Moenie iets skouspelagtigs verwag wanneer jy deur die Magwa-teeplantasie ry nie. Dis mooi, maar nie iets om oor liries te raak nie. Dis eers wanneer jy geparkeer en ’n entjie óm die ravyn in die plantasie gestap het – en dan terugkyk – dat dié prentjie jou tref: ’n diep keep van sowat 140 m, in die middel van nêrens.

Die water val in wit hale tot onder terwyl plante en bome vir al wat hulle werd is, aan die nat rotswande kleef. Stap langs die ravyn en bekyk die waterval uit alle hoeke. In die somer lyk dit glo soos die Victoriawaterval.


Hoe kom ek daar? Dié waterval in die Magwa-teeplantasie is ongeveer 13 km suid van die dorpie Lusikisiki in die Wildekus.

GPS S31.44582 E29.63881

Koste Gratis

Waar bly ek? Die Mbotyi-lodge en Mbotyirivier-kampterrein is ongeveer 12 km kus se kant toe. Dit kos vanaf R600 p.p. wat deel (alles ingesluit). Kamp kos vanaf R120 p.p.p.d. (R40 vir kinders).

Kontak 082 674 1064; mbotyi.co.za