Toe Robert Gray – toe die Biskop van Kaapstad – die St. George’s Anglikaanse kerkie in die Knysna-middedorp 1855 ingewy het, sou hy nie gedink het ’n nasionale pad gaan meer as 160 jaar later teen die kerkgrond verby loop nie.

Die kerk is gebou op grond wat George Rex, die dorpstigter, geskenk het.

Vir dekades is geskinder dat die einste George Rex die buite-egtelike kind van Koning George III van Engeland was, maar meer as ’n eeu ná sy dood het genetiese toetse bewys sy bloed was nie blou nie.

Jy kan die kerkgronde besoek en die grafte in die tuin bekyk. Lede van die Thesen-familie, John Rex (die seun van George Rex wat die hoeksteen van die kerk gelê het), en selfs John Benn rus onder die kerk se akkerbome.

Die jaar 1855 was bedrywig vir Robert Gray. Behalwe vir St. George’s het hy ook die Holy Trinity-kerk ingewy by Belvidere aan die ander kant van die strandmeer. Besoekers kry ’n kaart waarop die Gebedsroete aangedui is – ’n roete tussen verskeie punte op die kerkgronde vir meditasie en gebed.

Die Holy Trinity-kerk
Die Holy Trinity-kerk

Stap ná jou besoek aan die kerk deur die historiese gedeelte van Belvidere.

Die Knysna-museum is in Koninginstraat, stop hier as jy wil uitvind wie die grootmenere (en mevroue) van die dorp was. Die onderskrif op een van die geraamde foto’s lui: “Robert Thornley-Jones het met Ella Thesen in die huwelik getree. 1924. Die fotograaf het ’n ekstra vinger aan sy een hand gehad.”

Die museum bestaan uit vyf historiese geboue op die perseel, asook die Ou Tronk by die hoek van Koninginstraat en die hoofstraat. Toegang is gratis, maar skenkings is welkom.

Naas die grootvoete het Dalene Matthee die diepste spore in die Knysna-woud getrap. Met romans soos Kringe in ’n bos, Fiela se kind en Toorbos het sy dié woude vir duisende lesers in die lewe geroep. Sy word gedenk met ’n monument by ’n geelhoutboom by Krisjan-se-nekpiekniekplek.

Die woude het ’n ryk verlede. Hoewel die Millwood-museum (asook die Mother Holly-teetuin reg langsaan) tydelik gesluit is, kan jy steeds net verby die hek by ’n houtkappersbegraafplaas stop.

Sommige grafstene het inligtingsborde wat die roerende stories vertel van die mense wat hier lê. Ander grafte is net ’n uitstulping in die grond.

Die Diepwalle-stasie se Forest Legendsmuseum is steeds oop. Die museum vertel oor die lewe van die houtkappers, die diere wat in die woud voorkom, en daar is ’n skelet van ’n Knysna-olifant in een van die kamers.