Elke Suid-Afrikaner het ’n gunstelingseedorp – daai plek waar jy kleintyd sandkastele gebou het, as tiener die lifesavers op die strand beloer het en deesdae jou eie gesin Desember heen vat. Stilbaai is só ’n plek. Hier’s iets lekkers om op dié dorp te doen.



Vakansietyd is ’n drankie teen sononder mos aan die orde van die dag, veral ’n lekker gin & tonic. Maar jy kan nie sommer enige jenewer skink nie – o nee, net die plaaslike Inverroche sal deug.


Dié klein onderneming het stil-stil vir homself ’n nis in die jenewerwêreld oopgestook en die drie soorte jenewer wat jy hier aantref, het elk ’n unieke aroma en smaak. Wat kan dit wees...


Die eienaar, Lorna Scott, deel haar ontdekking met graagte: Fynbos is die geheim agter die ongelooflike geure van haar jenewers. Met die hulp van ’n plaaslike plantkundige het sy inheemse fynbos geïdentifiseer wat al eeue om medisinale redes gebruik word.


Hier’s tans drie jenewers in die Inverroche-reeks: Die Classic (gegeur met kalkklip-fynbos), die Verdant (gegeur met bergagtige fynbos, vandaar die liggroen tint) en die Amber (gegeur met tannienryke kusfynbos wat die jenewer ’n karamelkleur gee).


Klein hoeveelhede boetiekjenewer word op ’n slag gedistilleer en elke bottel het ’n unieke nommer. Die jenewer kos sowat R300 per bottel as jy dit by die distillery koop. As jy gelukkig is, is daar ook van hulle brandewynlikeur, Botanique, in voorraad – daar word net ’n beperkte aantaal gemaak. Of probeer gerus die 7 jaar oue Black Strat Rum.



Waar? Sowat 5,5 km noord van die dorp, langs die R305. Volg die afdraai (daar’s wit klipmure aan weerskante) tot by ’n kalksteengebou met ’n spitstorinkie in ’n olyfboord.

Wanneer? Winkel: Maandag tot Saterdag 10 vm.-4 nm. Jy moet vooraf bespreek as jy wil proe (Maandag tot Saterdag 10 vm.-3 nm.)

Kontak 028 754 2442; www.inverroche.co.za