En dis met groot geduld gedoen, want ons praat hier van duisende kaktusse, vetplante en broodbome – en dié plante groei uiters stadig!

En boonop is elkeen van hulle van saad gekweek – niks is van elders af aangery en hier aangeplant nie.

Hier’s verstommend baie inheemse spesies, maar ook aantreklike plante uit ander lande. Soos die harige Ou Man van Peru (Espostoa lanata), Skoonma-se-kussing (die Mexikaanse Echinocactus grusonii) en die Malgassiese “seekatboom” (Alluaudia procera), met sy lang takke vol ritse blare én dorings.

Sheilam is nie die soort plek waar ’n mens indraf om inderhaas gou ’n geskenkplantjie te kom aanskaf nie. Glo my: sodra jy begin ronddrentel, sal jy spesies teëkom wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Hier’s ’n ontelbare verskeidenheid om van te kies, en ’n mens kan plante in enige grootte sowel as saad koop.

Klop aan by Minette Schwegmann by die kantoor vir raad, of bespreek vooraf ’n begeleide toer deur die tuin (soggens van Di. tot Do.). Dit kos R125 p.p., minimum 4 mense, en sy gaan wys jou al die sonderlinge spesies wat hier groei.

Dis ’n verrykende uitstappie – onthou sonroom en ’n hoed!

Hoe kom ek daar? Draai tussen Robertson en Ashton van die R60 af op die pad na Klaas Voogds-Wes. Die Sheilam-kwekery is 1 km verder op regterhand.

Oop: Maandag tot Donderdag van 8 vm.-5.30 nm. Op Vrydae sluit die kwekery om 4 nm. en Saterdae is dit oop van 8.30 vm. tot 3 nm. Toegang kos R10 p.p.

Kontak: 023 626 4133; sheilamnursery.com

Voogds-Wes
Die tuin en kwekery het ’n wye verskeidenheid kaktusse en vetplante.
Die geel blom van ’n Stenocereus-spesie.