Koës is harde wêreld. Met die grondpad langs lê hy sowat 130 km noordoos van Keetmanshoop, op die westelike rand van Namibië se Kalahari. Dis ’n klein dorpie wat in die meeste universiteite se sportterrein sal kan inpas. Dis ook wit-bakkie-en-bruin-voorarm-wêreld. En, natuurlik, behóórlike jagwêreld. Van agter die kroegtoonbank van die Koës Hotel is Johan “Bonsai” Combrink ’n haas onuitputlike bron van inligting oor die distrik én die Koës Rally. En as lid van die plaaslike wildoesspan vertel hy jou hoe die manne een aand om die vuur gesit en kuier het totdat een wou wys hoe goed sy geweer se nuwe teleskoop is. Hy’t ’n skoot afgetrek en die teleskoop het sy oogbank oopgekloof. Geen probleem, want een van die jaggeselskap was ’n (effens aangeklamde) dokter, wat sommer self begin steke insit het. Die volgende oggend het die jagter wakker geword en nie minder nie as 52 steke getel. Want weens die “swak lig” het die dokter sommer ook die bloedstreep langs sy oogbank en wang met steke “toegemaak”. Vanjaar het 65 pypkarre, Baja Bugs, renbakkies, “kwats” en veldrenmotorfietse aan die Koës Rally deelgeneem. Die Rally bestaan uit twee dae se pret en resiesjaag. Die res is onbelangrik. Om streng reëls neer te lê – én toe te pas – is amper soos om ’n klomp katte in ’n kraal te probeer jaag. Op eie risiko Vrydagoggend maak ons tenk vol by die plaaslike vulstasie. Dis moeilik om die oranje Nissan Patrol mis te kyk met sy Jägermeister-plakkers op die neus, voorruit en agterklap. Uit die kajuit pomp die doef-doef van die techno-musiek soos ’n Lister-dieselenjin. Die enjinkap is oop en twee manne gooi nog water in die stomende verkoeler. Dis Danie Coffee van Keetmanshoop en sy navigator, die effens jonger Gert Koen van Aroab. Hulle lyk nie regtig bekommerd nie. “Nee wat, ons kyk maar wat gebeur,” sê Danie filosofies. Die Patrol sou uiteindelik net een rondte hou. In die plaaslike supermark sit tannie Christa Lambrecht en doen administratiewe werk. “Ek is sommer ’n supervisor affêre,” sê sy. Dit lyk nie of die ekstra paar honderd mense in Koës haar enigsins pla nie. “Ag ja, wat,” sê sy toe ek vra of hulle opgewonde is oor die Rally. Dan gaan sy doodluiters aan met haar administratiewe take terwyl die winkel in een dag seker meer sake doen as in die voorafgaande maand. Jy ry ’n kilometer of wat suid uit Koës uit op ’n sandpad na die pan. By die ingang van die pan verklaar ’n teken: “At own risk.” Jy vóél die opwinding in die lug. ’n Ent daarvandaan hoor jy gillende enjins en sien jy die stofwolke. En nog ’n entjie verder sien jy die rye bakkies en pypkarre, motorfietse en “kwats” tussenin. Hier’s ’n bogemiddelde persentasie manne met fris voorarms en omtrent elke permutasie van ’n Hilux-bakkie waaraan jy kan dink – enkelkajuit, dubbelkajuit en die een-en-’n-half-kajuit, wat glo in September in Suid-Afrika te koop gaan wees. En hoewel hier ’n effense byt in die lug is, dra die helfte van die manne redelik stywe rugbybroekies. ’n Paar sagter manne dra baadjies. Welkom in Namibië. Bl 2 | in die kuipe In die “kuipe” rev ’n ou sy pienk Baja Bug. Dis Johan Blaauw van Keetmanshoop. Agter die bakkie staan sy ander wiele, ’n blou en groen pypkar-agtige ryding. As jy nader staan, sien jy die plakker net agter die bestuurder se deur met twee voete en die woorde: “Pote volume control.” By ’n skelgeel Baja Bug staan die korterige Charles McGarry van Windhoek (selfs die Engelse ouens hier rond praat Engels met ’n Afrikaanse aksent) en die langer Francois Junius van Gochas. Hoewel niemand hier is om te verloor nie, kom jy gou agter dat die mense in hierdie yl bevolkte land Koës toe stroom ook vir die sosiale deel van die wedren. Of soos Francois opmerk: “Hier kry die wenner ’n strafdop.” Iewers in die kuipegebied staan ’n ryding wat onmoontlik is om mis te kyk. Die Ford F250-bakkie lyk of hy verlede maand nuut by die handelaar se voordeur uitgery het. Hy’t pasgemaakte treeplanke, beskermende aluminiumplate op die bakwerk, ’n groot daktent, bosbreker en ’n hele pakstelsel agterin. Die bande is reusagtige Goodyear Wrangler MT/R’s. Die eienaar, Delano Nel van Keetmanshoop, staan koeldrank in die hand nader. Ook hy dra ’n rugbybroekie. “Dis ’n 1972-model F250 Custom. Ek het hom vir R45 000 gekoop en toe nog amper R90 000 op hom gespandeer,” vertel hy trots. En dan kom die onafwendbare vraag: Hoe swaar is hy op sous? “Man ja, hy gee so 3 km op ’n liter,” sê hy en voeg dadelik by: “Maar dis drie lekker kilometers daai!” Manne in die omtrek het al lekker begin kuier en vra my uit oor my kamera. “Ja,” sê die een, “ou Kallie het nie vanjaar saamgekom nie, maar hy hou ook van foto’s neem. Hy neem net vroe’môre goeie foto’s. Later in die dag as hy al gekuier is, neem hy nie meer gesigte af nie. Dan is dit net boude en tieties.” Duiselig maar dapper Kort voor lank is dit tyd vir die briefing voor die groot wedren. Die manne staan nader. Oom Kiewiet de Villiers is die man in beheer, blou rugbybroekie en al. Hy’t begin as ’n padskraperdrywer en later, toe hy nie meer vir die regering gewerk het nie, het hy ou padskrapers gekoop en begin regmaak. Vandag skraap hy en sy een seun weer Namibië se grondpaaie, maar dié slag as kontrakteurs omdat hulle ervaring en kundigheid uiteindelik onontbeerlik was. Almal luister aandagtig na oom Kiewiet, wat strykdeur Afrikaans praat. Die vriende van die paar Duitse jaers wat nie Afrikaans so goed verstaan nie, tolk saggies vir hulle. “Maar wat van daai groot boom?” vra een jaer vir oom Kiewiet uit oor ’n moontlike gevaar op die roete. “Jong, so ’n groot boom is darem moeilik om mis te kyk.” Dom vraag. Die Koës Rally sal nie moontlik wees sonder die hulp van die talle vrywilligers nie. By ’n tafel net langs die wegspring/eindstreep sit Maronel Potgieter met haar babadogter, Sanél, en langs haar Charaine van Jaarsveld, wat trots vertel dat sy sekretaresse is van Oranjemund se Off-Road Club. Kort daarna begin die hoofwedren, wat bestaan uit vyf rondtes van 37 km elk. Daar is dele op die pan waar die manne flat taps jaag, afgewissel met meer tegniese dele in die sand en bo-oor duine. En doringbome, as jy agterna na die motorfietsjaers se arms en skouers kyk. Saam met my in die bakkie Koës toe was John Webb van Tulbagh. Ons het die Donderdagoggend sy motorfiets agterop die bakkie gelaai. Dit was nogal ’n haastige affêre met die hond wat sy rystewels verrinneweer het en rytoerusting wat in bondels agterin gegooi is. Hy sou ook vir my ’n soort gids wees, omdat hy die Koës Rally al ’n paar keer gery het en sy skoonfamilie in die Karasburg-distrik bly. Die motorfietse spring eerste weg, dan die quads en laastens die motors, bakkies en pypkarre. Toe die eerste motorfiets 25 minute later terug is, sien ons dis John. Hy’t vyfde weggespring en was reeds vier minute voor die tweede jaer. Uiteindelik wen hy die motorfietswedren loshande. Maar ons hoor eers agterna dat hy tydens die derde rondte in die stof in die stadiger quad van Marthinus Schoeman vasgery het voordat ’n ander quad, met Alwyn Jordaan Jr. bo-op, per ongeluk bo-oor hom gery het. ’n Duiselige John het hom¬self afgestof en uiteindelik die wedren gewen. ’n Mens kon sien hoekom hierdie voormalige jong wildbewaarder se bynaam Tau (Tswana vir “leeu”) is. ’n Ander gunsteling, Uwe Trümper, ’n professionele jagter en gasteplaaseienaar van Windhoek, het ook in die stof ’n quad getref en besluit om eerder die handdoek in te gooi en sy motorfiets te lap. Uwe het die Koës Rally al ’n paar keer gewen. Alwyn het self ’n opwindende wedren gehad, want toe hulle sy quad voor die kuipe volgemaak het, het petrol gemors en op sy uitlaatpyp geval. Die gevolg was ’n paar lekker groot vlamme met Alwyn wat baie vinnig eenkant toe gestaan het. Wonderbaarlik het die motorfiets amper niks oorgekom nie en het hy die wedren voltooi. Eenkant sit ’n jong man in ’n motorfietsbroek en ry-stewels by sy vriende. Op sy rug is twee engelvlerke getatoeëer. Ek neem aan dis nie beskermengelvlerke nie, want sy een arm is in ’n sling. “Dit was pure haastigheid,” beduie Arno Engels bier in die hand, “maar ek sit eerder hier met ’n af sleutelbeen in Koës as by die huis in Windhoek.” Laatmiddag, terwyl die son laag begin hang bo die Koës Hotel se kampeerterrein, is Rocco Strydom en Coenie Esterhuyse, albei van Keetmans, besig om aan Rocco se VW Kewer te werk. Die linkeragterwiel lê eenkant en hulle swaai bedrewe spanners. Die skokbreker is morsaf, maar die oefening word benader met dieselfde kalmte as waarmee jy ’n stukkie wors op die rooster sou omdraai. Ek vra Rocco hoeveel onderdele hy saamry in ’n wedren. “Man,” antwoord hy stadig en afgemete, “jy kan allerhande goed inpak, maar uiteindelik ry jy naderhand ’n ekstra kar saam – en jy gaan in elk geval nie meer die wedren kan wen nie. Jy moet eerder ’n ekstra coolbox inpak, want dan kan jy gouer ontspan en ietsie geniet.” Bl 3 | Tuinstoele in die stof Tuinstoele in die stof Die volgende oggend eet ons ontbyt in die hotel en vertel Bonsai ons “watse k*k ding ’n Land Rover is. Jy kan nie die ding naby jou slaapkamer parkeer nie, want jy sal heelnag nie ’n oog toemaak soos die ding staan en breek nie.” John onthou hoe ’n paar manne ’n paar jaar gelede doughnuts op die pan gaan gooi het met hulle bakkies. Hulle het om ’n braairooster in die pan ge-spin met ’n paar manne op tuinstoele agterop die bakkie. En toe rol die bakkie. Toe die stof gaan lê het, het die toeskouers tot hulle verbasing gesien dat die drie passasiers wat agterop gesit het, besig was om die bakkie op sy wiele te help kry. Hulle was almal relatief ongedeerd – behalwe die ou wie se een oor half af was. Later die oggend sien ek ’n man by die wiel van sy Uri-veldvoertuig. Dis Werdus Smith, seun van die legendariese Evert Smith, wat die Uri ontwerp het. Werdus boer in die Koës-distrik en is ook lid van die wildoesspan. Hy sê hulle oes tot duisend bokke per jaar waarvan die meeste uitgevoer word na Skandinawiese lande, waar wildsvleis baie gewild is. Die meeste bokke wat hulle nog op een aand geoes het, is 400. “Ek kan so 40 bokke op my Uri laai,” sê Evert trots. “Ek het hom nou net weer oorgedoen.” Sy Uri is gebou op die ou vastevooras-Hilux-onderstel en ’n nuwer 2.7 Hilux-petrolenjin, en is skoon mooi van die lelik. Later loop ons Evert raak waar hy saamry in een van sy nuutste skeppings. Dié pypkar is enig in sy soort, en het ’n ou Golf-enjin wat agterstevoor in die stert gemonteer is. Hy is ’n man van min woorde, maar gelukkig het sy seun my reeds vertel dat hy geen opleiding as ingenieur gehad het nie – hy’t die Uri sommerso “uit sy kop uit” op die plaas ontwikkel. Dit lyk my die suide van Namibië het ’n oormaat ingenieurs. Kort daarna begin ek gesels met oom Alwyn Jordaan, pa van Alwyn Jr. wat die vorige dag met sy quad bo-oor John gejaag het. Dis egter nie sommer enige quad nie. Dié een het die 600 cc-enjin van ’n Yamaha R6-motorfiets in en as Alwyn hom gas gee, klink dit soos ’n angle grinder wat ’n stuk staalplaat in twee sny. Oom Alwyn vertel dat sy seun die “kwat losgejaag het in ’n kompetisie wat Sarel van der Merwe gehou het”. Oom Alwyn is diep in die sewentig en sit onder ’n seilafdakkie, waarvandaan hy alles dophou. Blou is duidelik sy gunstelingkleur, want behalwe sy bruin Grasshoppers en bruin hoedjie dra hy ’n blou jean, blou two-tone kakiehemp en ’n sonbril met blou spieëllense – laasgenoemde identies aan Alwyn Jr. s’n. “Ek het dertig jaar vir die munisipaliteit op Windhoek gewerk. Toe ek loop, vat ek my geld en koop vir my ’n plaas by Stampriet. Jong, daar is so baie water daar dit loop eintlik by die grond uit,” vertel hy, en jy wonder of hy al ooit in die Okavango was. “Alwyn (sy seun) kan amper enige ding bou. Hy’t nou net ’n Land Cruiser langer gemaak dat hy 11 sitplekke het. Hy het die ding Maandag in Walvisbaai gaan verkoop aan mense om toeriste te vervoer. “Weet jy, ons drink nie een nie. Nie ’n druppel nie.” Hy begin duidelik opwarm. Dan rammel hy die een feit na die ander af: “Alwyn het ’n Nissan Patrool se enjin gevat en in ’n pypkar ingebou. Daai ding het volgens die GPS 116 km/h in die duine gedoen. Hy’t die enjin gekry van ’n Patrool wat in Mariental by die Nissan-garage onder die water beland het toe die Hardapdam ’n paar jaar gelede oorstroom het. “Nou, daai pypkar het so ’n halwe stuurwiel soos ’n aeroplane met ’n knop sodat Alwyn hom vinnig kan draai. Jong dis net só (dan beduie hy met sy hande) dan draai hy hom diékant toe en daaikant toe. En as hy stop, is die geweer reg en kan hy ’n ding plattrek sommerso bo-oor die halwe stuurwiel.” Toe ek wegloop, roep oom Alwyn agterna. “Jammer ek skree so, maar vir wie werk jy?” “WegRy, Oom.” “Ag jong, hoekom is hier nie koerantmense van Wind¬hoek hier nie?” sug hy. Dan gaan hy aan waar hy opgehou het: “Alwyn teken niks planne nie. Hy dink alles uit terwyl hy in die bed lê. En môreoggend as hy opstaan, dan bou hy hom só. “Ons het op ’n slag ’n Mini gebou. Alwyn wou ’n Chrysler Neon se enjin voor inbou, maar die ou Mini’s is heeltemal te smal. Toe sny hy hom in sy lengte middeldeur en maak hom breër sodat die enjin kan inpas. Jong, ons het hom eendag in Kaiserstrasse in Windhoek 200 km/h gestamp!” In ’n rooi-en-wit markiestent verkoop die Namibiese Vroueveeniging (NVV) kos. Hier is hotdogs met boerewors, boerewors in deeg op ’n sosatiestokkie, lasagne, en natuurlik jaffels. Dit proe of dit met dieselfde vleis as die boerewors gemaak is en hulle is duidelik nie skaam met die vleis nie. Alta Steyn vertel die vroue van die NVV verkoop elke jaar kos by die Koës Rally om geld in te samel vir die plaaslike privaatskool. Ek gaan sit op ’n bankie eenkant naby twee ouer tannies. Veraf hoor ’n mens hoe die bakkies, motorfietse en quads op en af jaag op die pan. “Hmm,” sê die een, “maar dit klink mos nou nes daai vuvuzela-goed van die Kaap.” Uiteindelik kom ek uit by Danie Retief van Keetmanshoop om te hoor hoe die byeenkoms ontstaan het. Sy pa is Koos Retief, een van die Koës Rally se stigterslede. “My pa en Jan Tyres, die skoolhoof, het in 1985 gestry oor wie die beste bakkie gehad het. Jan Tyres het ’n Land Rover-bak op ’n Land Cruiser-onderstel en -enjin gehad en my pa ’n Land Cruiser. “Toe besluit hulle om teen mekaar op die pan te jaag en duine te klim. Oom Evert Smith en een van die dorp se poeliesmanne in ’n Land Rover het ook saamgejaag. “My pa het gewen en die gogga het hom gebyt. Hy het toe help seker maak dat die ding aangegaan het. Die poeliesman het laaste gekom, toe gee hulle vir hom die beker. Ek hou die rekord vir die meeste rolle by die Koës Rally – drie.” Later die dag kry die manne met gewone bakkies ook kans om teen mekaar mee te ding. Dis wat die Koës Rally so uniek maak. Jy kan na verskeie wedrenne kyk en die Saterdag self in jou bakkie klim en deelneem aan die drag race op die pan. Jong manne, ou manne en gesinne neem deel en dis die ideale geleentheid om vir eens en altyd te kyk of jou Isuzu jou pêl se Ford kan wegry. Geluk by die ongeluk Saterdagmiddag laat is dit tyd vir die Mini Rally, ’n wedren waarin verskillende klasse ’n wedren van vier rondtes van sowat 3 km jaag. Elke rondte bestaan uit duine, sandkolle en, natuurlik, oopketel op die pan. Die skare op die duine is iets om te aanskou. Mense van die dorp en mense van die township – die hele gemeenskap ondersteun die Koës Rally. Party staan op bakkies, party sit op tuinstoele en ander staan sommerso op die duine. Terwyl ons nog so op die duin staan en kyk hoe die motorfietse ry, tree die noodlot in … John, wat soos ’n besetene gejaag het in die ope klas vir motorfietse, is amper 10 sekondes voor Uwe Trümper. Die mense praat nog oor hoe “mooi hy ry” toe die skare daai kenmerkende kombinasie van gil en sug maak toe John soos ’n vrot vel deur die lug trek, die grond gat oor kop tref en bewegingloos bly lê. Beamptes staak die wedren en kort voor lank jaag Alwyn met ’n malle vaart op sy quad nader. Dit blyk toe dat Alwyn nie net vinnige rygoed kan bou nie, maar ook ’n opgeleide paramedikus is. John haal nie asem nie, en Alwyn haal sy valhelm af om sy lugweg oop te kry. Ná ’n ruk herwin hy sy bewussyn. Ons laai hom versigtig op ’n draagbaar en vat hom na Koës se kliniek. Soveel mense bied hulp aan. Kosie van Niekerk, ’n bekende boer van Porterville en jagmaat van John se pa, reël dat ’n vriend John agterin sy Prado na Keetmanshoop se hospitaal vat. Intussen bel ek John se pa, Dicky, in Tulbagh. Ek bly in Koës agter en slaan met ’n swaar hart sy tent op en pak sy besittings weg. Laat die aand SMS John se pa my. John is oukei. Soort van. En hy slaap by mense in Keetmans. Danie Coffee, die man met die Jägermeister Patrol, het die vorige dag teruggery Keetmanshoop toe omdat daar probleme met sy beeste was. Daar hoor hy toe John is in die hospitaal. Nadat hulle besluit het sy rug en nek is in orde en hy’t nie inwendige beserings nie, het Danie hom na sy huis gevat sodat hy die nag daar kon slaap. Die volgende oggend  groet ek Bonsai in die Koës Hotel en val in die pad Keetmanshoop toe. Danie bly in die buitewyke van Keetmanshoop in ’n gebou wat tegelyk skuur, motorhuis, pakhuis en huis is. Voorop staan geskryf: “GL Metal Scrapyard – Skroot is Brood.” In die huisdeel agter pryk Danie se kroeg met al die Blou Bul-memorabilia waaraan jy kan dink – blou knaters, vlae, truie en bekers. Ook John lyk of hy die vorige dag én nag manalleen teen die Blou Bulle se voorry geskrum het. Toe help ek John “Tau” Webb, wenner van 2010 se Koës Rally se ope motorfietsklas, in die bakkie en ons groet. Op pad terug dink ek aan die vorige twee dae. Die opwinding, die pret en die skrik. En die ironie. Dat Danie Coffee, die eerste deelnemer wat ons op Koës raakgeloop het, die laaste ou was wat ons gegroet het voordat ons huis toe is. Dat Alwyn Jordaan Jr., die man wat Vrydag oor John gery het, sy lewe die volgende dag gered het. Nes ’n Mad Max-fliek is die Koës Rally opwindend, vermaaklik en soms vreesaanjaend. En hoewel dit nie ’n 2-18-ouderdomsbeperking verdien nie, word sensitiewe kykers wel gewaarsku.