In Suider-Afrika is net tussen 8 000 en 100 00 kransaasvoëls in die natuur oor. En die enigste plek in die Wes-Kaap met ’n broeikolonie van dié skaars voëls is die De Hoop-natuurreservaat tussen Arniston en Infanta.

Kom meld hier aan om dié voëls te sien in hulle natuurlike habitat hoog bo die kranse van die Potberg.

Gidse begelei stappers omdat die Potberg-deel van die reservaat met groot sorg bewaar word. Die roete loop vir sowat ’n kilometer op ’n voetpaadjie deur ’n vallei en kruis dan ’n bergstroompie.

’n Kort opdraande volg. Julle klim een en ’n half kilometer tussen fynbos. Van hier kan ’n mens nie die see sien nie, maar die Atlantiese Oseaan lê net agter die berg en elke dan en wan ruik jy ’n vars seebries.

Sodra jy bo-op die rant aankom, raak die terrein plat. Dan stap jy vir sowat 200 m tot by ’n uitkykdek.

Van die dek af het ’n mens ’n uitsig oor die kloof en is jy byna op ooghoogte met die aasvoëls. Kransaasvoëls kan tot 8 000 m hoog vlieg – hulle longe is aangepas om die lae suurstofvlak te hanteer.

Dis nogal moeilik om die neste te sien, want dis goed gekamoefleer tussen die rotswande. ’n Verkyker is dus noodsaaklik.

As jy gelukkig is, sien julle ook swerfvalke, witkruisarende, rooiborsjakkalsvoëls, kransvalke en selfs ’n breëkoparend of twee.

Tans bestaan die kransaasvoëlkolonie uit sowat 200 voëls. Aasvoëlgetalle het oor die afgelope 20 jaar skerp gedaal weens vergiftigde waterbronne, kragdraadongelukke en die uitbreiding van landbougrond. Plaasboere werk tans saam met die reservaat om die natuur se skoonmaakspan te bewaar. Boere los vee wat gevrek het vir die aasvoëls om te aas; net soos hulle in die natuur sou.

Ná middagete drentel julle weer heuwel-af en mik terug na die Opstal-herehuis op De Hoop.

Tye: Dit hang af van die seisoen en die weer. Besprekings is noodsaaklik. Die beste tyd is in die somermaande, wanneer die voëls gereeld op die stygende warm lug sweef pleks daarvan om hulle vlerke te klap. Sodoende spaar hulle energie.

Onthou, dié bielies kan tot 8 kg weeg en het ’n vlerkspan van 2,5 m!

Waar? By die Opstal in die De Hoop Village in die reservaat. Jy los jou voertuig hier. Die uitstappie duur sowat drie uur.

Koste: R550 p.p. (net kinders ouer as 12). Die prys sluit middagete in. Dagbesoekers is welkom. Slegs 10 mense per groep.

Kontak: 021 422 4522; dehoopcollection.com

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook