Die stuurkajuit van Sanparke se motorboot is beswaarlik groot genoeg vir die twee bemanningslede en drie passasiers wat saam teen die triestige weer skuil. Ek en die see is nie maats nie en ek sluk hard om die naarheid te bedwing. Suzaan – my vrou en spankaptein van hierdie avontuur – giggel vir my saam met Miri, ons agtjarige dogter. Ons is op pad na Malgaseiland om sensus te neem van swarttobie- en duikerkuikens, en ook om malgaskuikens teen pelikane te beskerm.

Foto: Cyril Klopper
Foto: Cyril Klopper

Die mis rondom die eiland verdwyn stadig. Op die kaai wag vyf mense ons in en ’n sesde slinger ’n katrol wat ’n treeplank laat sak. Die skipper maneuvreer die boot om te keer dat ons teen die treeplank bots of deur die seestrome meegesleur word.

Ons bagasie en proviand word hand oor hand aangegee voordat Suzaan, dan Miri, en ek die leer uitklouter. Langs die slingerman staan ’n vrou, twee kinders en ’n ouer paartjie: Span 15.

Ons skud blad, maar daar is nie tyd vir koeitjies en kalfies nie. Span 15 moet wikkel – die boot wag. In die verbygaan noem die man dat sy navorsingsnotas in die sonkamer lê. Halfpad teen die treeplank af stop hy skielik, draai om en roep: “Ek wil langer bly!” Dan spring hy in die dobberende boot.

DAG 1 Welkom, span 16!

Dit was koud toe die boot span 15 vanoggend deur die grys deinings teruggeneem het na die vasteland.

Suzaan en Miri het begin uitpak terwyl ek die eerste patrollie gestap het.

Hier’s tienduisende malgasse op ’n eiland van ongeveer 8 hektaar. Die voëls se kakofonie is verstommend en dit voel asof die ghwano se ammoniakreuk aan my vel kleef. Hoe gaan ek hier oorleef?

Ek het vyf vaalwit pelikane aan die suidekant van die eiland gewaar. Hulle het onheilspellend bo-oor kleiner voëls met halfgespreide vlerke gehang –’n onrusbarende toneel. My bakkies het die pelikane egter laat spaander.

Vanmiddag is Miri deur ’n seemeeu as ’n burger van Malgaseiland gesalf – sy was geensins beïndruk nie.

Tussen die navorsingsnotas het ons ’n dagboek gevind en span 15 se inskrywings gelees. Graham en Bernice was hier saam met hulle kinders, Jubjubs en Raa Raa (snaakse byname!), en ouma Pru en oupa Dave was ook hier om met die kleingoed te help.

DAG 2 Slagveld van voëls

Ek is kort ná vyf uit die huis: Patrollie begin teen eerste lig. Die wind het genadiglik die ghwanoreuk weggewaai, of is ek wraggies al gewoond daaraan? Heelwat malgasse was nog vas aan die slaap, kop onder die vlerk. Sommige het reeds begin om hulle kuikens vissies vir ontbyt te voer.

Die verlate duikerneste was ’n droewige toneel. Honderde hopies donsvere en geraamtetjies het tussen die klippe rondgelê. ’n Paar weke tevore – met span 9 se besoek – het die duikers hulle neste verlaat omdat daar nie genoeg kos in die see was om hulle kuikens te voer nie. Die kuikens het weens honger gevrek of is deur meeue opgevreet.

Ek het amper op ’n nes getrap! Twee gespikkelde eiers was daarin, en ’n bekkie was besig om uit een se dop te breek. Eers het ek gedink die nes is verlate, maar toe sak twee skreeuende seemeeue skielik op my toe. Ek is jammer, Mnr. en Mev. Meeu.

malgaskolonie
Die dop van ’n seemeeueier kraak oop en ’n bekkie wys

DAG 3 Seegrassop

Die dag het op ’n salige noot begin: Daar was geen pelikane op die oggendpatrollie nie en selfs die malgasse het luilekker rondgelê soos vakansiegangers op ’n strand. Suzaan het ’n piekniekmandjie gepak en ons is af see toe. Ek het seegras van die laagwaterrotse af gepluk en saam het ons gekyk hoe ’n vragskip verby vaar.

Kort daarna het pelikane in hulle dosyne opgedaag. Ons moes telkemale rondom die eiland loop om seker te maak hulle gaps geen malgaskuikens nie. As stank vir dank het ’n seemeeu op Suzaan geblerts. Veels geluk, burger nommer 2!

Vanaand het ons seegrassop en tunapasta geëet. Die sop was smaaklik, maar ons het eintlik na salamipizza gesmag. Ek sal betaal as jy uitswem en dit gaan haal!

DAG 4 Bloeddorstige pelikane

Ek en Miri was nog pens en pootjies in die bed toe Suzaan op drie pelikane afkom wat besig was om malgaskuikens voor die voet op te vreet. Skielik het nóg 11 pelikane soos ’n valskermbataljon op die kolonie toegesak. Toe ek en Miri die fluitjie hoor blaas, was ons in pajamas en al uit om te gaan help. Ons het elkeen ’n derde van die kolonie se buiterand gedek en die pelikane probeer verjaag sonder om die malgasse te versteur. ’n Oorstelpte malgas sal soms van haar nes vlug en dan is dit ’n slinkse meeu se kans om ’n eier vas te lê. Anders as met ’n pelikaan, is ’n seemeeu gewis nie bang vir mense nie.

Later het ek ’n malgaskuiken ontdek wat ver van die broeikolonie af weggedwaal het.

Ek het probeer om hom terug te jaag, maar hy het in ’n hopie bly sit. Wat sou dit baat ek dra hom terug na die kolonie – watter nes is syne?

Die ander ma’s sou die stomme kuiken nie inneem nie. Ek het ’n entjie teruggestaan om te sien wat hy volgende doen. Skielik het ’n

seemeeu op die kuiken toegesak en die kleine lyfie verskeur. Die kuiken het geskree van die pyn. Ek was geskok en het teruggestap na die huis waar ek begin skottelgoed was, water uit die tenk trek, sonkragpanele afvee – eintlik enigiets anders as om ’n minuut langer tussen daai ellendige voëls rond te loop.

Toe ek die kleinhuisie se emmer wou uitgooi, het die handvatsel losgekom en die inhoud het oor my voete uitgestort. Suzaan en Miri het hulle ’n papie gelag. Ek wou eers raas, maar toe oorval die lagbui my ook. Ek het dadelik beter gevoel – wel, nadat ek my voete afgespoel het.

DAG 5 ’n Kluisenaar word gebore

Ek is ’n Malgasser! ’n Meeublerts het my in die bakkies getref. Ek wou grinnik, maar ek moes my lippe styf toeknyp om te keer dat dit in my mond drup.

Die pelikane het ons vanoggend redelik besig gehou. Ek het respek ontwikkel vir hulle deursettingsvermoë en vindingrykheid.

’n Groep skoorsteenveërs het ook kom kuier.  Hulle het sowat ’n uur op die eiland vertoef voordat hulle in gelid weggevlieg het.

Suzaan het ’n selfoonoproep van Sanparke ontvang. Die see gaan môre onstuimig wees en die boot kan ons nie kom haal soos beplan nie. Die nuus was nie so erg vir my en Suzaan nie, maar Miri se geduld was amper op. Sy mis haar maats.

’n Katamaran vol toeriste aan boord het vroeër verby die eiland gevaar. Ons was eers nuuskierig, maar dit het na irritasie verander toe hulle soos agies deur verkykers en zoemlense na ons staar. Trap van my eiland af!

My eiland? Genugtig, wanneer het dit “my eiland” geword?

malgaskolonie
’n Halfdosyn gelukkige duikerpaartjies maak nes op ’n toring in die middel van die malgaskolonie waar hulle neste veilig is teen roofdiere.

DAG 6 Ruiter van die wind

Daar was ’n eensame pelikaan op die heel verste punt van Malgas. Ek dink dis dieselfde gehawende een wat ek “Ouman” gedoop het.

Hy besoek die eiland gereeld op sy eie. Ouman was huiwerig om weg te vlieg. Ek het hom bejammer, maar dis immers my werk om pelikane te verjaag.

Die suidooster het behoorlik gepomp!

Branders het die kaai met vuishoue gemoker en ek kon verstaan waarom die boot ons nie kom haal nie.

Die malgasse het die wind geniet. Dapper “tieners” het hulle vlerke geklap en soos vlieërs lug-in geskiet terwyl donskuikens verslae toekyk.

Hulle vlugte was dalk ongrasieus, maar hulle het hoog bo die eiland gesigsag en dan weer hard met moederaarde kennis gemaak. Dan moes hulle te voet terugkeer na die nes. Dit sal nie meer lank wees voor hulle gereed is om die eiland vir die oop see te verruil nie.

Miri het in ’n gedugte rummy-speler ontpop. Nadat sy my te veel kere geklop het, het ek haar bed toe gestuur om te gaan slaap. Nou sit ek en Suzaan op ’n halfdonker stoep en luister na derduisende malgasse wat vir mekaar nag sê.

Ek wil nie waai nie!

Dis douvoordag en die einde van ons beurt het aangebreek. Ons loop na die kaai en is betyds om die boot met span 17 aan boord uit die verte te sien aankom. Terwyl ek die treeplank laat sak, dink ek aan die man wat hierdie taak ’n paar dae tevore verrig het.

Gaan ek ook omdraai en uitroep dat ek langer wil bly? Ek grynslag vir die melodrama, maar ek besef ook dat indien ek daai woorde sou uiter, dit jou wraggies waar sou wees.

WAAROM PELIKANE VERJAAG?

Dis nie ongehoord dat pelikane ander voëls se kuikens vreet nie, maar hierdie gedrag het in die laaste paar jaar drasties toegeneem. Die rede hiervoor het ontstaan by varkboerderye in die Stellenbosch-omgewing waar pelikane geleer het om afval te vreet.

Toe boerdery-praktyke in 2005 verander, het dié pelikane gesukkel om hulle hoëproteïendieet prys te gee vir hulle natuurlike stapvoedsel: varswatervisse. Die pelikane het as ’ t ware die Banting-dieet begin volg.

Kort hierna het seevoëls onder die pelikane se grusame eetlus begin deurloop. In 2007 het die duiker-en-seemeeubroeiseisoen op Jutten- en Schaapeneiland totaal misluk as gevolg van die pelikane se vreettog.

Hulle het ook ál die geelbeksterretjies op Dasseneiland uitgewis en is selfs op Dyereiland gewaar, ’n plek waar

hulle nie sedert die 1930’s gesien is nie.

Dié probleem is dus deur die mens geskep en daarom is dit ons verantwoordelikheid om ’n oplossing te vind – vandaar Sanparke se Pelican Watch-program.

Die program behels dat veldwagters of vrywilligers in vyfdagskofte (soggens tot saans) op Jutten- en Malgaseiland patrolleer tydens die seevoëlbroeiseisoen (gewoonlik van Oktober tot Januarie). Die doelwit is om pelikane van die eilande te verdryf sonder om hulle te beseer of ander seevoëls se broeipogings te versteur. Pelikane is nes malgasse ook ’n beskermde spesie; jy mag hulle dus nie met klippe bestook nie – selfs al wil jy.


EK WIL OOK GAAN

Hoewel daar nie ’n tekort aan vrywilligers is nie, staan dit ouens soos ek en jy vry om aansoek te doen en hand by te sit. Kinders word gewoonlik nie op die eiland toegelaat nie omdat hulle uitbundigheid die broeiende voëls, veral die duikers, kan versteur. Miri het spesiale toestemming gekry nadat ons ’n motiveringsbrief aan die Weskus- nasionale park gerig het.

Die terrein op Malgaseiland is maklik vir loop, maar Jutteneiland verg ’n hoër graad van fiksheid.

Kontak: Weskus- nasionale parkkantoor 022 772 2144; Sanparke-ereveldwagters pelicanwatch;  wcnp@gmail.com


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #151 (Mei 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.