Die Howickwaterval kry al die aandag, maar die nabygeleë Karkloofwaterval is die 16 km-rit werd. En, ek wil nou nie hare kloof nie, maar Karkloof ís 10 m hoër as Howick... Die piekniekplek is skoon, hier is toiletgeriewe, en sekerheidswagte is aan diens. Toegang is gratis vir die publiek.

Aanwysings

Die waterval is nie in die Karkloof-natuurreservaat nie (dié word privaat besit deur Rockwood Lodges); dis in die middel van ’n bosbouplantasie. Ry 9 km noord van Howick af op die Karkloofpad, en draai dan regs op die Karkloofwatervalpad. Ná 6,5 km se kronkel deur bome op ’n grondpad langs, kom jy by die uitkykpunt aan die ander kant van die ravyn uit.

Dinge om te doen

Verken die plantasiewoud en besoek die waterval met ’n bergfiets. Trap die 15 km-sirkelpad van die Karkloof Country Club af (S29.38308 E30.26392) en skep ná die tyd asem by Steve’s Bistro by die klub. Die Mega Breakfast kos R75 (twee eiers, spek, wors, sampioene, tamatie en roosterbrood).

’n Dagpermit om hier fiets te ry of ’n veldloop te doen kos R50 per volwassene en R25 per kind.

Die Karkloof-bewaringsorganisasie, wat deur boere in die Karkloofvallei in die lewe geroep is, het twee voëlskuilings 12 km van die Waterval af gebou. Dié skuilings word goed onderhou. Die Crowned Crane-skuiling – met gemaklike kampstoele en al! – kyk uit oor Gartmorepan, waar visvangers, bosluisvoëls, visarende en duikers floreer.

’n Kort stappie vat jou tot by die Wattled Crane-skuiling, waar jy sy naamgenoot (die lelkraanvoël), asook bergeende, kiewiete en snippe kan sien. Die skuilings is oop van 5 vm. tot 5.30 nm. en toegang kos R25 per volwassene en R15 per kind. Dis 17,5 km buite Howick, langs die Karkloofpad.

Kontak: 072 376 3023; karkloofconservation.org.za; conservancy@karkloof.co.za

Slaap oor

Jy kan by die Karkloof Country Club kamp en die klub se ablusiegeriewe gebruik vir R60 p.p.

Kontak: karkloofclub.co.za; karkloofmtb01@gmail.com