Op skool het ek ’n gedig van Roy Campbell, “Horses of the Camargue”, gelees oor wildeperde wat naby die see galop: “The silver runaways of Neptune’s car / Racing, spray-curled, like waves before the wind.”

En vandag is my kans. My perd, Whiskey, is rustig en ons stap saam met die gids, Marius Ferreira, deur die Kabeljous-natuurreservaat. Dis vroegoggend en die voëls raas.

Ons stap verby ’n groepie voëlkykers wat die fynbos met verkykers fynkam. Hier is flaminke, lepelaars, visarende... Ná sowat twintig minute steek ons die Kabeljousrivier oor – die watervlak is laag en Whiskey sloesj-sloesj gemaklik deur.

Terwyl ons die strand nader, voel ek hoe Whiskey ratte wil verwissel. Ons stap oor ’n groot duin tot op die strand... tyd vir galop! Ek klou vir ’n vale, maar raak gou gewoond aan die ritme.

Waar? Featherfoot Horse Ranch, Elmstraat 5, Kabeljous (die stal is oorkant die Wild Fig Farm-afdraai). 

Koste Standaardrit: R500 p.p. ( jy ry op die strand en deur ’n natuurreservaat) en as julle die gesinspakket (4+ mense) kies, kos dit R450 p.p. Dié rit neem tussen 2 en 3 uur en jy hoef nie voorheen perd te gery het nie. (Jy kan wel perdrylesse ook neem as jy sou wou).

Jy kan ook ’n private rit doen (R800 p.p.) en self kies watter roete jy wil volg. Daar is ook ponieritte (R150) vir ’n halfuur lank, sonsopkomsritte (R500 p.p) en die opsie om net die rivierroete aan te pak (R350 p.p).

Kontak 072 396 6848; www.jeffreysbayhorsetrails.co.za 

 


Erns se artikel het oorspronklik in Weg #136 (Februarie 2016) verskyn. Alle feite is onlangs nagegaan.