloof, verwys hulle bes moont-lik na twee van die vier groot bergpasse wat jy moet oor om deur die Kloof te kom, naamlik die Holgat- en die Combrinkspas. Die ander twee passe, die Nuwekloof- en die Grasnekpas, is so onskadelik soos ’n kaas-en-konfyt-toebroodjie. Van die twee is die steil Holgatpas waarskynlik die uitdagendste: die padoppervlak is erg verspoel en plek-plek is klipbanke oopgespoel. As dit nat is, kan dié pas met sy talle haarnaald-agtige draaitjies jou hoofbrekens besorg. Die veel langer Combrinkspas is ook plek-plek verspoel, maar dis nie in die-selfde uitdagendheidsklas as die Holgatpas nie. Maar omdat dit so lank is, kan dit wel so voel. As jy dit rustig aanpak, gereeld aftrek, rondkyk en die vars berglug inasem, kan jy dit miskien só geniet dat jy sal wil omdraai om weer die pas te ry. Miskien. Bl 4 | 8 - 11 8. Doen inkopies In die Kloof se bloeityd was daar drie winkels, en omdat die Kloof so afgesonder was, moes dié winkels alles aanhou: Ploegskare, parte vir paraffienlampe, trapfietse, medisyne … Maar die tye het verander. Van die oorspronklike drie winkels is nog net oom Lukas en tannie Alet Smit se Kleinpoort Handelaar oor. Behalwe dat dit die enigste plek in die Kloof is waar jy kan drank en brandstof koop (net gelode petrol en diesel), kan jy die basiese daar kry: Saldanha-pilchards, Kloof-koffie, Omo, Sunlight-seep, suiker, meel, boeliebief, Eveready-batterye. En roltwak. As jy ongesteld is, kies een van die “Hollandse medisynes”: groen-amara, leerolie, lemna-blare, behoedmiddel, lewertraan, soetolie, blomswael, bruindulsies. Die ouer Klowers het nie altyd medisyne gebruik nie; hulle het sommer uit die veld plan gemaak: dagga vir beroerte en asma (laat trek vier onse dagga op ’n bottel kommandobrandewyn), of ’n mengsel van perdemis en lynolie vir longontsteking … 9. Ontmoet ’n Klower Oom Lukas Smit sit voor sy koolstoof en vertel hoe hy ’n dooie man se skoene opgedra het. O’Brian was sy van, die dooie man s’n. Hy was een van twee Britse leerlingvlieëniers wat in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het toe hulle opleidingsvlug uit Port Elizabeth teen Tafelkop (naby Rooihoek) tot stilstand gekom het. Oom Lukas en ’n paar ander jongmanne het gaan help om die lyke van die berg te dra, maar dit was ’n saak van onmoontlikheid. Hulle begrawe toe maar die vlieëniers daar bo, toegedraai in vaal komberse. Die twee se bevelvoerder sê toe vir hulle moeite kan hulle vat wat hulle wil. Oom Lukas vat toe die skoene – met “O’Brian” aan die binnekant geskryf. Eers het hy te aardig gevoel om die skoene te dra, maar uiteindelik het hy hulle gedra tot hulle op was. Oom Lukas, gebore in 1926 naby Rooihoek, is die Kloof se oudste inwoner. Hy kan jou ook vertel hoe dit hulle vyf d ae per wa gevat het om die 90 myl uit die Kloof na Humansdorp en terug af te lê om botter, hoenders en bokvelle by Joodse handelaars op die dorp te ruil vir goed soos suiker en meel. Hy was te jonk om die groot vloed van 1916 te onthou, maar die vloede van 1932 en 1981 (toe die Klowers twee weke lank van die buitewêreld afgesny is) onthou hy goed. Deesdae gaan dinge nie so goed in die Kloof nie, sê oom Lukas: die luiperds is nog ’n pestilensie, Sondae is daar net ’n handjie vol mense in die kerk (in die ou dae was die kerkgebou te klein vir almal), en arbeidprobleme en die koste van krag en brandstof wurg die boere. 10. Soek ’n nimf Kyk, ek sê nie oom Klasie Swarts gaan kwistig met die waarheid om nie, maar tot ek self een gesien het, gaan ek maar moeilik byt aan die legende van die Kloof se waternimfe. Volgens oom Klasie hang dié femmes fatales met hulle lang swart hare, grysgroen oë en mooi groot borste rond by waterpoele, en as jy hulle die verkeerde antwoord gee, trek hulle jou in die water in. Hy het al twee keer waternimfe gesien, vertel oom Klasie, een keer sommer net hier anderkant Zandvlakte (waar dié afgetrede plaas-werker en deeltydse kruieman woon) by Bob se Gat. Die nimfe loop op voete, maar hulle vislyf sleep agterna en los ’n sleepsel in die sand, amper soos ’n likkewaan s’n. Sy pa en oom, albei kruie-manne wat af en toe na die nimfe se onderwaterblyplek toe is om medisyne te kry, het hom van kleins af teen die waternimfe gewaarsku. ’n Paar goed moet jy nóóit doen nie: As hulle jou vra of jy vis eet, sê nee, want anders maak hulle jou dood. Moet ook nie een vang nie, want dan sal daar ’n groot vloed wees. Ons het die volgende dag by Bob se Gat (foto) stilgehou, maar die groot swart poel water het net  roerloos daar gelê … 11. Leen jou ore uit Die legende van die Kloof se waternimfe is nie al een wat graag vertel word nie. By die ingang na die reservaat anderkant Zandvlakte is Skreeu se Gat – ’n lang, diep skeur in ’n sandsteenkoppie. Hier het ’n seun wat heuning uitgehaal het, glo oor die skeur probeer spring, gegly en ingeval. Hy het in die skeur vasgesit en niks kon hom daar uitkry nie. Einde ten laaste het sy pa hom toe glo geskiet om hom te verlos. Die ouer mense sal jou ook vertel van die sogenaamde spookligte – jy sien ’n lig soos dié van ’n motor s’n aankom, maar as dit naby jou kom, verdwyn dit eenvoudig. Op Bo-Kloof is die fondament van ’n ou opstal nog te sien waar ’n Kaapse rebel tydens die Boere-oorlog maande lank van die Engelse versteek is. Toe hy uiteindelik uit sy skuilplek kon kom, was hy glo wit gebleik. ’n Meer onlangse storie is van een van die reservaat se hervestigde swartrenosters wat uit die wildernisgebied “ontsnap” het, en padlangs oor motor-hekke en verby veldwagters gestap het tot by die polisie-kantoor by Studtis Heights. Die eerste mense wat hom gewaar het, was glo self redelik wit geskrik. Die renoster is uiteindelik verdoof en agterop ’n vragmotor na die wildernis-gebied teruggery. Bl 5 | 12 - 14 12. Klits ’n kees Die Kloof se ander naam is nie verniet die Vallei van die Bobbejane nie – hier’s sommer baie van hulle. Vroeër was hulle so volop en ’n verpesting dat die pa van adv. J.G. Strijdom, voormalige eerste minister, ’n bobbejaanverwerkingsaanleg op Zandvlakte gebou het. Van die vel is skoene gemaak, en seep van die vet. Die skoene was glo nie baie gewild nie, want jy kon hulle glo ruik, en boonop wou politoer nie daaraan kleef nie. Deesdae word bobbejane nie meer geskiet nie, maar ek sou wat wou gee om ’n paar skoene te maak van daai lot by Rooihoek wat my onderbroek weggedra het ... 13. Gaan wild Die Kloof se kroonjuweel is die Baviaanskloof-natuurreservaat (ook bekend as die Baviaanskloofwildernisgebied). Dis ongetwyfeld wildernis, ongerep, afgesonder, mooi en gróót. Veral groot: hierdie natuurreservaat van 185 000 ha is een van die grootste bewaringsgebiede in Suid-Afrika. En as die bewaringsmense hulle sin kry, word dit eersdaags ’n megareservaat van 500 000 ha groot – iets wat die Kloof se oorblywende boere effens onrustig maak, want hulle grond kan dan ook ingesluk word. Die afgelope 20 jaar is reeds sowat 20 000 ha opgekoop, en tans omsingel die reservaat se knypers die boere in die weste soos Shaka se gevreesde bulkop-aanvalsformasie. Oorspronklik was groot dele van die huidige reservaat kroongrond, toe onder beheer van die departement van bosbou, en met die bou van die Kougadam in die 1960’s is baie plase weerskante van die Kougarivier uitgekoop en as opvangsgebiede bestuur. Later is dit as bewaringsgebied bestuur, en in 1987 is begin met grondaankope met die oog op die vorming van die megareservaat. Maar wat maak die reservaat so spesiaal? Wel, hoe klink 7 van 8 biome in Suid-Afrika, 1 300 plantspesies (waarvan 20 endemies en 52 bedreig), meer as 300 voëlspesies, 57 reptielspesies, 23 roofvoëlspesies, 17 padda-spesies en 15 visspesies. En dis boonop ’n Wêrelderfenisgebied. 14. Kamp wild Op die webblad www.baviaans.co.za is daar ’n lys van meer as tien kampplekke in die Kloof, maar die een kampplek wat sinoniem is met die plek, is Rooihoek. En dis maklik om te ver-staan hoekom dié kampplek op die wal van die Kouga-rivier (in die boloop van Kougadam) legendaries is: Die river rol diep en donker voor jou verby, wit sandstrande is afgeëts teen hemelhoë rooi kranse, en in die nanag kom drink buffels en elande water voor jou kampplek. Geriewe is daar nie juis nie, maar die ligging is on-verbeterlik. Van Rooihoek se ses staanplekke is no. 6 my gunsteling: jou uitsig is goed, daar’s baie bome én jy is lekker privaat. Onthou net, Rooihoek is ook baie Oos-Kapenaars se gunsteling-naweekwegbreekplek, dus kan die plek naweke en vakansies goed woelig raak. Nog ’n waarskuwing: Die bobbejane en ape by Rooihoek sal jou kontaklense uit jou oë steel as hulle dink hulle kan dit eet – tydens ons besoek het hulle ’n kam-peerder se tent oopgeskeur op soek na kos. Hou dus alles wat jy nie weggedra wil hê nie, in jou voertuig. Bl 6 | Vinnige feite Goeie Kloof-wenke

  • Hou koers. Kry Slingsby se Baviaanskloof-kaart – ’n avontuur daarsonder is soos ’n huis sonder ’n stoep.
  • Alles in? Vat genoeg kontant (daar’s nie banke in die Kloof nie), genoeg eet- en drinkgoed (tensy jy ’n paar blikke Saldanha-pilchards by oom Lukas se winkel wil koop) en genoeg braaihout.
  • Hallo …? Die enigste selfoonopvangs in die Kloof is naby Bergplaas.
  • Doen jou huiswerk. Op www.baviaans.co.za gaan jy genoeg inligting kry vir die volgende 20 jaar se besoeke. As jy vergeet het om jou huiswerk te doen, hou in die Kloof by oom Boetie en tannie Henriëtte Terblanche se Rietrivier Info stil.
  • Vat dit rustig. Jy kan in sowat ses uur van Willowmore na Patensie ry, maar hoe kom sou jy wou? Dis sinloos om in ’n dag deur die Kloof te wil jaag. Gaan eerder vir twee, drie nagte. Ry kuier-kuier en slaap oor..
  • Sólangs. Ry die Kloof van wes na oos (Willowmore na Patensie). Hoekom? Jy los die beste vir laaste (die mooiste dele van die Kloof is anderkant Rooihoek).
  • Wat nou? Maak seker jy weet hoe om ’n pap band reg te maak. Uitspan is die enigste bandherstelplek in die Kloof.
  • Papiere, asb. Jy moet glo ’n permit hê om deur die wildernisgebied te ry, maar Komdomo is die enigste plek waar jy een kan koop. Dus steur mense wat van Willowmore se kant af kom, hulle nie eintlik daaraan nie. Boonop is daar geen beheer oor wie permitte het nie …
Slaap lekker Die Kloof is vol blyplek, maar hier’s die plekke waar ons aangedoen het:
  • Uitspan: Vyf staanplekke met warm water; ’n selfsorg-eenheid vir tot ses mense; ’n B&B-kamer vir twee; ’n restaurant en kroegie (en ’n foefieslaaid). As jy fiks is, vra die eienaar om jou die rotstekeninge in die bergte gaan wys. Kontak Nico en Christine Smith: 044 923 1511; uitspanfarm@mweb.co.za;
  • Makkedaatgrot: Het jy al in ’n grot oornag? Hier’s jou kans. Kontak Boetie en Henriëtte Terblanche 044 923 1921; makkedaat@absamail.co.za;
  • Bo-Kloof: Vyf staanplekke met warm water; ’n selfsorgeenheid vir tot ses mense. Kontak Quintis en Anina Bezuidenhout: 044 923 2192; 072 227 6338; bokloof@baviaans.co.za; bokloof@telkomsa.net;
  • Zandvlakte: Vyf selfsorgkothuise met plek vir tot 24 mense. Kontak Pieter en Magriet Kruger: 049 839 1002; info@baviaanskloof.com;
  • Geelhoutbos: Dié kampplek word tans omskep in ’n 4-5-ster-lodge met nege klipchalets, blyplek in permanente tente, ’n gewone kampplek, en ’n restaurant. As alles volgens plan verloop, sal die lodge voor die einde van die jaar open.
  • Rooihoek: Ses staanplekke met basiese geriewe. Kontak: 043 742 4450/1; reservations@ecparksboard.co.za
  • Doodsklip: Vyf staanplekke met basiese geriewe. Kontak: 043 742 4450/1; reservations@ecparksboard.co.za

1 MB