Die Sonskynkus verwys nie net na die weer nie; dis ook ’n goeie beskrywing van hoe gesellig die mense is wat hierdie hoekie van Suid-Afrika hulle tuiste noem.

Port Alfred is ’n Oos-Kaapse grensdorp met ’n ryk geskiedenis. Hier is ’n storie agter elke heining en onderin elke bierglas. Die dorp is in 1821 gestig toe die eerste skip by die mond van die Kowierivier ingeseil het. Die hawemoontlikhede van die monding is egter reeds sowat 300 jaar tevore raakgesien toe Bartolomeus Dias blykbaar hier vasgemeer en sy watervoorraad by Fountain Rocks aangevul het – ’n rotsagtige koppie naby East Beach waar vars water by die see invloei.

Die jong dorpie is eers Port Frances genoem, na die skoondogter van die destydse goewerneur lord Charles Somerset. Sedertdien is die naam agt keer verander! Die uiteindelike naam – Port Alfred – is in die 1890’s aangeneem ter ere van Prins Alfred wat toe Suid-Afrika besoek het.

Snaaks genoeg het dié prins wat olifante kom jag het, nooit die dorp met sy naam besoek nie.

Die Kowierivier verdeel Port Alfred in twee, en jy kan dit met een van twee brûe oorsteek.

Vroeër jare was hier net ’n pont. Die dorp is ’n meter of twee onder seespieël en die strate naaste aan die rivier word gereeld oorvloei as dit baie reën of die gety besonder hoog is.

Doendinge

1. Soek avontuur

As jy hou van roei, vaar en perdry, is Outdoor Focus jou eerste stilhouplek.

Huur ’n kajak. Verken die marina op jou eie of skep ’n begeleide roete op grond van jou vaardigheidsvlak. Jy kan tot by die Mansfield-wildreservaat roei en daar oorslaap.

 Perdryritte. Beginners en ervare ruiters is welkom. Die standaardrit is strandlangs van naby die Boesmansriviermonding tot by Kwaaihoek.

 Nog aktiwiteite wat hulle aanbied, is ’n riviervaart, skubaduik, diepseevisvang, branderplankry (hulle bied lesse ook aan) en duineplankry. Hulle het ook ’n vyfdag-staproete wat jou in ’n gedeelte van die Addo-olifant- nasionale park inneem.

Waar? Kiddies Beach, Kusweg

Kontak: 046 624 4432; www.facebook.com/nowlatertomorrow/

Foto: Timothy Gabb
Foto: Timothy Gabb

 2. Draai die horlosie terug

As geskiedenis jou ding is, gee Port Alfred jou hope stof. Kowie-museum. Leer meer oor die amaXhosa-stamme wat eerste in die omliggende gebiede gebly het, die storie van die Britse Setlaars van 1820, die grensoorloë, die verskeie skeepswrakke langs die kus en hoeveel wandelhowe in 1887 gebruik is. Hier’s ook ’n argief waar baie afstammelinge van die Setlaars aanklop om hulle stambome uit te pluis.

Waar? Die museum is in die ou Port Alfred-stasie in Pascoe-singel, Hoofweg

Kontak: 071 288 8228 ; www.kowiemuseum.co.za/

Oop: Dinsdae-Saterdae 09:30 vm.-12:30 nm.

3. Sit jou tone in die sand

Die Sonskynkus het meer as 300 km se netjiese strande en in Port Alfred het jy ’n paar om van te kies.

Kelly’s Beach. Die eerste strand in die Oos-Kaap om Blouvlagstatus te kry en die beste swemstrand in Port Alfred.

East Beach. Hierdie is die “aktiwiteite”-strand, links van die wandelhoof as jy vir die see kyk. Hier’s ’n bekende surf-kol, groot sandduine om sandplank te ry en heelwat plek vir ’n lang, rustige wandeling. (Dit vat sowat twee uur om al die pad tot by die vuurtoring en terug te stap.)

West Beach. Hier’s baie strome, en om te swem is dus verbode, maar die strand het heelwat plek om te sonbaai en te ontspan.

Kiddies Beach. Hierdie is ’n veilige strandjie langs die rivier, met lekker vlak water om in te swem. Soos die naam aandui, is dit ideaal vir kinders. Parkeer langs Kusweg naby Outdoor Focus.

4. Speel ’n ronde gholf

Die Royal Port Alfred-gholfklub is in 1907 gestig en koning George self het dit in 1924 “koninklike” status gegee – een van net vier in Suid-Afrika en 66 in die wêreld.

Foto: Timothy Gabb
Foto: Timothy Gabb

Die baan is ’n links-baan en van die hoë plekke af het jy mooi uitsigte oor die see. Bosbokke, rooibokke, duikers, blesbokke en ’n paar skaars koffiekleurige springbokke woon hier en kom kyk soms hoe lyk jou dryfhoue – wees maar op jou pasoppens. Hier is glo gemiddeld 12 kolhoue per jaar – bespreek ’n rondte en kom kyk of jy een van dié gelukkige 12 kan wees!

Die klub het ook ’n klein mashie-baan vir jonger spelers.

Waar? St. Andrewsweg

Kontak: 046 624 4796; rpagc.co.za


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #152 (Junie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.