Hier volg ’n uittreksel oor sy avontuur wat hy destyds aan Pieter Oosthuizen vertel het.

Die met die Kirk Douglas-kennebak aan ons eettafel neem ’n sluk water uit die plastiekbottel, gryp ’n mes en vurk tussen die vlieë op sy skinkbord en sê met ’n groot sleepstem: “Oh my g-á-w-d, it was háwrible!

Jeff Quade, ’n Dakar-groentjie, is in die middel van sy storie oor dag twee se sand. Hy is nie hoogdrawend nie. Ook nie ’n slimjan nie. As mens hom beter geken het, sou jy kon sê of die man met die Marine-haarsnit en sterk bruin oë bang was.

Die volgende dag se bergklim-episode met sy dun lug het by hom gespook. Hy was bekommerd oor die gróót duine wat oorkant die Andes gewag het. Maar daar was een groot sekerheid: sy respek vir die Dakar het met elke kilometer toegeneem.

Jeff het nooit by die Atacama uitgekom nie. Hy was deel van die 55% tweewielryers wat in die eerste helfte uitgeskakel is – presies wat die organiseerders vir die sesde Suid-Amerikaanse Dakar beplan het.

Maar dié storie gaan nie oor Jeff nie. Dié ervare jaer van die Baja-wedren in Mexiko is op die tweede van die ren se dertien dae met die Dakar se ware aard gekonfronteer toe hy al vallende oor ’n duin gespook het – net om nóg vyf jaers om hom tussen die graspolle te sien lê.

Dié toneel was die eerste van drie dae se hel waarin die versengende hitte en rowwe terrein 60 motorfietsjaers afgemaai het.

Malle Moto word bestempel as ’n klas halfpad tussen die produksie- of superproduksie- en die marathonafdelings. Laasgenoemde is die grootste klas, waar ’n hele lorrie vol werktuigkundiges jou mag help, maar jy nie soveel onderdele mag vervang soos in die Malle Moto nie, waar jy stoksielalleen is.

Dis mál – en dis die mooi beskrywing

En dis waaroor hierdie storie gaan. Oor ’n groepie ouens wat “oorlewing van die geskikste” tot die laaste letter probeer toepas op ’n amper vergete, puristiese wyse wat soms na onbegryplike malligheid lyk.

Dit gaan oor Malle Moto (uitgespreek Mêl-Moutou), wat in Frans letterlik verwys na motorfietsryers wat leef uit ’n tas, of in dié geval: ’n trommel. Hoewel jy baie onderdele aan jou fiets mag vervang, is daar twee vangplekke: Een, die organiseerders sal elke dag nét daai trommel onderdele vir jou na die volgende bivak karwei; en twee, jy mag geen werktuigkundiges hê nie. Met ander woorde, dis basies jy en jou motorfiets teen die Dakar.

Malle Moto-jaers is die ridders van ’n slagveld tussen man, masjien en voorspoed. Dis oor sulke ouderwetse ridderskap wat Don Quixote verklaar het: “It’s up to the brave hearts, sir, to be patient when things are going badly…”

Dit word nie aanbeveel vir groentjies nie. Altesame 23 manne het vir die Malle Moto-afdeling van die 36ste Dakar ingeskryf. Net 18 van hulle – dit was 10% van al die motorfietsjaers – het weggespring en 7 het die eindpunt gehaal: drie Nederlanders, drie Fransmanne en ’n Suid-Afrikaner.

“Ek dink ek het die verkeerde Dakar gekies om so iets aan te vang,” sê Brett Cummings in die woestyn-bivak teenaan die Andes-voetheuwels naby die Chileense dorpie El Salvador nadat hy op die derde laaste dag die langste sneldeel in die tydren (605 km) voltooi het.

Die res van ons gesprek is tot die volgende aand, ná ’n “makliker” dag, uitgestel – by een van daai vyftigtal eettafels. Eers moes hy nog mousse (’n soliede skuimrubberbuis in plaas van ’n binneband) vir sy bande gaan soek by die mense wat dit, net soos sy bande en ’n ekstra enjin, goedgunstelik op hulle dienstrok saamry. Dit was iewers in die bivak. En tyd was kosbaar.

Die volgende oggend vertel Brett dat motorfiets nr. 118 – ’n Malle Moto – eers skuins voor 03:00 die oggend by die bivak aangekom het. Knaende bivak-bedrywighede laat mens soms vergeet dat daar nog ryers daar buite is, iewers in die woestyn.

Dié keer lyk dit of nr. 118 se stryd verby is. In die koel, mistige oggendure van die voorlaaste dag lyk sy fiets soos ’n stuk rommel uit ’n ou Mad Max-fliek. Waar die noodseintoestel, Iritrack, Sentinel, GPS en roeteboek bo voor die stuurstang sit, hang los drade in alle rigtings, asof iets ontplof het.

Brett-hulle begin aanry na die dag se wegspringplek, dié keer net buite die bivak. Dis ’n amper onwerklik wrede toneel. Dis die Dakar in al sy glorie. Nr. 118 en sy baas is skielik alleen, op ’n stukkie woestynsand, besig met ’n dodelike stryd teen tyd.

Ja, jy kry kos, maar…

Ek kyk na die hopie paella en ’n verdwaalde stafie sjokolade-mousse op Brett se skinkbord. Tyd is kosbaar en ek voel skuldig oor ons onderhoud – en my skinkbord vol kos.

Dié raadgewende ingenieur van Witbank laat jou aan ’n stuk biltong dink. Die taaiste stuk is sy kop. Malle Moto vereis dit.

Ek dink aan my vorige besoek aan die Dakar toe ons op ’n sterkgeboude solo-jaer afgekom het waar hy kop onderstebo op sy trommel langs ’n noodlottig gewonde ysterperd gesit het. Sweet en trane het in die Atacama se sand geval.

“Om hierdie alleen te doen, is amper onmoontlik,” sê Brett. “Ná die eerste drie dae het dit onmoontlik gelyk.

“Verlede jaar het ek een of twee keer geval, nou het ek reeds twintig keer geval. Verlede jaar het ek drie- of vieruur in die middag by die bivak aangekom wanneer daar nie probleme was nie, maar nou is dit vyf- of sesuur. Die een tot twee ure wat ek nou verloor, is die tyd wat ek aan my roetenotas kon spandeer.”

Dit was nie ’n klagte nie, eerder ’n stelling. Hy praat met ’n bedeesde kalmte; ’n ekonomiese gebruik van woorde en gesigsuitdrukkings en geen melodramatiese oomblikke nie. Dis ’n stem wat sy eie verhaal van ’n diep, onderliggende moegheid verdoesel, net soos sy stowwerige ryklere ’n beskroomde, pimpel en pers gekneusde lyf toehou.

Wanneer hy sê: “Hulle het steke ingesit nadat my kop die boonste rand van die windskerm getref het,” klink dit soos: “Ja, dis nogal ’n mooi aand.”

Geen grappies nie

Hou jy hom dop terwyl hy langs sy tentjie, ’n oop gereedskapstrommel en ’n hoop gebruikte klere en rystelwels aan sy fiets werk, val die gebrek aan ’n geskarrel jou op. Die amper besadigde handeling weerspieël ’n verrassende kalmte.

Een van Brett se Malle Moto-makkers wat hom ’n paar keer met sy roeteboek gehelp het, was die 50-jarige Eric Palante, ’n Belgiese Dakar-veteraan wat in sy elfde ren dié gesogte titel wou wen. Hy is dood in die duine van die uitmergelende vyfde skof in Argentinië gekry. Uitputting en blootstelling het klaarblyklik ’n rol gespeel.

Brett het voorheen ook naam gemaak as ’n barmhartige Samaritaan wat ’n puik vertoning in sy eerste Dakar opsy geskuif het om ’n Aussie-spanmaat, Todd Smith, amper 160 km met ’n sleeptou uit die duine te kry sodat hy ook die ren kon voltooi.

Saans, as jy by die bivak aankom

“Ek gebruik spesiale oorpluisies om beter te slaap. Want as jy eers agter raak met jou slaaptyd, raak dit gevaarlik. Jy haal nie sommer weer verlore slaap in nie.”

Dis interessant dat Dakar-reëls bepaal ’n jaer mag die volgende skof net begin as hy kan “bewys dat hy ses ure sedert die vorige skof in die bivak gerus het, of dat hy die goedkeuring van ’n dokter het”.

“Wanneer ek en die fiets in een stuk by die volgende bivak uitkom, was my beplande roetine aanvanklik: kyk eers na die fiets, gaan luister na die voorligting oor logistiek en die volgende dag se roete, waarskuwings en afstand-raamwerke, eet aandete en sorteer die roeteboek uit. Maar ek het agtergekom dis beter om my roeteboek laatmiddag aan die eettafel te doen en dan in koeler lug aan die fiets te werk.

“Ek werk gemiddeld drie tot vier uur per dag aan my fiets. Die bande gaan haal ek by die SA span wat dit vir my saamkarwei, sodat Michelin dit op die vellings kan sit. Jy kan soveel bande gebruik as wat jy wil, maar iemand moet dit vir jou saamkarwei. Ek het nou (ná ’n dosyn skofte, sowat 8 000 km) vier voor- en vyf agterbande gebruik, wat nie sleg is nie.”

’n Goeie voorbeeld van presies watter alleenstryd ’n Malle Moto-jaer voer, is Brett se probleem met die vurk vir sy voorwiel. Dit het te doen met reëls, waarvoor daar 11 bladsye vol boetes in die regulasies is.

“Ná die 605 km-skof (die langste sedert 2005 in Afrika) moes ek die vurkseëls vervang. Ek kon nie die hele vurk by KTM kry nie, want dan sou hulle my volgens die Malle Moto-reëls moes diskwalifiseer. Ek kon nie eens die vurk na KTM vir herstelwerk vat nie. Toe gaan vra ek ’n KTM-veringpesialis om vir my vinnig te wys hoe ek dit self moet doen.

“Die vurk, wat ek met ’n spesiale stuk gereedskap in ’n stofstorm moes regmaak, was my grootste probleem in die tydren.”

Almal verdien respek

Die Dakar is die enigste sport waar almal op die podium verskyn, asof elkeen goud, silwer of brons wen. Motorfiets nr. 118 was ook op die podium, heel laaste. Hy het toe wel op daai mistige oggend weggekom, en ook op die laaste dag.

Hy het 56 uur agter die jaer voor hom geëindig. Hy was gemiddeld meer as vier uur stadiger per dag as die stadigste jaer, maar aan die einde het dit nie meer saak gemaak nie. Tyd was volop.

So ook respek.

Brett Cummings se 13 Dakar-skofte:

Skof 1: Eindig 65ste algeheel;

Skof 2: Verloor agterste petroltenk-dop. Gaan staan 25 km van sneldeel se eindpunt. Kry petrol by toeskouers. ’n Enjinmontering breek (53ste algeheel);

Skof 3: Stop amper 40 km in sneldeel om David Reeve van Zambië te help nadat hy sy knie uit potjie geval en ligamente geskeur het. Wag ’n halfuur op ’n helikopter. Sy roeteboek werk nie lekker nie, daarom sit hy Reeve s’n op sy fiets. Van daar af moes hy ’n klomp jaers inhaal en in die stof verbysteek (45ste algeheel). (As jy langer as 3 minute stop om iemand te help, word die verlore tyd afgetrek van jou sneldeel-tyd);

Skof 4: Verdwaal en ry ’n 25 km-ompad weens ’n navigasiefout.

Skof 5: Kry baie swaar, soos al die ander ryers. Toe hy in Tucuman se bivak aankom, moes hy ’n drup opsit omdat hy erg ontwater het (32ste algeheel);

Skof 6: 30ste algeheel;

Skof 7: Ly soos almal in die dun lug (30ste algeheel);

Skof 8: Sukkel steeds met dun lug en het ’n groot ongeluk toe hy erosiesloot probeer vermy, ’n rots skrams tref en teen amper 80 km/h val (31ste algeheel);

Skof 9: 30ste algeheel;

Skof 10: Sy “sentinel” (’n alarm wat jou waarsku as ’n vinniger voertuig wil verbysteek) hou op werk. Twee dae later is dit al drie keer vervang. (31ste algeheel);

Skof 11: Enjinprobleme met petrol van die organiseerders se voorraad. Enjin stotter soms (29ste algeheel);

Skof 12: Verdwaal bietjie (28ste algeheel);

Skof 13: 28ste oor eindstreep.


Hierdie artikel het in November 2014 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.