Ons kuier in die lente in Nederland, wanneer die tulpe en die rhododendrons vol in blom staan.

DAG 1: Edam

Ons verken die middag die dorpie Edam – ja, nes die kaas. Ons sit aan by ’n restaurantjie en bestel ’n glas wyn en bordjies uie- en tamatiesop. Ek koop ook van die rolle Edamkaas wat uitgestal word in die vensters. Dit gaan heerlik wees saam met ’n vars broodjie môre.

Ons kom laatmiddag aan by ons blyplek, die Overleekerhoeve-plaas (overleekerhoeve.com). Die plaas is omring met kanale en lowergroen grasvelde waarop frieskoeie wei.

Hier staan natuurlik altyd ’n groot beker met vars melk vir gaste.

DAG 2: Volendam tot by Marken

Die volgende oggend mik ons vir die nabygeleë dorpies Volendam, Monnikendam, Broek in Waterland en Marken. Ons parkeer die huurmotor en verken elke dorpie te voet.

Op Marken en Volendam dra van die inwoners regte Hollandse klere ter wille van die talle toeriste wat dié tradisionele dorpies besoek. Die lang, helderkleurige tradisionele rokke en kappies dateer uit die jare toet. 

DAG 3: Hindeloopen

Vanoggend ry ons 32 km op die Afsluitdijk, ’n dubbelpad oor ’n enorme stuk see. Jy kan jou oë nie glo nie! Die Nederlanders het die destydse Zuidersee opgedam. Dit het uiteindelik verander in ’n varswatermeer, die Ijsselmeer. Die Waddensee lê aan die seekant van die dyk. Die seekant is meters hoër as die meerkant van die pad. En jy hoef geen tolgeld te betaal om op dié wonderbaarlike pad te ry nie.

Ons hou halfpad stil en klim uit by die Vlieter-monument (lunchroomhetmonument.nl) – dis gebou op die plek waar die meer destyds toegemaak is. Hier is ’n imposante beeld van ’n man wat klippe op mekaar stapel, ’n herinnering daaraan dat die dyk grootliks met handearbeid gebou is. 

By die heel eerste dorpie aan die oewer van die Ijsselmeer, Hindeloopen, sit ons aan vir vis-en-tjips. Waar daar eens net water was, lê nou uitgestrekte glasvlaktes waarop dikgevrete melkkoeie wei. Hier’s geen heinings om hulle in te hou nie, net die kanale wat hulle gang bepaal.

DAG 4 & 5: Giethoorn 

Ons het vooraf gehoor die dorpie Giethoorn herinner aan Venesië, Italië. Daar gekom, pleks van ’n gondola, moet Pieter ons tasse met ’n kruiwa na die hotel stoot! Die motors word buite die dorp parkeer en jy stoot jou bagasie na jou selfsorghuis op die wal van een van die kanale.

Dis Sondagmiddag en die strate wemel van die toeriste. Dit gaan jolig met mense wat self hulle bote stuur deur die kanale. 

Die volgende oggend word ek vyfuur wakker. Die son skyn vir die eerste keer in dae! Ek gryp my kamera en vaar die doodstil straatjies in. Later sien ek iemand op ’n fiets. Die posman. Verder is hier nie ’n siel in sig nie. Daardie oggend neem ek my allermooiste foto’s.  

Later daai dag meld ons aan vir ’n bootrit saam met ’n gids. Ons vaar tot in die Beulakerwijdemeer, en later verby ’n eiland waar ’n groot groep jongmense uitspan. Die onderwysers is ontspanne, want nie een van die jongmense kan ontsnap om iewers iets stouts te gaan aanvang nie. Oral om hulle heen is net water!

DAG 6: Amsterdam 

Ons ry met die trein Amsterdam toe en dan op ’n bus na die die Rijks- en Van Gogh-museum. Die beroemde Nagwag-skildery van Rembrandt van Rijn hang in die Rijksmuseum (rijksmuseum.nl). Die skildery in lewende lywe is so groots, ’n mens kry hoendervleis terwyl jy daarna kyk. ’n Mens mag hier foto’s neem en ek is gelukkig om ’n foto te kan neem voor die Nagwag sonder enige ander toeriste.

Dis egter nie die geval in die Van Gogh-museum nie (vangoghmuseum.nl). Van Gogh se skilderye is ongelooflik en spreek baie meer tot my. Dalk omdat die skilderye meestal bekend lyk. Ek onthou hulle van my skoolmaats wat kuns gehad het se boeke. Voor iemand my kon keer, neem ek ’n foto van een van die beroemde skilderye. Dit voel asof ’n mens deel is van die skildery. 

’n Sekerheidswag fluister in my oor dat ek nie mag foto’s neem nie. Ek sal nie weer nie, beloof ek plegtig. 

DAG 7: Nijmegen

Ons toer staan einde se kant toe, maar eers maak ons ’n draai in die stad Nijmegen. Dis die oudste stad in Nederland en hier is geboue wat dateer uit die Romeinse tydperk.

Ons stap deur die Valkhofpark (valkhof.nl) en kyk na die ruïne van die St. Maartenskapel (1155). Die St. Nicolaaskapel (1030) langs die Waalrivier is die oudste gebou in Nederland wat steeds vir dieselfde doel gebruik word. Gewyde musiek vul die ruimtes van die ou kerk. Dié twee kerke was destyds deel van die groter Valkhofkasteel, wat gesloop is aan die einde van die sewentienhonderds. Keiser Karel die Grote het op ’n tyd hier gebly. 

Wat ’n onvergeetlike vakansie in Nederland. Ek het die mooiste plekke gesien en kon op die koop toe my een kleinkind Jasmijn se gradeplegtigheid meemaak en haar suster Marjolein se Nederlandse kêrel, Niels, ontmoet. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #146 (Desember 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.