Vat ’n stappie

Hou by die Greydam stil en loop met die tweespoorpad op, volg die bordjies na die toposkoop. ’n Toposkoop is ’n merker – gewoonlik by die hoogste plek in ’n gebied – wat in die rigting van belangepunte wys. Hierdie een wys die afstande en rigtings na omliggende dorpe.

Loer in by ’n museum

Die Observatory Museum (Bathurststraat 10; 046 622 2312) is ’n unieke viering van die Victoriaanse lewenswyse. Hier is interessante uitstallings wat terugdateer na die dae van die vroegste diamantjagter. Hier is ook ’n oorspronklike camera obscura – dit was lank die enigste een in die Suidelike Halfrond. Dié slim spieëlstelsel weerkaats die wêreld rondom tot op ’n tafel sodat jy ’n ogie oor die dorp kan hou. Toegangstarief: Op navraag.

Swaai daai sewe-yster

As gholf jou ding is, bespreek ’n rondte by die Belmont-gholfklub – ’n 18-putjiebaan omring met Albany-struikgewasse.

Waar? In die Belmontvallei, sowat 7 km suidoos van Grahamstad.

Kontak: thebelmont.co.za

Doen ’n toer saam met Basil Mills

Basil is ’n militêregeskiedenisfoendi en lief vir boeke. Hy kan ’n geskiedkundige toer aanpas om by jou belangstelling te pas. My gunsteling is sy literêre toer: Terwyl julle deur die strate stap, vertel hy jou alles oor die groot skrywers wat deur die jare op Grahamstad gewoon het.

Jy leer ook oor die geskiedenis van die dorp.

Kontak: Bel die Nasionale Engelse Literêre Museum (046 622 7042) en vra om met Basil te praat. Die literêre toer is gratis.

Besoek ’n natuurreservaat

Hier is wildreservate reg rondom Grahamstad. Die Amakhala-wildreservaat is een van die bestes en toeganklik. Dit lê net langs die N2, sowat halfpad tussen Grahamstad en Port Elizabeth (amakhala.co.za). Die Groot Vyf bly hier en jy sien dalk net al vyf op ’n begeleide wildrit.

’n Makker opsie is die Thomas Baines-natuurreservaat, net 15 km van Grahamstad af op die pad na Kenton-on-Sea (R343). Soek buffels, koedoes en ander bokspesies op ’n wildrit, of hou piekniek langs die Settlersdam. Die Makana- botaniese tuin is ook ’n besoek werd, veral as jy gedurende die Nasionale Kunstefees van die massas wil wegkom. Die tuin is sentraal geleë (ingang in Lucaslaan, wat uit Somersetstraat draai) en toegang is gratis.