FOTO'S: Patrick en Marie Gurney

Namate die Ethiopiese grenspos nader kom, sien ons die eerste keer in vier maande groenigheid. Die woestynlandskappe van die Soedan, Egipte en Jordanië was maar bar. By die stil dorpie Gallabat moet ons ’n vloot lorries systap om by die immigrasiekantoor uit te kom. Die proses is redelik pynloos en binne twee uur is ons in Ethiopië – een van die langverwagte hoogtepunte op ons reis.

Van die grenspos af ry ons 350 km in die rigting van die Tanameer; soms is die pad geteer, soms is dit grondpad. Dis min of meer hoe ons reis in dié land verloop: Die paaie is goor. Ons het ons lelik misgis met die reistyd en moet noodgedwonge die aand sommer langs die pad kamp.

Die volgende dag ry ons na Bahir Dar aan die suidpunt van die Tanameer. Van hier af het ons die Ethiopiese Ortodokse monnikekloosters in die gebied verken. Die Blou Nyl-waterval was ook op ons lys, en ons het tyd ingeruim vir die heerlike plaaslike kos en in vele restaurante geëet.

Ethiopia
TRADISIONELE BOERE NABY BAHIR DAR

Ons het die Ura Kidane Mihret-monnikeklooster besoek, en ook ’n minder bekende een in die omgewing. Albei is binne in helder kleure geverf en beeld tonele uit die Ortodokse geloof uit.

Toe ons daai aand net buite die monnikeklooster in ons daktent slaap, het ’n paar monnike ons wakker gesing. Aanvanklik was daar iets engelagtigs aan die ervaring, maar ná ’n paar uur van valse note het ons anders begin voel.

Die volgende aand het ons naby die Blou Nyl-waterval oornag. Ons het die ganse dag deur die nabye dorpies gestap. Iewers het ons ’n Portugese brug gekruis wat in 1626 gebou is, en ook ’n moderne hangbrug om die 45 m hoë waterval te sien. Ongelukkig het die waterval se eertydse breedte van 400 m tot 2-6 m vernou as gevolg van die hidroëlektriese stasie wat in 2003 ’n entjie verder stroomop gebou is.

Kalm ape

Ethiopia
GELADA-APE

Van Bahir Dar af het ons noord gedraai na Gonder, bekend vir sy 17de- eeuse kastele en paleise. Op pad stop ons by die Guzara-kasteel, wat 120 km van Bahir Dar af is. Dié kasteel uit die 1570’s is deels vervalle, maar steeds indrukwekkend. Ons vra toe die perseelbestuurder of ons daar mag kamp. Hy stem in, maar noem dat dit onveilig is en ons ’n wag nodig het. Ons het R200 betaal vir twee wagte met AK47’s. Hulle het egter heelnag gesels... volgende keer huur ons net een wag.

Ons het twee dae lank die besienswaardighede in Gonder besoek, insluitend die Fasil Ghebbi- koninklike enklawe (dis ’n kasteel met ’n grag reg rondom), in die hart van die stad. Asook die prentjiemooi Badplek van keiser Fasilidas, 2 km verder.

Ná ’n paar dae in die stad het die natuur ons weer geroep en ons wou graag die bekende gelada-ape in die Simienberg- nasionale park ontmoet. Die rit van 165 km en 4 uur was uitdagend, maar die moeite werd.

Ethiopia
GUZARA-KASTEEL

Gemeet teen hulle Suid-Afrikaanse bobbejaan-neefs is die gelada-ape dieprustig. Ons het hulle dopgehou waar hulle in die kort hooglandgras snuister en kon baiekeer sommer naby ’n groep van meer as 50 gaan sit. Dit was op ’n vreemde manier kalmerend om 2 m van so ’n aap af te sit.

Ons wou graag wild kamp in die Simienberg, maar kon nie. Langs die hoofgrondpad is ’n besige gemeenskapskamp wat swak bestuur word; die geriewe is teleurstellend. Weer moes ons vir ’n wag betaal. Hy het 10 m van ons tent af gesit en gewillig sy AK47 gewys vir almal wat ’n kiekie wou neem.

Ons het op kort stappies gegaan in die hoop op ’n bietjie stilte en privaatheid, en darem ’n skaars Ethiopiese wolf gesien.

Ethiopia
SIMIENBERG- NASIONALE PARK

Van die Simienberg af is ons noord na Axum. Dié dorp se bloei-tydperk was van ongeveer 100 n.C. tot 700 n.C. toe dit die kern was van die magtigste staat tussen die Oos-Romeinse Ryk en Persië.

Ons was egter meer gefrustreerd as beïndruk omdat ons nie wild kon kamp nie. Dis net nie dieselfde om in die parkeerterrein van ’n hotel te kamp nie. Hier het ons verskeie toeristeplekke besoek soos obeliske, graftombes en ander monumente soos die koningin van Skeba se swembad en Dungur, wat glo die paleiskampong van die koningin van Skeba was. Al hierdie attraksies is verwaarloos. Swak bewaring en ongereguleerde toerisme is waarskynlik die oorsaak. Ons het baie gehou van die obeliske. Die hoogste een (33 m) is gebreek en die los dele lê steeds waar dit eeue gelede geval het.

Ethiopia
SIMIENBERG- NASIONALE PARK

Van Axum af het ons noord gereis, byna tot by die grens van Eritrea. Ons wou die “hangende” kerke of monnikekloosters sien; dit word só genoem omdat dit bo-op hoë berge en teen steil kranse gebou is. By Debre Damo word net mans toegelaat en Marie moes in die Hilux wag terwyl ek tot bo sukkel. Ek moes ’n krans van 15 m met net ’n beesvelriem uitklim – dit was senutergend!

Van al die hangende kerke het ons die meeste van Abuna Yemata gehou, sowat 120 km suid van Debre Damo. Die klim tot daar is malligheid, maar jou beloning is ’n piepklein kerk wat uit rots gegrawe is, bykans 200 m bo die omliggende landskap. Dis in die 5de eeu gebou en bittermin toeriste kom hier. Die muurskilderye is kleurryk en die uitsigte fantasties. Ons het drie nagte wild hier gekamp, wat ons gemoedere goed gedoen het.

Ethiopia
MONNIKEKLOOSTER NABY URA KIDANE MIHRET

Een van die beste dinge van wild kamp in Ethiopië is dat jy byna die heeltyd hiënas hoor. Dís mos nou opwindend! Blykbaar hou Ethiopiërs van hiënas omdat hulle met karkasse klaarspeel, en dit help met goeie higiëne rondom dorpe.

Hittig en soutig

Die Danakil-laagte is een van die mees onherbergsame plekke op aarde. Dis nie maklik om tot hier te kom nie – dis eerder ’n ekspedisie as ’n reis. Van die dorpie Mek’ele af het ons om veiligheidsredes saam met ’n toermaatskappy vir US$200 in ’n konvooi na die laagte gereis. Hoewel ons in die winter daar was, was dit steeds saans omtrent 45 ºC en slaap was bykans onmoontlik.

Ethiopia
BERGPAS NABY AXUM

Ons wou self ry; dus moes ons die Hilux deur soutpanne stuur en met die onlangse reën was hier soutwater van 10-20 cm diep waardeur ons moes kom. Nie ek of die twee ander selfryers was gelukkig hiermee nie omdat dit die voertuie se onderstel erg (en vinnig) kan laat roes. Die volgende dag het ek en Marie saam met een van die toeroperateurs gery en die Hilux op ’n plek met die naam Maglalla gelos.

Danakil is waarskynlik een van die oudste bewerkte soutmyne ter wêreld. Die Afar-myners is daarin geoefen om deur ’n dik laag sout van 10 cm te kap om tablette uit te sny.

Dit moet een van die uitmergelendste werke op aarde wees as jy in ag neem hoe vreeslik warm dit hier word. Honderde kamele lê en wag in die son om meer as 20 tablette te laai en na informele markte te vervoer.

Ethiopia
UITSIG VAN ABUNA YEMATA AF

Die werklikheid

Die oomblik toe ons Ethiopie¨ binnekom, was dit duidelik dat toeriste – veral wit toeriste (genoem faranji) – met geld vereenselwig word. Almal het elke dag vir ons geld gevra. Dit het ons verhinder om’n outentieke kulturele ervaring te he^.

Gedurende die eerste drie dae in die land was dit duidelik datiets nie pluis is nie. Na´ ’n jaar op die pad ontwikkel ’n mens ’n gevoel oor ’n land en leer ken jy die atmosfeer. ’n Mens sien dit in diereaksie wanneer jy vir ’n vreemdeling waai, hoe jy behandel word by sekerheidspunte of selfs met ’n eenvoudige transaksie soos brood koop. Die mense was glad nie so vriendelik soos in die Soedan waar ons pas vandaan kom nie. Die beamptes by sekerheidspunte was kortaf en daar was geen “welkom” of “kan ons help” nie. Byna niemand het teruggewaai nie en glimlagte was min. In Bahir Dar het ons begin vis en uitgevind dat daar groot stamkonflik in Ethiopie¨ is – en die vlugtelingekrisis is groter as in Sirie¨!

Ethiopia
DEBRE DAMO

Volgens 2018-nuusverslae het Ethiopie¨ die snelgroeiendste ekonomie in Afrika, maar ons kon geen teken hiervan sien nie. Woonhuise is dikwels haglik. Bestaansboere werk met tradisionele implemente en gebruik outydse tegnieke wat nie volhoubaar is nie. Die impak van ongereguleerde boerderypraktyke en die verkryging van houtskool op die omgewing is kommerwekkend. Ons het enorme ontbossing, erosie en die toeslik van riviere aanskou.

Lalibela en Lucy

Ons is met grondpaaie van Mek’ele na Lalibela oor Sekota met ’n paar bergpasse. Dit het ons 11 uur geneem om 280 km af te lê. Ethiopië is die ene bergpasse! Nêrens anders op ons reis het ons soveel bergpasse teëgekom nie.

Ethiopia
KAMPPLEK NABY ABUNA YEMATA

Lalibela was ontnugterend. Sanitasie is beslis ’n groot probleem (oorskietkos en dieremis is oral), die paaie is in ’n toestand (ná die reën was dit die ene modder), en die blykplekopsies beperk (tog baie duur vir wat beskikbaar is).

Ons het ’n gids gehuur wat ons na bekende kerke soos Bet Giyorgis geneem het. Dis ’n 5 m hoë kerk, uitgekerf uit soliede rots in die vorm van ’n kruis. Ons het ook gedraai by Bet Medhane Alem, Bet Mercurios en ’n paar ander.

Hier voel jy die gewydheid, die oudheid en die sterkheid van die klip.

Die hoofstad, Addis Abeba, is uiteenlopend. Modderbaksteenhuise met sinkdakke staan langs groot Westerse hotelle en administratiewe geboue met ’n kommunistiese invloed.

Ons het ’n paar kontakte gehad wat ons rondgeneem het, en ’n paar stadsmuseums besoek – soos Haile Selassie se huis – en kon ook vir Lucy groet, die fossielskelet van ’n Australopithecus afarensis wat in 1974 in Ethiopië gevind is.

Ethiopia
DALLOL, DANAKIL-LAAGTE

Ons het die gebruiklike Kersoffers gekoop en aan die priesters oorhandig. Ons was hier op die dag waarop St. George gevier is. Teen seweuur die oggend het pelgrims reeds buite die kerk gesing. Die hoofstad, Addis Abeba, is uiteenlopend. Modderbaksteenhuise met sinkdakke staan langs groot Westerse hotelle en administratiewe geboue met ’n kommunistiese invloed. Ons het ’n paar kontakte gehad wat ons rondgeneem het, en ’n paar stadsmuseums besoek – soos Haile Selassie se huis – en kon ook vir Lucy groet, die fossielskelet van ’n Australopithecus afarensis wat in 1974 in Ethiopië gevind is.

Ons het baiekeer by restaurante geëet, en die hoogtepunt was ’n buffet by die nuwe Hyatt-hotel – dit het gratis wyn ingesluit! Ons was uitgerus en reg vir die volgende skof – dis verbasend wat ’n glas goeie chenin blanc kan doen.

Bier in die bos

Ethiopia
PATRICK EN MARIE GURNEY IN DIE DANAKIL-LAAGTE

Altesame 80 etniese stamme woon in Ethiopië en 8 hiervan bly in die Omovallei.

Dit het ons 4 dae en 600 km geneem om van Addis Abeba te ry na Jinka in die suidelike deel van die Omovallei. Die stamme vra nou geld wanneer jy kuier (R200 om ’n dorp te besoek en R400 om foto’s te neem); dus moes ons mooi kies. Ons het op drie stamme besluit: Mursi (foto regs bo), Bana en Hamar (regs onder).

Ethiopia
HUIS VAN DIE KLOOSTERVADER LIBANOS, LALIBELA

Die landskap het dramaties verander. Die groen berghange verdwyn en maak plek vir plat struikbosse met baie sand en die grootste wildevyebome wat ons al ooit gesien het.

Mense kom in Jinka bymekaar vir markdag en die verkoop en ruil van plastieksandale tot groente, rou heuning en vee. Ons het by ’n koffiewinkel gesit en die bedrywighede dopgehou.

Al die stamme is beskermend en trots op hulle herkoms en kleredrag. In die groter kommersiële dorpe is die Westerse invloed duidelik, maar hier vier die mense hulle identiteit, tradisies en waardes.

Ethiopia
Ethiopia
Ethiopia

Ons het twee dae lank in die Mago- nasionale park gekamp, die Mursi-stam besoek, en toe verder suid gereis na die dorp Tumi, waar die Bana- en Hamar-stam woon. Ons het ’n gids gevind wat ons na ’n maandelikse kuiersessie in die bos geneem het. Ongeveer 60 stamlede kom vir 3-4 dae bymekaar en bly in tydelike skuilings terwyl hulle skinder en brousels geniet (die gids noem dit die plaaslike “Facebook-groep”).

Die vroue versier hulleself met muntskulpe, glas- en metaalkrale en dra kraletjiesbokvelle en -rompe. Die bier (tella) is effens suur met ’n pikante geur en word uit ’n groot kalbas gedrink. Botter word ook in kalbasse gekarring en gebêre (foto regs, middel). Ek het baie gehou van die plaaslike ouzo (dis ’n wit alkoholiese drankie met ’n anysgeur), maar sooibrand later is ’n gegewe.

Ethiopia

Ethiopië is ’n unieke land met hope toeristemoontlikhede. Ons het twee maande hier deurgebring, en elke dag verskeie toeristeplekke besoek. Ons het altesame 5 000 km afgelê (in ander lande was dit 2 000 km) en steeds net ’n derde van die land gesien. Dis ’n buitengewone land!

Ethiopia
PELGRIM, LALIBELA
Ethiopia
PRIESTER, LALIBELA
Ethiopia
BET GIYORGIS

Ontmoet vir Patrick en Marie Gurney

Die Gurneys het op 3 Junie 2018 uit Marie se geboortedorp, Valence, Frankryk, weggetrek met die doel om binne 18 maande tot by hulle huis in Johannesburg te ry. Teen die tyd dat hulle Ethiopië bereik het, was hulle reeds 12 maande op die pad. Hulle het deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slovenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Turkye, Israel, Palestina, Jordanië, Egipte en Soedan gereis. Hulle het dié reis onderneem om hulle denke oor kultuur te vernuwe en inspirasie te put uit die mensdom sodat hulle beter besluite kan neem – in hulle eie lewe én hulle beroepe.

Marie is ’n volhoubaarheids-konsultant en Patrick ’n bemarker.

NOG INLIGTING

Stuur ’n e-pos na info@skultcha.com as jy vrae het oor die Gurneys se reis, of gaan na skultcha.com. Soek hulle op Facebook deur “skultcha” in te tik, en @skulcha op Instagram.