Magoebaskloof, met die dorpie Haenertsburgas poort, is destyds deur die Skotseskrywer John Buchan beskryf as “The Land ofthe Silver Mist”. Want in hierdie hoogliggende deel aan die noordoostelike punt van die Drakensberg wat gekenmerk word aan grasveld, inheemse woude en watervalle, is dit dikwels mistig.

Magoebaskloof is ook ’n tussen gebied, met die Magoebaskloofpas wat op die R71 tussen Haenertsburg en Tzaneen kronkel en binne slegs 6 km ’n volle 600 m daal van die Hoëveldse eskarp tot in die subtropiese Laeveld.

Magoebaskloof se naam kom van koning Makgoba, die dapper vegter wat in 1885 onthoof is deur Swazi-krygers onder bevel vandie Z.A.R. se generaal Piet Joubert.

Dis ’n wêreld vol stories en geskiedenis: Haenertsburg het in 1887 met ’n goudstormloop ontstaan, en die laaste Long Tomkanon is op 30 April 1901 – gedurende die Anglo-Boereoorlog – by Rondebult deur die Boere vernietig. Maar dit is ook ’n magiese plek, met Modjadjiskloof verder oos waar die Reënkoningin al sedert die 16de eeu onder die Balobedu-stam die septer swaai.

Verken die Woodbushwoud

Die Woodbushwoud noordoos van Haenertsburg is die grootste inheemse woud in Limpopo. Jy kan die woud – met onder meer kiepersol, witstinkhout en Kaapse kastaiing – te voet verken langs die gewilde meerdaagse Magoebaskloofstaproete óf met ’n 4x4 die 14 km lange roete ry. Hou eers by die laning bloekombome stil voordat jy die inheemse woud behoorlik binnery – dis die hoogste geplante bome in die Suidelike Halfrond. Van dié reuse-bloekoms, wat reeds in 1906 geplant is, is meer as 80 m hoog!

Bring jou verkyker saam, stop gereeld en wees op die uitkyk vir voëlspesies soos die skaars woudpapegaai, bruinwipstert en die bloukuifvlieëvanger.

Woodbushwoud
Woodbushwoud

VINNIGE FEITE

Waar? Draai af van die R71 op die Houtbosdorp/Woodbush-grondpad naby die Magoebaskloof Hotel.

GPS: S23.85345 E29.98461

Hou piekniek by ’n waterval

Die Debegeniwaterval naby die Magoebaskloofpas is ’n maklik bereikbare piekniekplek.  Ry langs ’n grondpad deur die digte inheemse woud, parkeer en volg ’n staproete tot waar die Ramadiparivier 80 m ver stort tot in ’n poel.

Debegeni is ’n Pediwoord wat “plek van die groot pot” beteken en verwys na die groot poel onder die waterval wat veral in die somermaande ’n lekker swemplek is. September is dit nog ’n bietjie bibberkoud...Hier is ’n sirkelstaproete van sowat twintig minute wat veral voëlkykers lok. Die bosloerie, lawaaimakerjanfrederik en gryskwikkie is van die voëls wat jy hier kan sien.

Die piekniekterrein is ruim met braai- en ablusiegeriewe. Dit kan glo bedrywig raak oor naweke, maar op hierdie Maandagmiddag is dit stil.

VINNIGE FEITE

Waar? Die afdraai is aan die onderkant van die Magoebaskloofpas (R71), sowat 20 km noordoos van Haenertsburg. Volg die grondpad vir 3 km.

GPS: S23.81462 E30.02921

Hou jou lyf Tarzan

Magoebaskloof Adventures is langs die George’s Valley-pad buite Haenertsburg. Enigeen tussen 7 en 70 is welkom om die boomtoptoer oor die Letabarivierravyn aan te durf.

Hier is foefieslaaidkabels tussen houtplatforms wat meestal langs groot inheemse bome opgerig is. Die uitsig oor die waterval en rivier is besonders. By die platforms is inligtingsborde met interessante inligting oor die fauna en flora in die omgewing.

So leer jy dat die kiepersol soms gebruik word om konkoksies te maak wat glo help vir maagpyn enselfs malaria.

BOOMTOPTOER BO DIE LETABARIVIER
Boomtoptoer

VINNIGE FEITE

Waar? Langs die R528 (George’s Valley-pad), 12 km suidoos van Haenertsburg.

GPS: S23.97637 E29.99404Wat kan ek nog hier doen? Abseil, kloofing, tubing, bergfietsry, motorfietsry, verfbal en vlieghengel.

Kontak: 083 866 1546;  magoebaskloofadventures.co.za (Besoek die webwerf vir tariewe en meer inligting.)

Wandel tussen broodbome

Die Modjadji-broodboom (Encepha lartos transvenosus) is een van die oudste plantspesies.

Die Modjadji-broodboomreservaat, op ’n heuwel naby Modjadjiskloof, huisves die grootste konsentrasie van ’n enkele broodboomspesie op aarde.

Die reservaat van 530 ha is reeds sedert 1936 ’n nasionale monument.

Die broodboom is genoem na Modjadji, die reënkoningin van die Balobedu-stam – die enigste matriargale stam in Suider-Afrika. Die tradisie van ’n reënkoningin, wat glo die vermoë het om reën te “maak” of te bring, strek terug tot die 16de eeu. Broodbome is al beskryf as lewende fossiele en het 280 miljoen jaar gelede al op aarde gegroei.

Van die Modjadji-broodbome hier is 13 m hoog en die groot keëls weeg tot 34 kg.

Foto: EVAN NAUDÉ
FOTO: EVAN NAUDÉ

VINNIGE FEITE

Waar? Die Modjadji-broodboomreservaat is 40 km noordoos van Tzaneen. Dit is slegs 22 km van die Sunland-kremetart af, en dis dalk ’n goeie idee om albei plekke op een dag te besoek.

GPS: S23.63395 E30.35329

Kontak: 015 307 3582; 072 869 7678; golimpopo.com

Hoe kom ek daar? Die Magoebaskloofpas is op die R71 tussen Haenertsburg en Tzaneen in die Limpopoprovinsie. Die dorpie Haenertsburg, 60 km van Polokwane en 40 km van Tzaneen af, is die logiese poort tot Magoebaskloof. Die dorpie is sowat vier uur se ry van Johannesburg en Pretoria.

Beste tyd van die jaar?

Magoebaskloof is ’n heeljaarbestemming.


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za