By die Giraffe House Wildlife Awareness Centre op Stellenbosch is Gerry, die kameelperd, een van die bekendste inwoners. Hy kou salig sy blare terwyl julle foto’s vat. Hier is ook ander diere soos sebras, Kaapse jakkalse en bontebokke. En ougat meerkatte en groottand krokodille. 

Die doel van die sentrum is opvoeding en skoolgroepe is welkom. Oor naweke en in vakansies word hier interaktiewe aktiwiteite aangebied.  Jy kan onder meer ’n brulpadda en koringslang met die hand groet… en natuurlik ’n selfie neem. 

Hier is nie ’n restaurant nie, maar ’n kiosk vir koeldrank, lekkers en skyfies. Besoekers is welkom om ’n piekniekmandjie in te pak. Hier is ook klimrame en swaaie vir speel as die eekhorings ’n middagslapie vat. En as Emma die uitstappie weer wil doen, kan Ma reël dat haar volgende verjaardagpartytjie hier gehou word – tref vooraf reëlings. 

Onthou die hele sentrum is oop en in die veld – dra dus gemaklike skoene en bring ’n sonhoed in die somer. 

Waar? Ongeveer 39 km buite Kaapstad. Vat die 39-afdraai van die N1 af na die R304 en links op die R101 – jy sal die aanwysingsbordjies sien. 

Koste: R55 vir grootmense, R35 vir kleinmense (2-15 jaar), en R40 vir Ouma. 

Oop: 9 vm.-5 nm. (Elke dag buiten Kersfees) Kontak hulle ook net vooraf om te hoor of daar nie spesiale aanbiedinge is nie.

Kontak: 021 884 4506 of gaan na facebook/GiraffeHouseWildlifeCentre; www.giraffehouse.co.za