Haenertsburg hou hierdie naweek Lentefees (van 23 September tot 1 Oktober) en die beste plek om soos ’n besige by van blom tot blom te dartel, is die Cheerio-tuin. Om deur dié tuin te stap, is soos om binne in ’n kaleidoskoop te wees – om elke hoek is hier ’n nuwe ontploffing van kleurryke bloeisels: pienk, pers, rooi en oranje! Dis lente en ek is bevoorreg om die tuin in sy volle glorie te sien. 


Foto: Cheerio-tuin


Sylvia Thompson, ’n plantentoesias, het die tuin begin in 1946 en dit vir 30 jaar versorg. Sy het gevind dat plante van die Noordelike Halfrond goed aard in dié klimaat. Die keiser van Japan se dokter het destyds ’n artikel deur Thompson gelees en vir haar sade vir skaars azaleas en kersiebloeiselbome gestuur, en vandag lyk die tuin na ’n toneel uit Memoirs of a geisha

Waar? 4 km verby Haenertsburg op pad na Tzaneen op die R71. Draai af na die Cheeriovallei. Jy kan nie die naamborde miskyk nie. 

Koste Toegang is gratis, maar R30 p.p. in seisoentyd (September en Oktober). Die tuin is heeljaar oop en elke seisoen het sy eie bekoring, soos die rooi en oranje kleure tydens herfs.  

Oop Daagliks van 9 vm.-5 nm. 

Ek is honger? In September en Oktober is The Deli and Coffee Shop elke dag oop, en die res van die jaar van Donderdag tot Sondag. 

Kontak 083 355 0835;  cheeriogardens.co.za 




Foto: Kuhestan Organic Farm


Nóg ’n tuin. Kuhestan Organic Farm is nog ’n plaas in die omgewing met ’n mooi tuin. Kom koop hier ingelegde strope en konfyte, soos granaatstroop, kiwi-en-ment-stroop of lemmetjiemarmalade. * 082 903 7593; * kuhestan.co.za   



Foto: Erns Grundling


Snuffel rond by The Pennefather

Aan die punt van Rissikstraat is iets wat lyk soos ’n filmstel uit die dae van die goudstormloop. Never Despair is ’n klein museum waar jy op panele meer kan leer oor die dorp se goudkoorsdae, die Makgoba-oorlog en die Anglo-Boereoorlog. Hier lees jy onder meer dat Haenertsburg op 13 September 1887 gestig is en vernoem is na die Duitser Carl Ferdinand Haenert, wat ’n jaar tevore goud gevind het by die nabygeleë Houtboschberg. 

Langsaan, by New Found Out, kan jy snuister tussen kleurvolle handgemaakte leerskoene, rokke en juwele. En dan kom jy by Memory Hold-the-Door, ’n boekwinkel met ’n merkwaardige versameling Africana. Stof ’n ou boek af en maak jouself tuis voor die kaggel met ’n kondensmelkkoffie of op die stoep van die Village Kitchen-koffiewinkel – dis deel van die boekwinkel.

Kontak * 015 276 4885; * thepennefather.co.za 



Foto: Erns Grundling


Ervaar die plaaslewe op Wegraakbosch  

Nipper Thompson en sy vrou, Sylvia, het in die Switserse Alpe leer kaas maak op die “primitiewe” manier: alles met die hand, deur dikmelk in ’n groot koperpot te roer wat bo ’n vuur staan. 

Hier’s onder meer kaas met knoffel, komyn en groenpeperkorrels... ek koop dadelik ’n groot blok peppadew-kaas. Hier lê ook rolle chorizo- en landjägerwors (’n tradisionele Duitse wors) by die deli. 

Die jongspan kan eiers uithaal of koeie of bokke melk. Hier is ook 40 ha se vleiland en inheemse woud op die plaas. Kom stap of laat die kinders swaai met die “Monkey swing” (verkieslik vóór hulle te veel kaas geëet het). 

Waar? Volg die L-pad (Cheerio Valley) van die R71 en draai dan af op die M1-pad.

GPS S23.89688 E29.95784  

Koste ’n Kaastoer: R100 p.p. en R60 p.p. (kinders). Dit begin 10 vm. en besprekings is noodsaaklik. Monkey Swing: R10 p.p.. Eiers uithaal: R10 p.p. Koei of bok melk: R25 p.p. 

Kontak * 082 853 8754; * cheese@haenertsburg.co.za 



Foto: Erns Grundling

 

Gly met ’n foefieslaaid

By Magoebaskloof Adventures, 20 km buite Haenertsburg, kan jy teen R550 p.p. ’n boomtoptoer met tien glye oor kranse en watervalle doen. Jy kan ook abseil en tubing in die Letabarivier doen. * 083 866 1546; * magoebaskloofcanopytour.co.za 



Foto: Erns Grundling


Waters toe!

Bespreek ’n sonsondergangvaart op die Ebenezerdam op die Sunset Queen-boot met plek vir 10-35 mense. * 083 284 5163. Óf gaan van ’n forel. Die Haenertsburg-forelvereniging is die oudste in die land. Hier is verskeie damme in die omgewing waar jy forel kan vang (jy mag twee reënboogforelle hou, die res moet jy teruggooi). ’n Permit kos R150 p.d. per visstok. Jy kan by verskeie privaatondernemings forel vang sonder ’n permit, soos Cheerio Gardens. * htatrout.co.za  ; * 015 307 3370