As jy op die N5 tussen Bethlehem en Senekal ry, sien jy Paul Roux langs die pad sit, met sy rug styf teen ’n sandsteenrantjie.

Die dorp lyk rustig en min gepla met die res van die wêreld. Deur jou karvenster sal jy dalk die NG kerk se spitstoring met sy haan bo die bome sien uitsteek. Of hier naby die pad die kleinerige vulstasie. Veel meer sien ’n mens nie van die dorpie nie en daarom hou die meeste bestuurders verby.

Vroeër jare, selfs voor die stigting van die dorpie in 1910, was die gebied ’n gewilde stopplek en waarskynlik besiger as vandag. Hier het Voortrekkers en later poskardrywers oorgestaan.

Paul Roux is op die plaas Wassou gestig, maar was eers Duplessisville genoem en later na ds. Paul Roux genoem wat hier predikant was en ook ’n generaal in die Anglo-Boereoorlog.

Oudpres. P.W. Botha is op die plaas Telegraaf in die omgewing gebore. Oor die jare heen was Paul Roux ’n klein plaasdorpie met groot erwe waar ’n melkkoei of twee, ’n paar skape of ’n perd aangehou kan word. Die dorp was eens bekend as die plek van waar vuurhoutjies kom. ’n Groot populierbos aan die suidoostekant van die dorp is oor jare uitgekap omdat die hout perfek was vir die maak van vuurhoutjies. Nou is daar niks meer te sien van hierdie bos nie.

Inkommers is welkom

Ek stop half skepties voor die Pink Tricyclekoffiewinkel, want al sê die bordjie “Oop”, lyk dinge hier ook stil. Maar dinge verander die oomblik wat ek Carolise Appels, die eienaar, ontmoet en sy lostrek met gesels. “Nee,” sê Carolise: “jy moenie oor middagete aksie verwag in onse dorpie nie. Maar Dino moet oop wees; hulle is altyd oop. Hulle is seker nou net ’n bietjie toe.” Om nou verder deur die dorp te drentel gaan niks help of oplewer nie, gee Carolise raad. Die beste is om op Pink Tricycle se lang stoep te sit en ’n bier te drink. “Hier sal jy in elk geval later almal ontmoet. Maar onthou, what happens on the stoep, stays on the stoep.”

Met die aankomslag in Paul Roux meer as 15 jaar gelede het Carolise gewonder of sy die regte ding gedoen het toe sy en haar man, Theuns van Rooyen, hierheen getrek het. “Jong, dit was stil. Dit was só stil.

Op 1 Desember 2010 het die Pink Tricycle oopgemaak. En luister ’n mens na Carolise se stories oor stoepkuiers, het dit definitief Paul Roux se bymekaarkomplek geword.

In die stofstraat kom iemand opgestap.

“Wolfie! Kom drink ’n bier!” roep Carolise van die stoep af. Wolfie, of Maggie Parvonov, kom sit by ons op die stoep. “Ek moes nou eers die ou vrouens se TV’s gaan instel by die aftreeoord,” vertel sy. Hoewel Wolfie eintlik ’n kunstenaar is, is sy ook die algemene regmaker van dinge hier op die dorp en op Donderdae en Vrydae petroljoggie by die vulstasie. En die naam, Wolfie?

“Ek het wolwe by my huis.”

Sy sien seker my skeptiese wenkbrou en sê ek moet gou kom kyk. Wraggies. Teen die huisie se hoë heining waarsku rooi letters: “Pasop wolwe / Beware wolves / Pingi Diphiri” en in die erf speel vier gediertes.

“Verskriklik slim, glad nie gehoorsaam soos honde nie en vreklief vir vrugte.”

Paul Roux
Foto: Willem van der Berg

’n Dorp vir die kunste

Kunstenaars is wel volop in Paul Roux. “Ek dink Paul Roux se stilte is die hoofrede waarom ons almal hier sit,” vertel Edward van den Berg.

“Dit gee jou kans om op jou werk te fokus. Jy kan hard werk wanneer jy wil en wanneer jy niks wil doen nie, kan jy net terugsit, rondlê, maak wat jy wil. Want hier beloer niemand jou of pla jou nie. Ekself lewe soos ’n krap in ’n gat.

Gaan net vinnig uit as dit moet en dan is ek weer by die huis en studio.”

Eddy, soos almal hom ken, was ’n grafiese ontwerper in Durban toe hy ’n paar jaar gelede deur die Vrystaat gereis het en op Paul Roux afgekom het. Nie lank daarna nie het hy ’n ou huis gekoop en besluit om sy droom om voltyds kunstenaar te wees te volg.

“Dis fantasties. Die mense voel soos familie en ek is mal oor die donderstorms. En kyk, Bethlehem is 15 minute se ry en daar is als. So dit kan wraggies nie beter nie.”

Terug op die dorp sien ek ’n jong man aan ’t skilder op die stoep van ’n winkel wat tweedehandse klere verkoop. Dit is Josias Mosia, wat in die township grootgeword het. “Ek het partykeer by Peter van Reenen se ateljee verbygeloop en hom gesien werk en toe besluit ek eendag ek wil dit ook doen. Ek het by hom gaan raad vra en later het al die dorp se kunstenaars my gehelp en van hulle toerusting en verf gegee. Om te verf is vir my baie lekker en portrette is my gunsteling. Die oë doen ek altyd laaste. Dan is dit asof die gesig skielik lewe kry.”

Teen laatmiddag kom drie perde in Joubertstraat afgalop.

Die ruiters kyk wyd oor die horison. En ek weet hulle weet daar is nie veel ander plekke waar dit so mooi is soos hier nie.

Paul Roux
Foto: Willem van der Berg

DOEN DIT

Die Sungazer-pelgrimstog: Einde 2016 is die Sungazer-pelgrimstog deur die bewarea begin en dit neem stappers deur die stiller dele van die Oos-Vrystaat. Die naam verwys na die ouvolk-akkedis wat hier voorkom en ’n bedreigde spesie is.

Die volle roete strek oor ongeveer 211 km en 12. Maar jy kan ook die Sandy’s Shoes-staproete probeer (93 km oor 6 dae), die Vinnige Willemien (85 km oor 4) of kies uit naweekroetes.

Kontak: sungazerjourney.co.za, paulrouxvillage.co.za


Die Holhoek-wildsplaas is sowat 15 km suidoos van Paul Roux en hier is ’n 20 km-staproete wat stappers oor twee dae kan doen (13 km op die eerste dag.)

Kontak: Sume Jones 071 815 5892; www.holhoek.co.za


By die Uniondale-wildsplaas naby Holhoek, sowat 10 km suidoos van die dorp, kan jy loer na ’n paar dinosourusspore wat op ’n sandsteenrots agtergebly het. Hier is ’n klein dinosouruspark waar jy meer oor hierdie oertyd kan hoor.

Jy kan ook oorslaap in die selfsorgchalets.

Kontak: 082 771 3208 of uniondalefarm.co.za


EET HIER

Die Pink Tricycle is ’n gesellige plek waar jy maklik kan vashaak – op die lang stoep of binne onder die John Deere-advertensieborde.

Die kos is heerlik vars en die omelette is tops. Hier’s ook lekker burgers, broodjies, slaaie en pasteie. Aandete kan gereël word. Sondaemiddae word hier ’n driegang-maaltyd bedien teen R110 per bord.

Waar? Bo in Markstraat, reg langs die Dunlin-gastehuis

Kontak: 073 331 3689


BLY HIER

Die Dunlin-gastehuis is Carolise Appels en Theuns van Rooyen se huis vol interessante oudhede.

Waar? Bo in Markstraat, oorkant die aftreeoord.

Kontak 058 471 0238 of 073 331 3689


Rosenhof Exclusive Country Lodge is pure plattelandse hotel met sandsteenmure en houtvloere.

Waar? Bo in Markstraat, oorkant die Pink Tricycle.

Kontak: 082 490 2104


Hierdie is ’n verkorte artikel van die oorspronklik een wat in Weg #151 (Mei 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaksien.