Indien jy op ’n Saterdag hier is, stel jou wekker vir ’n vroegoggendbesoek aan die Shongweni-plaasmark ( 031 777 4686; shongwenimarket.co.za) sowat ’n halfuur binneland toe, naby die Hillcrest-buurt. Die mark is oop vanaf 6.30 vm. tot 12.30 vm.– bring ’n mandjie en laai dit vol vars organiese produkte en ander tuisgemaakte lekkernye soos kaas en brood wat nog oondwarm is.

Hier is natuurlik ook varsgemaalde koffie. Laat die kinders op die wipmatte spring terwyl jy aan ’n spek-en-eier-broodjie smul.

SHONGWENI-PLAASMARK
Shongweni-plaasmark

Hou by die plaastema en stop volgende by die Animal Farmyard and Tea Garden ( 031 765 2240; animalfarmyard.co.za; toegang R35 p.p.) in Botha’s Hill, vyf minute se ry van die plaasmark af. Die kinders kan die plaasdiere voer, op perde en ponies ry, die plaas op ’n trekker verken en ’n koei melk (10.30 vm en 3.30 nm.).

Terwyl die kinders hulle moeg speel, kan Ma en Pa ’n koppie tee drink. Hou die dieretroetelplaas vir heel laaste: Ouers en kinders sal ewe veel daarvan hou om van die plaasdiere vas te hou.


Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!