Ná  3,4 km op die pad na Brenton-on-Sea van die N2-afdraai is Margaret se Uitkykpunt. Dit kyk uit oor Belvidere, die strandmeer en Knysna in die verte. 

Net 1,1 km verder is daar nog ’n uitkykpunt oor die kuslyn tussen Brenton-on-Sea en Buffelsbaai. 

Van die land af kan jy The Heads op drie maniere verken. Parkeer jou voertuig by die East Head Café en volg die voetpad tot by voet van die oostelike heuwel om te sien hoe onstuimig die waters deur die twee koppe kan word. 

Bo-op die oostelike heuwel is ’n parkeerterrein met verskillende uitkykpunte van waar jy die dorp en The Heads van bo af kan bekyk. As jy aanhou met die voetpad, is daar nog uitkykpunte in die rigting van die oopsee van waar jy ook Coney Glen se strand kan sien.

Jy hoef nie eens uit jou voertuig te klim om die wêreld te waardeer nie. 

Van die Diepwallebosboustasie af loop ’n agterpad terug dorp toe.

Kom-se-pad draai af net noord van die King Edward VII-boom en kronkel vir 20 km deur die woud en oor die Kom-se-padpas tot by die Simolagholflandgoed. 

Hou halfpad by die Grootdraaipiekniekplek by die Gouna-bosboustasie stil om bene te rek. Na Simola is dit net 2,5 km teerpad tot by die N2. 

Die Sewepassepad tussen George en Knysna is ’n mooi alternatief vir diegene wat ekstra tyd op hulle hande het op pad na Knysna. 

As jy nie dié pad gery het nie, kan jy steeds die laaste van die 7 passe, Phantompas, omry. Die pad draai noord van die N2 af aan die westekant van Witbrug, en sluit na die pas weer aan by die Rheenendalpad. Die pas is vernoem na ’n mot wat in dié woude voorkom.


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za