Acrobranch het landwyd takke in Pretoria, Johannesburg, Kaapstad, Stellenbosch en Wildernis en jy kan twee uur lank by enige van hierdie takke in die boomtoppe baljaar in ’n veilige omgewing en op hindernisbane spesifiek uitgelê vir almal se graad van avontuurlus en ouderdom; kinders van 3 jaar af is welkom om op hulle eie baan pret te hê.

Elke tak het vier verskillende hindernisbane om van te kies. Die hindernisbane is vol uitdagings, klouterplekke, foefieslaaids en plankiespaaie wat tussen die bome, pale en platforms tussen bome uitgelê is. Op plekke gaan jy op plankiespaaie wat in die lug tussen bome en pale gespan is, tot by die volgende hindernis loop. Dan gly jy weer met foefieslaaids rond en klouter dan weer met toulere op en af teen bome. 

Kabelgly buite Stellenbosch
Kabelgly buite Stellenbosch

Veiligheid is ’n prioriteit en daarom word jy eers deeglik touwys gemaak vóór jy met die hindernisbane kan begin. Die gidse wat jou help, is goed opgelei en hulpvaardig, vriendelik en vol energie! Hulle bied ’n inligtingsessie voor elke toer aan oor veiligheid, die reëls en hoe die toerusting werk en dan kry jy die kans om die harnas en die ander toerusting op ’n oefenroete te toets totdat jy gemaklik voel om die kabelglybane aan te pak.

Kies uit hierdie roetes:

  • Acrotwigs (die geel baan) is vir die jong mensies tussen 3-6 jaar.
  • Monkey moves (die groen baan) is vir kinders vanaf 7 jaar en ouer; én grootmense.
  • Swinging Tarzan (die blou baan) is aansienlik meer uitdagend as die groen baan en perfek vir volwassenes en kinders ouer as 9 jaar wat vol avontuurlus is.
  • High Flying (die rooi baan) bied presies wat sy Engelse naam sê: hoogtes! Dié roete is net vir volwassenes en kinders ouer as 12 jaar.
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke

Van die Acrobranch-takke het ook hoogtebeperkinge by van die hindernisbane aangebring, besoek gerus die webwerf as jy meer hieroor wil weet.

Besprekings word aanlyn gemaak; jy kies jou tak, datum, tydgleuf en die roete en siedaar! Betalings kan met jou kredietkaart gedoen word. Jy kan elke tak ook bel en so jou bespreking maak.

Kontak: www.acrobranch.co.za; 086 999 0369

Kostes: Elke baan se pryse verskil en daar is pakkette waaruit jy kan kies. Kontak die takke en webwerf vir meer inligting.

Wat jy moet weet: Dra verkieslik tekkies of enige toe-skoen met deeglike vasstrap. Geen sandale of plakkies word toegelaat nie. Hulle raai aan dat mense met lang hare dit vasmaak en wegbind sodat hare nie aan takke kan vassit of haak nie.


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za

Die Acrobranch-tak buite Stellenbosch
Die Acrobranch-tak buite Stellenbosch
Foto: Liana Mocke
Foto: Liana Mocke