Die Robbergskiereiland is ’n wonderlike wilde kol in ’n omgewing wat besaai is met gróót strandhuise en Toskaanse villas. 



Die skiereiland lê net noord van Plet soos ’n sokkerspeler se been wat ’n bal skop in die Indiese Oseaan in. 

Drie staproetes loop deur die reservaat en neem jou van die kant wat beskerm lê in die baai met ’n uitsig oor die Tsitsikammaberg na die wilder kant waar die branders teen die kranse slaan. 

Stap die maklike Gap-sirkelroete (2 km) of die tawwe Witsand-sirkelroete (9,2 km) óm die skiereiland. As jy klein kinders het, of min tyd, sny halfpad op dié roete oor die skiereiland by die groot Witsand-sandduin. En stap af tot by die afgesonderde strand onder by Die Eiland – ’n sandstrook verbind dié eiland met die skiereiland. Hou die getye dop en pak eetgoed, sonbrandroom en genoeg water.

In die lente kom speel suidelike noorkappers in die baai en dolfyne kom draai gereeld hier. Hier is ook ’n robkolonie aan die Plet-kant wat aan die skiereiland sy naam gee. Jy kan dié kolonie bekyk op ’n kajaktoer van Central Beach tot by Plet. 


Waar? Sowat 5 km suid van Plet met Robbergweg. Volg die bordjies.

Toegangstarief: R40 per volwassene; R20 vir kinders van 3-12; gratis toegang met ’n Wild card. Kry ’n kaart by ontvangs.

Staan oor: Hou jou lyf Robinson Crusoe en oornag in die Fountain Shack-hut, die enigste blyplek in die reservaat. Teen sonsondergang is jy en jou vriende die enigste mense hier met net die rotse, seemeeue en die diepblousee vir geselskap. Hier is plek vir agt mense, en net een groep word op ’n slag toegelaat. Geen elektrisiteit is beskikbaar nie, maar hier is gaskookgeriewe en braaiplek. Vat asseblief jou vullis saam. Vanaf R875 vir vier mense en R220 p.p. wat bykom. 

Kontak: 044 533 2125; www.capenature.co.za