Op grond van die naam klink Suicide Gorge nie na die soort plek waar ’n mens enigsins wil rondhang nie, nog minder na ’n plek vir naweekpret. Om die waarheid te sê, dit klink na ’n plek wat jy liefs wil vermy.

Tog is dit presies waarheen ons vroeg op ’n Saterdagoggend op pad is. Ons gaan die kloofing-roete stap deur dié berugte rivierravyn in die Hottentots-Holland-natuurreservaat naby Grabouw. Op die roete stap, swem, klouter en slinger jy jouself van rotswande af in donker bergpoele in van hoogtes wat wissel van 3-14 m!

Devin Abrahamson, die vryskutgids wat saam met ons stap, lyk skepties oor ons kleredrag. “Eintlik vat ek nie groepe sonder wetsuits nie,” sê hy terwyl hy sy eie duikpak, asook ’n medisynekoffertjie, in ’n groot droogsak pak.

“Dit keer dat ’n mens kletterbek raak van die koue,” verduidelik hy. “En dit bied ’n ekstra lagie beskerming teen skerp rotshoeke, of teen die harde slag van water as jy dit teen ’n hoë spoed tref.”

Ek kyk na my ouerige tekkies, T-hemp, knielengte swembroek met pienk palmbome en ou pet. Op die video’s wat ons voor die tyd op die internet gekyk het, het dit gelyk soos gepaste drag vir Suicide Gorge. Nou is ek nie meer so seker nie. Ek lyk eerder reg vir die strand of vir roomys op ’n promenade.

Terwyl ons vir een of twee laatkommers wag, vertel Devin van ’n keer toe ’n duikpaklose in die kloof gegly en albei sy maermerries teen ’n skerp rotswand versplinter het. “Maar julle sal orraait wees,” sê hy. “Julle lyk soos ’n lekker klomp mense.”

Kloofing
Spring agter jou sak aan – dis nou nadat jy seker gemaak het jou waardevolle goed is waterdig verpak.

Kloof-in...

Ons kyk vir oulaas of die versnaperinge (en toiletpapier) deeglik in waterdigte pakkies verseël is, en val in die pad. Die stappie na die begin van die kloof is amper 10 km lank.

Dis ’n gemaklike pad wat tussen fynbosbedekte berghange loop. Die paadjie is steil: klim eers geleidelik, en die laaste stukkie skerp.

Plek-plek kom ons ander stappers teë – Kaapse Natuurbewaring laat net sowat 30 mense per dag toe in die kloof. ’n Mens kan jou amper verbeel jy is op ’n gewone wandelroete in die Kaapse berge, heel sonnig en plesierig.

Dan daal die voetpaadjie af na ’n rivierloop.

Ons vat ’n breuk en sit op ’n breë, plat rots en eet neute en droëvrugte. ’n Stroompie kabbel verby.

Die pad kronkel op teen ’n laaste helling tot op die bopunt van Suicide Gorge. Onder ons lê die kloof soos ’n breë, klipperige grynslag.

Kloofing
Foto: Stuart Coffey

Vir sommige van ons is vandag ook die dag om ons hoogtevrees te besweer. My vriend, Bernard Wessels, is lewensbang vir die 5 m hoë duikplank by die openbare swembad; wat nog te sê van ’n sprong by gitswart bergwater in, van ’n hoogte van 10 m, 12 m of 15 m af?

Ná die eerste hoë sprong – ’n 7 m hoë bielie sowat ’n derde van die roete by die kloof af – is daar geen omdraaikans nie. Bernard sal moet spring, tensy hy wil hê ons moet die helikopter laat kom om hom te haal.

Die eerste paar spronge is kortetjies: oefenspronge om ons gewoond te maak aan die slag van die water en die regte bewegings, en om die gids kans te gee om die regte sprongtegniek by ons in te dril. “Bene reguit, en arms styf teen die sy, anders klap die water sommer jou ledemate uit potjie uit,” waarsku Devin.

Hier’s ’n reeks glibberige, mosbedekte glybane oor die rotse – amper soos natuurlike waterwurms– wat ons moet misloop omdat ons nie wetsuits aan het nie.

Die kloof is sprokiesagtig. Die water loop sterk en helder, en hier is oral sonkolle waar ’n mens kan staan om jou bewende lyf te laat bedaar. Die kloof se rotswande troon hoog langs ons uit – plek-plek klou bome verbete teen die steiltes. Stilweg besef elkeen van ons dis ’n voorreg om hier te kan wees.

Kontak: Kaapse Natuurbewaring; 021 483 0190; capenature.co.za; Frixion Adventures 076 442 7244. (Frixion vra R1 600 per persoon en dit sluit jou permit in.)

Kloofing
Wanneer ’n mens die kloof verlaat, stap jy teen die berghang uit.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #147 (Januarie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.