Die Austin Roberts-reservaat, genoem na een van Suid-Afrika se bekendste ornitoloë) in die hartjie van Muckleneuk, Pretoria, is ’n groot groen long van 11,8 ha wat jou gaan verras met die hoeveelheid spesies wat hier voorkom. Waar ek kan, verander ek maar biodiversiteit/omskryf dit – klink na so formele woord. Maar nie NB

Wat is hier te doen? Kry jou sit met ’n verkyker in die voëlskuiling. Binne 20 minute het ek meer as 20 spesies gesien, waarvan ’n swartreier ’n aangename verrassing was. Ek wou nog altyd een op my voëlkyklys afmerk en hulle sien jag.

Dié voël strek sy vlerke soos ’n sambreel bo sy kop wanneer hy op die water jag. Dit word canopy feeding genoem, en die skadukol wat sy oopgespreide vlerke op die water gooi, lok visse nader.

Bespreek ’n begeleide toer saam met ’n voëlgidse - die beste tyd hiervoor is vroegoggend.

Wat nog? Nadat jy die reservaat verken het, kan jy ontbyt geniet by die Blue Crane-restaurant neffens die Austin Roberts. Die Kingfisherontbyt (R90) – ’n croissant gevul met roereier, maaskaas, sprietuie en gerookte salm is ’n wenner!

Die restaurant het ’n mooi uitsig oor die reservaat se dam. Bespreek vir jou ’n tafel by die venster – van hier af kan jy nog gevleueldes met jou verkyker sit en dophou.

Koste: Toegang tot die voëlskuiling is gratis. Jy kan die res van die reservaat slegs op ’n begeleide staptoer verken en dit kos R55 p.p. Besprekings vir die begeleide toere is noodsaaklik; bespreek minstens vier weke vooruit.

Oop: Somer (September tot April): 6 vm.-6 nm.; winter (Mei tot Augustus): 7 vm.-5 nm.

Bespreek toere hier: 012 358 1775; groenkloofnaturereservere@tshwane.gov.za

Algemene navrae:  Besoek die webblad hier ; 012 358 0130; cedrict@tshwane.gov.za;

Besoek die Blue Crane se webblad by bluecranerestaurant.co.za

GPS S25.76975 E28.22642 (hek)


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #124 (Februarie 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.