Dlinza- verhewe woudplankiespad
Dlinza- verhewe woudplankiespad

Gewoonlik kan ’n mens net die vloer van ’n woud verken en jy moet jou nek behoorlik strek om iets in die boomtoppe te gewaar. In dié woud kan jy midde-in daai boomtoppe stap op ’n stewige plankiespad van 125 m.

Op die plankiespad kan jy ’n gans ander deel van die inheemse woud van 250 ha ervaar. Hier is ’n verstommende verskeidenheid voëls en heelwat klein diere wat hier woon. En hier’s nog ’n stuk geskiedenis ook: Blykbaar het koning Sjaka desjare vroue en kinders hier versteek toe sy vyand Zwide hom wou aanval.

In dié woud kan jy midde-in daai boomtoppe stap op ’n stewige plankiespad van 125 m

Jy begin stap op die welige woudvloer waar blouduikers rondtrippel, dan klim jy al in die rondte op staaltrappe hoër en hoër tot waar orgideë uit die bas van bome groei. Uiteindelik staan jy heel bo by ’n 20 m hoë uitsigdek in die boomtoppe waar boskraaie van een tak na die volgende fladder.

Dié platform is ’n fantastiese voëlkykkol. Hier kan jy die skaars withalsbosduif en die Natallyster sien. Vroegoggend hoor jy die roep van die bosloerie en die bloukuifloerie.

In Desember en Januarie begin bome soos die melkhout en umsambeet blom. Dan verander dié boomtoppe in ’n kleurespel met die pienk en ligpers blomme van die umsambeet en die geel vrugte van die melkhout.

Terug op die grond kan jy die woud verder verken op twee sirkelroetes: Die iMpunzi- (1,3 km) en uKonkaroete (1,8 km). Wees op die uitkyk vir vlinders, bosbokke en die bome met naamkaartjies wat hulle rol in tradisionele Zoeloe-medisyne verduidelik.

Hoe kom ek daar? Die Dlinza-woudplankiespad is in die Dlinza-woudreservaat aan die buitewyke van Eshowe, ongeveer 140 km noord van Durban met die N2 en die R66. Oop Die plankiespad is elke dag oop behalwe op Kersdag. Van September tot April is dit oop van 6 vm. tot 5 nm.; en van Mei tot Augustus van 7 vm. tot 5 nm.

Toegangstarief: R40 p.p.; R10 per kind; R30 vir pensioentrekkers en studente.

Kontak: 035 474 4029; eshowe boardwalk@telkomsa.net

Vir voëlkykers: Huur ’n gids by 035 474 4025 of boardwalk@birdlife.org.za – dan kan jy die woud voor of ná oop- en toemaaktyd besoek