FOTO'S: Shelley Christians

K-Way- opvoubare rugsak

Vergeet van plastieksakke (dink aan die planeet!) óf om op jou sak te spring om alles te laat pas: Belê eerder in ’n saampersbare sak en hou dit in ’n groter sak óf in jou kattebak. Dié een bied tot tot 20 l ruimte. Dis gemaak van Ripstop-nylon en sal nie sommer skeur nie.

R250 by Cape Union Mart.

Capestorm Disa

Hierdie dagsak van 15 l is eenvoudig, maar kan werk én speel. Dis stewig, van goeie gehalte en duursaam. En stylvol.

R400 by Outdoor Warehouse

First Ascent Shift

Hierdie is ’n eenvoudige maar goed ontwerpte duursame rugsak met heelwat bêre-opsies, en gestopte dele wat jou rug en skouers beskerm. Dis 28 l en kan maklik middagete, jou skootrekenaar en goed soos jou selfoon en laaiers karwei. Die Shift sal werk as ’n dagsak of vir die gim, en die band agterop laat jou toe om dit aan die First Ascent Advance-trolliesak (bl. 88) vas te maak as jy vlieg.

’n Kleiner weergawe van 25 l is ook beskikbaar.

R900 by Outdoor Warehouse

Pacsafe VentureSafe X18

As jy soms na plekke reis wat dalk onveilig kan wees, is hierdie jou keuse. Dit het ’n mengsel van metaal en maas tussen die materiaal – dus kan diewe nie daardeur sny nie, die ritsopening kan sluit en die sak het ’n veiligheidsknip wat jy aan iets soos ’n bank kan vasmaak terwyl jy ’n draai loop.

Dis ontwerp sodat jy ’n 13 duimskootrekenaar daarin kan bêre, én jy kan ’n watersak inpas. Daarby weeg dit net 910 g!

R2 200 by adventureinc.co.za 

First Ascent Advance

As jy op soek is na ’n eenvoudige, goedkoop sak waarin jy hope kan pak, én wat maklik is om rond te karwei, hoef jy nie verder te kyk nie. Dié 90 l-trolliesak weeg 4,5 kg, het buigsame nylonkompartemente en drukbande om al jou toerusting vas te maak. Dis nou wel nie so liggewig of het al die eienskappe van die Osprey Rolling Transporter nie, maar is goeie waarde vir geld.

R2 800 by Trappers

Osprey Rolling Transporter 90 liter

As jy ooit ’n sak nodig gaan hê waarin jy ’n mikrogolfoond kan pas en wat ’n bomaanval kan trotseer, is dié sak vir jou. Die eienskappe is indrukwekkend: reënflappe wat oorvleuel, vyf gestopte gryphandvatsels, knooppunte, waterbestande dubbelflap-ritssluiters, sluitbare skuiwers... Hierdie sak gaan jou oorleef, vandaar die lewenslange waarborg teen fabrieksfoute, wat Osprey glo jy nié nodig gaan kry nie.

Dis duur, maar beslis elke sent werd.

R3 800 by Outdoor Warehouse

Thule Subterra- buissak met wiele

Goed, hierdie kopie gaan jou beursie ’n knou gee, maar dis uitstekend vervaardig en die ontwerp is prakties: Die wielsak kan van die rugsak afgehaal word, en albei is klein genoeg vir handbagasie wanneer jy vlieg.

Die Subterra is dalk die laaste sak wat jy gaan koop vir ’n sakereis of naweek in die berg.

R7 000 by Thule-verskaffers

Tentco-middelslag-paksak

Hierdie is soos ’n weermagsak van ouds. In dié buis kan jy hope goed pak en dis duursaam danksy die sterk Ripstop-seil. Gooi die sak in die kattebak, woonwa of oor jou skouer; dit het ook ’n lang strop. Dis taai, veeldoelig en sag op die beursie.

R230 by Kloppers

K-Way Habibi-kindersak

Hierdie sak het ’n aluminiumraamwerk wat dit makliker maak om ’n kleintjie te dra (maksimum-gewig 15 kg).

Die sak het ’n harnas met sewe hegpunte, en hy het plek waarin jy ander goed kan pak. Dit het ’n verwyderbare doeksak en dagsak vir babagoed en ’n sonskerm wat jy kan afhaal.

Kies dié sak sodat Krisjan soos ’n koning op die troon sit terwyl hy die buitelug geniet.

R1 999 by Cape Union Mart

Sea to Summit Aeros

Reiskussings is ’n uitstekende reismaat en dié 50 g-kussing pas in ’n sakkie so groot soos ’n speelkaart en bied ’n gawe rusplek vir jou kop.

R570 by takealot.com

Cape Union Mart Compact Travel Adaptor

Jou kamera en foon en ander katoeters moet gelaai bly; en aansluitproppe kan jou lelik in die steek laat. Dié een het ingeboude stuwingbeskerming en kan in meer as 50 lande gebruik word.

R300 by Cape Union Mart

Thule Subterra Power Shuttle

Ja, ek weet ’n moonbag is nou weer mode, maar ek verkies om my laaiers en kragbanke eerder in een van hierdie sakke te bêre.

R500 by Thule-verskaffers 

Skep meer plek in jou kar

As joernalis by ons sustertydskryf Weg Ry & Sleep reis Cyril Klopper oral in Suider-Afrika, en baiekeer in sy klein Suzuki Jimny. Hier is sy drie goue reëls vir karpak.

1. Hou by die noodsaaklike

Ek, my vrou en dogter was al na verskeie buurlande en oral in Suid-Afrika in ons 2011 Suzuki Jimny. Dis ’n klein kar; dus ry ons min goed saam sodat elkeen soveel as moontlik ruimte het. Agter die bestuurdersitplek hou ons ’n kamerasak, noodhulptas, ’n koelsak vir padkos en ’n dagsak met boeke en speletjies om almal besig te hou.

2. Kies ’n krat

In die kattebak is vier kratte vir swaar goed soos kos (geblik en ontwater), kookware (soos wat stappers gebruik) en kompakte toerusting en gereedskap. Elke krat is gemerk sodat ons weet waar is wat. Ons het die kratte aangeskaf nadat ons met die hulp van ’n winkelassistent verskeie soorte gemeet en pas het – todat ons uiteindelik iets gevind het wat geen spasie vermors nie.

Jimny

3. Belê in ’n dakkrat

Ons dakkrat is vir liggewig artikels soos klere, slaapsakke en kampstoele. Alles wat daarin gepak word, moet lig genoeg wees om met een hand bo jou kop te lig.

Breekbare goed word in onbuigsame houers gepak; klere en beddegoed in sagte sakke wat buigsaam is en ons pak eerder dun pluisstoftops as dik woltruie.