Van hier kan jy op ’n goeie dag tot in die Kruger-wildtuin kyk. Al kom meeste mense vir die uitsig, is dit nie al wat die kontrei bied nie. Hierdie is waterval-wêreld.

’n Mens vergeet maklik die eskarp hier vorm nog deel van die Drakensberg, en met ’n hoë somerreënval – tot 190 mm per maand – gaan jy nie lank hoef te soek om van die beste watervalle op die platorand op te spoor nie.

1. Horseshoe-waterval

Links vanaf die Ou Lydenburgpad (S25.130652, E30.694662) en langs ’n kort wandelpaadjie sal jy die Horseshoe-waterval kry. Die kontrei is ook forelwêreld en die Sabierivier se boloop en sytakke wemel van die vis.  

Horseshoe-waterval. Foto: Francois Haasbroek

2. Lone Creek-waterval

Die Lone Creek-waterval is ’n nasionale gedenkwaardigheid en is aan die einde van die Ou Lydenburgpad, omtrent 8 km buite Sabie. Dis die hoogste van die watervalle op hierdie roete  – 68 m en 3 m hoër as die Mac-Mac-waterval – maar omdat dit ver van die hooftoeristeroete is, kry dit heelwat minder voete. 

Die waterval is sowat 200 m se stap van die parkeerterrein (S25.102804 E30.710597) af. Die voetpad is geplavei, maar neem kennis: Dit kan nogal glad raak en is nie rolstoelvriendelik nie. Hier is ook ’n piekniekterrein.

Lone Creek-waterval. Foto: Francois Haasbroek

3. Mac-Mac-waterval

Die bekendste van al die watervalle in Mpumalanga is die Mac-Mac-waterval (S25.000384 E30.816081), 15 km buite Sabie, in Graskop se rigting. Van die dek af kan jy kyk hoe die Mac-Macrivier 65 m oor die afgrond stort. Die rivier het sy naam van pres. Thomas Burgers gekry – hy dit só genoem omdat hier so baie Skotte was wat in die rivier vir goud gepan het.

Mac Mac-waterval. Foto: Martijn Barendse

4. Sabie-waterval

    Die Sabie-waterval is dalk een van die kleinste watervalle hier rond, maar dis knap buite die dorp en dus die maklikste bereikbaar. Volg die R532 uit die dorp in Graskop se rigting en draai net ná die brug oor die Sabierivier links af na die parkeerterrein (S25.087866 E30.778635). Van hier af kan jy onderdeur die brug na die waterval stap. 

    Sabie-water. Foto: Francois Haasbroek

    5. The Pinnacle-waterval

    The Pinnacle-uitkykpunt (S24.912004, E30.854652) is bekend vir sy massiewe rotsvinger van 30 m hoog, maar die waterval is self nie te versmaai nie. Die voetpaadjie vat jou binne ‘n kwartier oor die stroom wat die waterval voed, na die huewel regs van die waterval. 

    The Pinnacle-waterval. Foto: Francois Haasbroek

    6. Lisbon-waterval

    Lisbon-waterval (94 m), sowat 6 km suid van The Pinnacle (S24.862327, E30.836949), is die Berlyn-waterval (sien hier onder) se langer, maerder broer. Die waterval is vernoem na Portugal se hoofstad, wat ook die naam van ’n plaas in die omgewing is.

    Lisbon-waterval. Foto: Francois Haasbroek

    7. Berlyn-waterval

    Die uitkykpunt van Berlyn-waterval, sowat 17 km noordwes van The Pinnacle-uitkykpunt (S24.843713, E30.842823), is teenaan waar die water oor die krans val, en ‘n mens sukkel om tot onder te sien. 

    Berlyn-waterval. Foto: Francois Haasbroek